Alle oë vandag op Fishcor

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Alle oë in die visbedryf is vandag op Windhoek waar die staat se 30 jaar oue vismaatskappy, Fishcor, na verwagting lig sal werp op sy toekoms en dié van sy Seaflower-vennote.

Fishcor verkeer in ernstige finansiële nood en sukkel reeds geruime tyd om personeel se salarisse te betaal. Boonop is die maatskappy se bankrekenings sowat anderhalfweek gelede deur die Bank of Namibia (BoN) gesluit.

Die tussentydse direksievoorsitter, mnr. Mike Gaomab II, het sedertdien nog nie op skriftelike vrae hieroor gereageer nie, maar laat blyk antwoorde sal verskaf word wanneer hy joernaliste vanmiddag by ’n nuuskonferensie in Windhoek toespreek.

Dit is nie bekend of die ministers van visserye en mariene hulpbronne en van staatsondernemings (SOE’s), dr. Albert Kawana en mnr. Leon Jooste, teenwoordig sal wees nie.

Fishcor is in omstrendenheid gedompel met die oopvlekking van die Fishrot-skandaal in November 2019.

Die gewese voorsitter van die direksie, mnr. James Hatuikulipi, asook die voormalige hoof uitvoerende beampte, mnr. Mike Nghipunya, is op klagte wat hiermee verbvand hou, in hegtenis geneem.

Die gespanne verhouding tussen Fishcor en Seaflower Pelargic Processing (SPP), die reuse-verwerkingsaanleg vir maasbanker op Walvisbaai, is onlangs op die spits gedryf toe dit bekend geword het Kawana het die kwota-ooreenkoms tussen Fishcor en die beherende aandeelhouer, African Selection Trust (AST), in September verlede jaar gekanselleer sonder om glo vooraf goedkeuring van die kabinet te kry. AST besit 60% van die aandele in SPP en Fishcor 40%.

’n Gegriefde AST het intussen met arbitrasieprosedure teen Fishcor begin, maar laasgenoemde het hom na die hoërhof gewend en ’n aansoek ingedien om die arbitrasieklousule in die kontrak ter syde te stel. Dié aansoek is hangend.

Kawana het die kansellering van die kontrak by navraag aan Republikein bevestig, maar gesê hy “kan nie meer sê nie ingeval daar ’n regsgeding oor die kwessie is”.

Dit is verder alom bekend in die visbedryf dat die verhouding tussen Fishcor en sy Spaanse stokvis-vennoot, Copemar, in onlangse tye ook versuur het.

Fishcor besit 51% van die aandele in Seacope op Lüderitz, en Copemar 49%.

Seacope bedryf sedert 2004 ingevolge die ooreenkoms tussen Fishcor en Copemar die Pemba Bay-fabrieksboot. ’n Splinternuwe tweede fabrieksboot, Olupale, lê in Spanje op anker en kon nog nie in die Namibiese viswaters ontplooi word nie aangesien Fishcor nie sy deel van die ooreenkoms van die ooreenkoms nagekom het nie, beweer ’n ingeligte bron in die visbedryf.

Mnr. José Ramón Pérez Ojeda, besturende direkteur van Copemar in Spanje, kon nie die naweek vir kommentaar hierop bereik word nie.

Volgens vesselfinder.com lê die Olupale, wat die Namibiese vlag dra, in Gijón, Spanje, op anker.

Die waarde van dié belegging is glo sowat 22 miljoen euro (nagenoeg N$396 miljoen).

Mnr. AJ Louw, hoof uitvoerende beampte van AST en voorsitter van SPP se direksie, het verlede week aan Republikein gesê as Fishcor by sy kontraktuele kwotaverpligtinge met SPP hou, kan die Namibiese ekonomie in die volgende 12 jaar N$600 miljoen net uit die gebruiksfooie vir die maasbankerkwotas verdien. “Dit sluit nie die winsdeling in wat Fishcor ingevolge sy aandeelhouding sal verdien nie.”

Volgens hom beloop die waarde van die SPP-belegging meer as N$700 miljoen.

Hy sê AST het sy kontraktuele verpligtinge, waarop daar ingevolge kabinetsbesluite ooreengekom is en wat as sodanig in die Staatskoerant gepubliseer is, nagekom en buiten om kapitaal en kundigheid beskikbaar te stel, werksgeleenthede vir 1 100 mense geskep.

SPP het sover vanjaar nog nie 1 ton kwota gekry nie, sê hy.

Volgens Louw behels die kontrak 50 000 ton kwota vir ’n tydperk van 15 jaar.

Fishcor besit ook 100% van die aandele in Seaflower Lobster Corporation (SLC) en 78% in Seaflower WhiteFish Corporation op Lüderitz. Die ander 22% behoort aan die Regional Governor’s Trust.

SLC besit op sy beurt 66% van die aandele in Namrock, wat die verpakking en bemarking van kreef doen. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!