Alexia se operasie 'n sukses
Alexia se operasie 'n sukses

Alexia se operasie 'n sukses

Dit gaan goed met die driejarige meisie wat verlede Woensdag in 'n park in die kop gewond is en eergister onder die mes was.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Klein Alexia Keil (3) se operasie op 22 Maart was suksesvol.

’n Stuk koeël is eergister tydens ‘n operasie van drie ure in Windhoek se Mediclinic uit haar kop verwyder nadat sy op 15 Maart in die Bwabwata Nasionale Park na bewering deur weermaglede van die teenstropery-eenheid raakgeskiet is.

Die mediese span moes ’n week lank wag dat die swelling op Alexia se brein sak voor hulle kon opereer om die stuk koeël, wat 2 cm diep in haar voorkop was, te verwyder.

Volgens ’n vriend van die Keil-familie was die operasie ’n reusesukses. ’n Spesialis uit Suid-Afrika het die mediese span bygestaan. Alexia se hare is aan die regterkant van haar kop vir die operasie afgeskeer.

Toe Alexia ná die operasie wakker word, het sy begin praat en het later iets geëet. Sy het 'n groot pleister op haar voorkop. Die familie wag in spanning op haar volkome herstel.

Namibiërs het in spanning op Alexia se operasie gewag terwyl hulle haar in hul gebede opgedra het.

Sy was verlede Woensdag op 'n wildbesigtigingsrit in die Bwabwata Nasionale Park in die noordooste van die land saam met haar pa Harald, ma Teresa en sussie Caitlyn (2), toe hulle na bewering deur 'n groep gewapende weermagsoldate van die teenstropery-eenheid in uniform en siviele drag gestop is. Harald sê hy het bedreig gevoel toe die groep mans nie hul identifikasie wou toon nie en hulle die voertuig se deure begin oopruk het. Hy het vir sy familie se veiligheid gevrees en weggejaag. Daar is op hul wit Toyota Fortuner geskiet en Alexia is getref.

'n Saak van poging tot moord word deur die polisie ondersoek.

’n Woordvoerder van die ministerie van verdediging het bevestig dat net weermaglede ten tyde van die voorval op patrollie in die park was. Die ministerie het sedertdien geen verklaring uitgereik of kommentaar gelewer nie. Dié ministerie asook die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het gesê sy ministerie kan geen kommentaar lewer alvorens 'n amptelike verslag ontvang is nie.

"Die ministerie kan slegs 'n verklaring uitreik nadat 'n amptelike verslag van ons amptenare en die Namibiese polisie ontvang is," het Shifeta gesê.

Die teenstropery-eenheid in Bwabwata Nasionale Park bestaan uit lede van die ministerie, die Namibiese polisie en die weermag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!