Allawragtag, maar die winter bu00fdt!
Allawragtag, maar die winter bu00fdt!

Allawragtag, maar die winter být!

[email protected]
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Mare Duddy – Ek onthou dit soos gister. Die dag toe ek jou gaan haal het.

Dit was in ‘n parkeerarea by ‘n winkelsentrum. Die boer van Gobabis het ‘n piepklein, warm bondeltjie in my arms gesit. Jou nat neusie en kleinhondjie-asem het dadelik nesgeskop.

En ek het onwrikbaar geweet: My hart is vir ewig joune.

Dit was meer as 12 jaar terug. Sommer nou die dag en tog voel dit asof jy nog áltyd deel van my was.

Opreggeteel was jy nie. Dit was ons ding om te sê jy’s half Boston-terriër, half Brahman-bul. Volbloedhond was jy: Vól hart, vól gees, propvol liefde. Perfekte maat vir ons laatlambulletjie.

Jy’s spesiaal gekies lánk voor Boston-terriërs in die mode was. In die dae toe kleinadvertensies nog in koerante gebult het en daar kolomme was waar troeteldiere gesmous is.

Jy’t nie ‘n plaas se prys gekos nie; die wyse man uit die Ooste wou net ‘n goeie huis vir jou gehad het. Min het hy geweet: By jou het óns ‘n goeie huis gevind.

Jou slim kop het vir jou naam gesorg: Albert. Soos in Einstein.

Maar met jou adellike nek en fors houding kon dit net sowel prins Albert gewees het. Of komediant Albert Brooks. Want háns hanswors kon jy wees.

Ook filosoof Albert Camus. As daai allabaster-oë van jou so in die niet in gestaar het, het dit gevoel jy’t antwoorde op vrae wat nimmer durf gevra te word. Ons kon jou ook na die blues-koning Albert King vernoem het. Want niemand kon soos jy die melankolie in my kom uitsnuffel en dit salf nie.

Ons het ons aan jou verwonder. Vandaar dat “Albert” vinnig in “Alla” verander het – soos in allawêreld! Allamapstieks! En allawragtag!

Byname was daar vele.

Soos Allakies-ballakies-Boois. Oor daai twee okkerneute wat so hardegat onder jou kort stertjie uitgeloer het. Die wikkel-wikkelstertjie wat jou hele lyf van blydskap laat bewe het as ons by die huis kom – of ons nou vir tien minute of tien dae weg was. Wie’t gesê die stert kon nie die hond swaai nie?

Alliepatats of Allapatatta het ook jou ore laat spits. Waarskynlik omdat jy jou knoeiwerk soos ‘n warm patat gelos het, mits ek jou betyds betrap het. Vandaan seker ook Allabaps – oor ál jou blapse.

Albert Booysen!, was dit as ek my stem moes dik maak. Soos toe jy onlangs ‘n allamintige gat in die kussing van die sitkamerbank gegrawe het en jou teen die winterkoue daar ingewurm het.

Praat, veral terugpraat, kón jy. Van kindsbeen af. Méér as die deesdae tienerseun wat jy so mooi help grootmaak het.

Tot ‘n paar dae terug in hierdie uitgerekte “winter of our discontent”. Toe die laaste korreltjies van die onsigbare uurglas se sand waarin jy so graag jou bene begrawe het, leegloop.

En jy ons all(a)een laat.

Ons verstaan nie, Albert. Maar klein Brian doen. Want ek verduidelik vir hom dat Alla nou ‘n engeltjie by Liewe Jesus in die hemel is.

Ek hou daarvan om só aan jou te dink. As ‘n mollige gerubyn met vlerkies soos daai in vanmelewe se skilderye. Dis oulik; dit pas by jou, koddige ménshond.

Daar’s ‘n gat in ons siel. Maar ons harte sal immer heel bly van jou liefde.

Jy was ons Allas, dankie dierbare vriend, vertroueling, bond- én sielsgenoot.

Mag jy sag rus onder die allamatige vlerk van die Skepper.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!