Alex Forbes betaal spesiale dividend
Aandeelhouers van Alexander Forbes het rede om te glimlag ná die uitkering van 'n spesiale dividend.
Alexander Forbes het sy belang van 60% in die aktuariële konsultant Lane Clark & Peacock (LCP), wat in Brittanje sake doen, vir £75,4 miljoen verkoop. Die wins word as 'n spesiale dividend van 23c per aandeel uitgekeer vir die boekjaar wat op 31 Maart vanjaar geëindig het.
Tesame met 'n tussentydse dividend van 17c per aandeel, neem dit die groep se totale dividendbetaling vir die jaar tot 63c per aandeel. Dit is 70% hoër as die vorige boekjaar se 37c.
Alexander Forbes, wat in 2014 na die JSE teruggekeer het nadat hy in 2007 gedenoteer het, se bedryfswins het in die afgelope boekjaar met 3% tot R933 miljoen gestyg. Die wins van R1,574 miljard sluit ook die wins uit die verkoopstransaksie van LCP in.
As dié transaksie uitgesluit word, het die wesensverdienste in werklikheid met 8% tot R683 miljoen gedaal.
“Die daling in wesensverdienste is die gevolg van 'n vermindering in verdienste uit die gestaakte bedrywighede van LCP. Dit was vir net agt maande in die boekjaar onder oorsig ingesluit,” lui die groep se verklaring op Sens.
Alexander Forbes is in sewe afdelings verdeel. Hiervan het die afdeling vir raadgewing aan instellings en die afdeling vir individuele welvaart- en beleggingsdienste elk sowat 23% van die groep se bedryfsinkomste bygedra. Dit is gevolg deur 'n bydrae van 19% deur sy eenheid vir pensioenfondsbeleggings en kleinhandelversekering wat 14% bygedra het. Sy aftree-afdeling het 7% bygedra en ontluikende markte was verantwoordelik vir 2% van die bedryfsinkomste.
Die raadgewende afdeling het 'n daling van 7% in die aantal aktiewe lede beleef toe 'n groot pensioenfonds besluit het om sy administrasie self oor te neem. Dié afdeling huisves ook Alexander Forbes se gesondheidsorgafdeling, wat 'n staatsdienskliënt verloor het.
Die afdeling vir welvaart en beleggings het sy bates onder bestuur met 4% tot R64,7 miljard verhoog.
Die bedryfsomgewing waarin die finansiële sektor sake doen, bly uitdagend en dit word in die groep se resultate vir die boekjaar weerspieël, sê Andrew Darfoor, uitvoerende hoof van Alexander Forbes.
“Faktore soos Brexit, die Amerikaanse presidentsverkiesing en pres. Donald Trump se ekonomiese beleid het 'n negatiewe uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie. Selfs deurslaggewender is die feit dat Suid-Afrika in 'n toestand van oorgang bly, met voortslepende onsekerheid oor die land se makro-ekonomiese vooruitsigte.”
Die finansiëledienstesektor en Alexander Forbes se sakemodel bly “akuut sensitief” vir hierdie makro-ekonomiese faktore.
Darfoor sê die politieke en ekonomiese woelinge wat dit skep, dra by tot 'n baie moeilike handelsomgewing. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie