Allan raap eerste punte op

Die tydren met nege spesiale sneldele (SS'e) oor 136 kilometer was rof en vinnig.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Walvisbaai-motorklub (WBMK) se 2020 Shell V-Powertydren was soos altyd ’n dawerende sukses vir beide jaers en motorsportgeesdrigtiges.

Allan Martin en sy navigator Maretha Olivier (J&P Hydraulics 4x4 Skoda R5) het die S4-klas opgeraap en het ook as die algehele wenners van die sedan-afdeling na vore getree.

Wilro Dippenaar met navigator Carolyn Swan en Martin spog ná twee rondes van die nasionale kampioenskap elk met twee oorwinnings. Die kompetisie tussen Dippenaar (Shell V-Power 4x4 Toyota Auris S2000) en Martin was weereens ’n hoogtepunt.

Martin palm ses van die nege spesiale sneldele in om die 136 km in 58 minute 31 sekondes te voltooi. Hy staan twee trajekte aan Dippenaar af en deel die laaste trajek met hom. Martin klop Dippenaar met 2 minute 16 sekondes, terwyl Zachary Martin junior 2:27 ná Dippenaar inklok.

Zachary, met Mandi Hugo langs hom in Groenmamba, het opnuut seker gemaak die meer gesoute jaers neem deeglik kennis van sy talent. Martin junior se algehele derde plek met sy S3-klas J&P Hydraulics 4x4 VW Polo S2000 is glad nie te versmaai nie.

In die CR-klas vir bakkies en dergelike V8 4x4-monsters het Bertie Smit en navigator Dewald Venter met hul BSCS V8 4x2 Mazda-bakkie hul tweede oorwinning vir die seisoen aangeteken. Die broers Stefan en Lappies Labuschage (Gobabis Truck & Tractor V8 4x4 Land Rover) was vir die tweede opeenvolgende byeenkoms in die tweede posisie.

Allan Martin, as voorsitter van die WBMK, vertel die opwindende tydren was rof en baie vinnig.

“Waar ons gewoonlik 20 inskrywings vir dié tydren kry, het ons net 16 gehad. Die Gobabis-tydren was skaars ’n maand gelede en ek dink al die spanne kon nie betyds hul voertuie vir Walvisbaai herstel nie.

“Die weer was lekker met toegetrekte mis toe ons 10:00 weggespring het. Die tydren was ongelooflik vinnig. Van die karre het meer tyd in die lug deurgebring as ’n vlieënier wat sy vliegure probeer opstoot!

“Die mededinging tussen my en Wilro was van die begin af straf. Ek is nou meer in voeling met die Skoda en begin sy geite verstaan. Ek het al begin dink ek sal nooit sy streke bemeester nie, maar sake het vlot verloop en ek kon Wilro gereeld met ’n paar sekondes troef.

“Tydrenne gaan nie net oor wen nie, maar ook om die byeenkoms suksesvol te voltooi. Wilro het in SS7 die Auris se uitlaatstel beskadig en sy enjin het begin mis. Hy het ook met ’n pap band gesukkel. Zachary het amper in SS2 probleme opgetel toe die Polo se ‘dipstick’ uitspring en begin het om olie te verloor.

“Gelukkig is niks beskadig nie en Zachary kon in die derde plek eindig. Net twee spanne kon nie die byeenkoms voltooi nie. Beide Oswaldo Mendes (S4 4x4 Mitsubishi Evo) en Jan Everson (S2 4x2 VW Polo) moes weens enjinprobleme halt roep.

“Die toeskouers was eenvoudig fantasties en het gewys mense by die kus geniet hul motorsport terdeë,” het Martin aan Republikein vertel.

Die uitslae:

Algeheel: 1 A. Martin/M. Olivier (58:31), 2 W. Dippenaar/C. Swan (1:00:47), 3 Z. Martin/M. Hugo (1:03:14), 4 Paul Oosthuizen/Johan du Plessis (1:14:34), 5 Pieter Greeff/JP Robinson (1:14:52), 6 Gino Meyer/Riaan Hennop (1:15:58), Etienne van der Heever/Willy van Wyk (1:18:36), 7 Tinus Malan/Isak Coetzee (1:28:45).

S4-klas: 1 A. Martin/M. Olivier, 2 W. Dippenaar/C. Swan, T. Malan/I. Coetzee.

S3-klas: 1 Z. Martin/M. Hugo.

S1-klas: 1 P. Oosthuizen/J. du Plessis, 2 P. Greeff/JP Robinson, 4 G. Meyer/R. Hennop, E. vamn der Heever/W. van Wyk.

Veldvoertuie algeheel: 1 Smith/D. Venter (1ste CR1-klas, 1:11:53), 2 S. Labuschagne/L. Labuschagne (1ste CR2, 1:15:10), 3 Kai Pretorius/Katja Pretorius (2de CR1, 1:16:34), 4 Dirk Redman/Flippie Liebenberg (2de CR2, 1:18:40), 5 Wido Bartch/Raymond Fourie (3de CR1, 1:19:04), 6 Jacques Kruger/Roche Louw (4de CR1, 1:19:27).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!