Alle oë op biomassabedryf, ekspo

N-BiG bou vanjaar voort op die sukses van 2018 se ekspo, wat selfs die Wêreldnatuurfonds (WWF) en die Suid-Afrikaanse regering geïnspireer het om ‘n soortgelyke geleentheid by Stellenbosch aan te bied.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Vanjaar se Biomass Technology Expo op 9 Augustus beloof om groter as ooit te wees met meer as 100 uitstallers en sowat duisend besoekers wat verwag word.

Dit sal vanjaar ook amptelik deur die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, mnr. Tjekero Tweya, geopen word.

Die geleentheid, wat buite Otjiwarongo by die Otjiwa Safari Lodge aangebied sal word, sal deur van die wêreld se voorste leiers in biomassa-energie- en -tegnologieverskaffing bygewoon word, wat John Thompson van Suid-Afrika, Kohlbach van Oostenryk asook Spanner Re2 van Duitsland insluit.

Die Namibië Biomassabedryfsgroep (N-BiG) se algemene bestuurder, mnr. Colin Lindeque, het aan Die Boer gesê verlede jaar se ekspo wat by die Cheetah Conservation Fund buite Otjiwarongo plaasgevind het, was die loodsprojek.

“Dit het meer as 300 gaste gelok en ons het meer as dertig uitstallers gehad. Dit is so goed ontvang dat dit die Wêreldnatuurfonds (WWF) asook die Suid-Afrikaanse regering aangespoor het om ‘n soortgelyke geleentheid vroeër vanjaar in Stellenbosch aan te bied.

“Verlede jaar se geleentheid is egter klein in vergelyking met wat ons vir 9 Augustus beplan. Vanjaar bied ons ‘n veel groter, verbeterde ekspo met meer as vyftig regstreekse tegnologiedemonstrasies aan.

“Ons beplan om meer as ‘n duisend besoekers op dié dag te ontvang,” het Lindeque gesê.

Lindeque meen ook die Otjiwa Safari Lodge wat sowat 40 km suid van Otjiwarongo geleë is, is die ideale plek omdat dit genoeg ruimte bied en naby aan die “bos” is, wat beteken demonstrasies kan in die veld aangebied word.

“Boonop lê Otjiwarongo sentraal binne die gebied wat ‘n erge verbossingsprobleem ervaar en is dit ook die ‘houtskool-hart’ van die land,” het Lindeque gesê.

Hy voeg by dat N-Big baie doen om Namibië se biomassasektor op verskeie maniere te bevorder.

“Die ekspo is die perfekte plek vir die biomassabedryf om byeen te kom en waar wisselwerking tussen kopers, verkopers, kenners en die breë publiek kan plaasvind. Hier kan produkte, tegnologie en dienste aan besoekers bekendgestel word en hulle kry met interessante idees en oplossings te doen.

“Die ekspo lok ook internasionale uitstallers. Vanjaar sal daar uitstallers van Oostenryk, Denemarke, Duitsland, Brittanje, Amerika, Suid-Afrika en Namibië wees.

“Die hoop is dat die hele biomassabedryf verteenwoordig word en daarom is daar verskeie uitstallers. Die hooftemas van die ekspo is egter bos-tot-kos, houtskool en biochar, biomassa-energie, biomassasamestellings, semi- asook ten volle gemeganiseerde oesmetodes, navorsing en ontwikkeling asook alles tussenin,” het Lindeque gesê.

Hy sê meer as 35 kenners sal voorleggings gee.

“Prominente sprekers en uitstallers by die geleentheid sluit in verteenwoordigers van internasionale maatskappy en instansies soos John Thompson (Suid-Afrika), Kohlbach (Oostenryk), Spanner Re2 (Duitsland), DHG (Duitsland), Danish Technological Institute (Denemarke), Redhouse (Amerika), SteamBio (VK), FSC (Suid-Afrika), die Noordwes Universiteit (Suid-Afrika), Envirocrete (Suid-Afrika), CMO (Suid-Afrika), Husqvarna (Suid-Afrika), ABC Hansen (Suid-Afrika), Ekasi Energy (Suid-Afrika) en EcoSmart (Suid-Afrika).

“Terselfdertyd is die doel van die ekspo om geld vir droogteverligting in te samel wat aan die Dare to Care-droogtehulpfonds geskenk sal word. Kaartjieverkope sowel as lootjies ten bate van die droogte sal gebruik word om geld vir sukkelende boere in te samel,” het hy gesê.

Lindeque sê verskeie kosstalletjies sal alles van pizza, wafels, braaikos, gerookte vleis en roomys verkoop. Terselfdertyd sal ‘n kontantkroeg vir die dors sorg en daar is ook vermaak vir kinders.

Kaartjies kan reeds aanlyn by Webtickets Namibia of by enige Pick n Pay teen N$100 per persoon gekoop word, terwyl dit teen N$150 per persoon by die hekke beskikbaar sal wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!