Algeriese president bedank
Algeriese president bedank

Algeriese president bedank

Pres. Abdelaziz Bouteflika van Algerië het ná weke van betogings teen sy bewind van twee dekades as president van dié land bedank.

Al Jazeera berig Bouteflika (82) se bedanking kom nadat lt.genl. Ahmed Gaid Salah, personeelhoof van die Algeriese weermag, volgens die nuusagentskap APS aangedring het op “dringende prosedures” om hom ingevolge die grondwet uit sy amp te verwyder.

Volgens die BBC het Bouteflika ses jaar gelede ’n beroerte gehad en word hy sedertdien min in die openbaar gesien.

“Ons kan nie bekostig om verdere tyd te mors nie,” het Salah aan APS gesê.

Bouteflika het aangebied om aan die ende van sy ampstermyn op 28 April te bedank, maar betogers was nie daarvoor te vinde nie.

Duisende Algeryne het in Maart die strate van Algiers en stede soos Constantine, Annaba, Skikda, Bouira en Tizi Ouzou ingevaar om hul stem dik gemaak teen Bouteflika se bewind – die grootste betoging wat dié land in die afgelope 28 jaar beleef het.

Die massabetoging was relatief vreedsaam, maar die polisie moes by tye traanrook gebruik om die skares uiteen te jaag en het die pad na die presidensiële paleis gesluit.

PRESIDENT VOOR KEUSE GESTEL

Algeryne is ontevrede oor korrupsie wat die ekonomie verswak en die hoë vlakke van werkloosheid.

The Arab Weekly het vroeër berig dat Algeriese staatsaanklaers die opdrag gegee het dat beslag gelê moet word op die paspoorte van sewe sakemanne wat met moontlike korrupsie verbind word. Dit sluit in die prominente sakeman Ali Haddad, wat deel van Bouteflika se binnekring was.

Volgens Ennahar TV is Bouteflika voor die keuse gestel om ingevolge artikel 102 van Algerië se grondwet te bedank, of om ongeskik vir sy amp verklaar te word.

Noureddine Bedoui, Algerië se eerste minister, sal die tussentydse regering bestuur. Salah behou sy huidige posisie in die interim administrasie.

Volgens Al Jazeera is Bouteflika se bedanking aanduidend van die weermag se invloed in Algerië. Betogers dring egter ook aan dat die weermag se rol in die nuwe politieke bedeling hersien word.

Bouteflika se lang termyn as leier is gekenmerk deur die oorheersing van oorlogsveterane afkomstig uit die oorlog vir onafhanklikheid teen Frankryk tussen 1954 en 1962. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer