All Black-botsing, in hul eie woorde

Nieu-Seeland het uiteindelik wel sy volpunte gekry, maar eers ná 'n hengse gestoei teen Namibië se inklimvertoning.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Vir die volgende Wêreldbeker-siklus totdat die 2023-toernooi in Frankryk aanbreek, het die Namibiese rugbyspan gister 'n sterk saak uitgemaak dat hy meer gereelde blootstelling teen die sport se vlak 1-nasies verdien.

Die Wêreldbeker-houers Nieu-Seeland se sege met 71-9 teen Namibië gister in die Tokio-stadion was tot 'n groot mate voorspelbaar. Ondanks Johan Deysel-hulle se magtige inspanning in die eerste helfte, veral om ná 'n halfuur met net 10-9 agter te wees, het die All Blacks algaande hul hoër ratte gevind vir die skou­spelagtige soort rugby waartoe hulle in staat is.

Min waarnemers sal daaroor kan stry dat elkeen van die Namibiërs sy honderd persent gegee het – selfs die mees onervare nuwelinge.

Die 21-jarige Prince !Gaoseb, met net twee vorige toetse agter sy naam waarvan een in die beginspan was, het die afwesigheid van Wian Conradie en Max Katjijeko totaal verbloem met 'n werktempo wat vir niemand teruggestaan het nie.

Die klipharde !Gaoseb se 21 duikslae (uit 25, 80 minute) was loshande die meeste van enigiemand op die veld, met sy flankmaat Thomasau Forbes (17 duikslae uit 19, 61 minute) en Justin Newman (16 uit 18, 80 minute) wat óók voor die All Blacks se mees produktiewe duikvatter (flank Shannon Frizell, 14 uit 15) geëindig het.



FYNER DETAIL

Buitesenter Justin Newman is agterna deur die toernooi se media uitgevra oor die ervaring om teen Nieu-Seeland te speel.

“Ek sou verkies om elke naweek teen vlak 1-nasies te speel. Dit sal Namibiese rugby nog spoediger laat verbeter. Die fyn details wat jy leer deur teen hulle te speel, tel 'n mens nie tuis op nie – soos hoe diep of vlak om stelling in te neem.

“Jy besef jou opponente is net menslik. Ons moet hierdie geleent­hede aangryp.

“Vir my persoonlik was die moeilikste opponent my direkte teenstander, Jack Goodhue. Hy het my agterna gesê hulle het nie verwag dat ons met so 'n knal uit die blokke sou kom nie.”

Die haker Torsten van Jaarsveld was uiters prominent en het sy klas gewys deur ses balle op die grond te steel, benewens sy nege duikslae en sy rol in die doeltreffendheid van die ­Namibiese lynstane (12 uit 15 gewen).

Van Jaarsveld is al tevore as haker vir die Pro14-reeks se droomspan aangewys, maar het sy vermoëns as professionele speler opnuut op die voorgrond geplaas.

Op die vraag oor hoe fisiek die stryd was, het die Bayonne-haker gesê: “Ek voel dit aan my lyf ... ek moet erken. Oor die jare het ek teen die Crusaders, die Chiefs en die Hurricanes gespeel en jy raak gewoond daaraan; jy weet wat kom. Jy besef die ouens is nie bomenslik nie.”

“Hulle is 'n uitstekende, wêreldklas span met vaardigheid, fiksheid, spoed. Ongelukkig kon ons in die tweede helfte nie meer bybly nie.

“Die haka is deel van hul kultuur, maar dit motiveer ouens soos ons nog meer. Ons het vooraf geweet ons moet dit vir hulle so moeilik as moontlik maak en ek moes heeltyd op die grenslyn speel om hul besit op die grond stadig te maak. Ons ouens het hul lywe op die spel geplaas.

Wat sou Namibië se amateurspelers uit so 'n wedstryd geleer het?

Van Jaarsveld: “Ons ouens besef nie hoe goed hulle is nie. Namibië het werklike talent. Die ouens het groot harte en groot knaters. Uiteindelik kort hulle net die selfvertroue.

“Selfs teen Nieu-Seeland is dit vyftien teen vyftien. Sommige spanne het meer spoed of vaardigheid of fiksheid, maar waar hierdie ouens vandaan kom wat in Namibië speel – wat elke dag agt-tot-vyf werk en net soggens en saans kan oefen – ek het groot respek vir hulle.

“'n Groot een vir my is AJ de Klerk, die vaskopstut, wat naby Mariental boer. Vandag was maar sy tweede ­beginwedstryd by 'n Wêreldbeker. Daar was groot druk op hom, maar soos vir al die amateurs is hierdie vertoning een wat hulle vir altyd sal onthou.”



BEPERK JOU FOUTE

Janco Venter, die agtsteman, het Newman se siening gedeel.

“Ek sal liewer elke week teen die All Blacks speel as om teen enige van ons Afrika-opposisie te speel en met 80 punte te wen. Só sal jy elke week beter word, want ons sal aanhou leer en verbeter.

“Dit is iets wat Namibië as 'n land nodig het. Ons moet meer gereeld teen groter lande speel. Dit is wat Japan gedoen het en kyk waar staan hulle span nou.”

Watter spesifieke lesse het Venter geleer uit sy twee ontmoetings met Nieu-Seeland, gister en in Engeland 2015?

“Jy moenie enige foute maak nie, want die All Blacks sal vir seker daaruit munt slaan. As jy besit afstaan, is hulle soos blits om die bal agter jou doellyn te kry.”

Venter sê hy sien uit om met 'n goeie spelpeil terug te keer na Jersey Reds, sy klub wat tans vierde in die Engelse eerste liga is.



SKAKELPAAR

Die koelkop vertonings van die Namibiese skakelpaar, Damian Stevens en Helarius Kisting, het vriend en vyand verbaas.

Met Stevens se drie treffer-strafdoele het hy die afwesige Cliven Loubser se skoene netjies volgestaan. Hy het agterna gesê: “Ná die eerste een wou ek die hele dag pale toe skop, want dit het rêrig wonderlik gevoel. Dit was nogal lekker om met 'n honderd persent skoprekord teen die All Blacks van die veld te stap.”

Die persoonlike ontmoetings met die Nieu-Seelandse sterre in laasgenoemde se kleedkamer agterna was onvergeetlik.

“Ons het net gesels en truie uitgeruil. Hulle is goeie, nederige ouens, maklik om mee te gesels. Aaron (Smith) het gesê hy was verbaas deur my benadering tot die spel en hoe ek teen hom gespeel het. Dit was 'n groot voorreg om teen die wêreld se beste skrum­skakel te speel.”

• Vir die veelsydige Helarius Kisting was dit sy elfde toets, maar eerste as nr. 10 in die beginspan, ná agt ver­skynings van die bank af as heelagter, skrumskakel of losskakel.

Kisting se hardnekkige duikslag in die 78ste minuut om so byna TJ Penerara op die hoekvlag van 'n drie te weerhou, was gewis een van die wedstryd se mees aanskoulike oomblikke.

Kisting het egter op die aanval ook twee maal deur die Kiwi's se verdedigingslyn gebreek. “Ek het net oë toegeknyp en gehardloop. Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, maar sulke geleenthede kry jy waarskynlik net een keer in jou lewe en jy moet dit aangryp. Ons het niks gehad om te verloor nie en dis hoe ons gespeel het.”

• Perenara het agterna gesê: “Namibië het rêrig goed gespeel. Met die bal in die hand was hulle skerp; hulle het rêrig goed verdedig, hulle was aggressief by die afbreekpunte en het 'n paar strafskoppe daar afgedwing. Hulle het vir hulself vinnige losballe geskep en hulle verdien baie lof.”

Vir sy drie, met 'n blitslopie nadat Brad Weber hom met 'n aangee agter sy rug weggestuur het, het Perenara dadelik geweet dat hy die bal geplant het . . . “om eerlik te wees, ek het net gedink my voet was eers oor die kantlyn geduik. Die nommer 10 het 'n baie goeie duikslag uitgevoer.”

• Die Kiwi's se stewig geboude binnesenter Anton Lienert-Brown is agterna as speler van die wedstryd aangewys, ná sy twee drieë.

“Ek is goed lyfseer. Ons moes individueel diep grawe het in die eerste helfte 'n behoorlike skok gekry. Gee krediet aan Namibië, hulle het waarlik opgedaag. Dit het rustyd 'n paar skoppe onder die agterente gekos om ons ingesteldheid reg te kry.

“Namibië het deur ons gehardloop en ons was passief. Ons het geweet hulle sou opdaag, maar aanvanklik was ons nie daar nie.”



AFRIGTERS VERDUIDELIK

Steve Hansen het presies geweet hoekom sy All Blacks so traag begin het.

“Die kort omdraai (vier dae ná hul vorige wedstryd teen Kanada) het uit 'n fisieke oogpunt beteken ons het net twee sagte oefensessies gehad – so dit gebeur maklik dat jy nie met die regte ingesteldheid opdaag nie. Dit is een van die grootste uitdagings in sport.

“Teen opposisie wat jy weet jy behoort te klop, kan spelers, afrigters en die bestuur 'n bietjie verlore raak in die voorbereiding van hul denkwyse. Dit is nie 'n groot kwessie nie, maar wel 'n herinnering dat jou kop aangeskroef moet wees as jy wil presteer soos jy wil presteer.”

Wat het Hansen rustyd gesê?

“Ons moes seker maak die koppe is op die regte plek. Baldraers moet voluit gaan en ons moet balbesit behou.”

Hansen het simpatie gehad met sy twee stutte wat beide as duikvatters geel kaarte vir die gebruik van stywe arms teen die nek gekry het. In beide gevalle was die Namibiese baldraers reeds in 'n lae liggaamshouding met hul gesigte na onder.

“Die kaarte was geregverdig, maar dis moeilik in die oomblik wanneer jy jou reeds tot 'n duikvat verbind het. Die owerhede wil hê ons moet die spel skoon hou, maar omstandighede gebeur waarin (sulke kontak) soms onvermydelik is.”

• Namibië se Phil Davies sê die span het die afgelope vier jaar geweldig gegroei.

“Nieu-Seeland het meer punte aangeteken as die vorige keer (in 2015 in Londen, 58-14), maar met 'n veel jonger span het ons hierdie keer veel meer georganiseerder rugby gespeel. Ons het dus verbeter.”

Davies wou min verklap oor die stand van beserings, maar na verwagting sal daar vanaf vandag lig gewerp kan word op die erns van die beserings en ongemak waarmee onder andere Johan Deysel (skouer), PJ van Lill, JC Greyling en Thomasau Forbes die veld verlaat het.

“Ek het al tevore gesien dat ons erger getref was ná 'n wedstryd. Ons is lyfseer, maar nie geknak of te erg beskadig nie.

“Dit was fantasties om te sien hoe die spelers op die veld toepas waarop ons vooraf besluit het. Hulle verdien vandag al die lof en dan beweeg ons aan na ons een wedstryd wat oorbly (komende Sondag teen Kanada).”

– Bygewerk van rugbyworldcup.com

• Besoek https://rwc.my.na om op die hoogte van die toernooi se nuus, tellings en puntestand te bly.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!