Alle paaie lei na Tses
Maria Pelgrimstog ’n reusesukses
Boet Matthews
Alle paaie het op 3 en 4 Oktober na Tses gelei, waar die Maria Pelgrimstog gehou is.
Honderde mense het opgedaag om die Here te loof en te prys, deurnag te bid en deur verskeie jeuggroepe en kerkkore vermaak te word met sangstukke uit die boonste rakke. Meer as ’n maand later praat gemeentelede nog met lof oor die geleentheid.
Die Maria Pelgrimstog het met die heilige mis begin waarvan die kollekte aan die gemeente van Tses geskenk is. Daarna was dit tyd vir lofprysing en aanbidding waarna die rosekrans-optog met brandende kerse en gebede in Latyn gevolg het.
Die gees en ondersteuning onder gemeentelede was besonders, met deelnemers wat die saal op Tses se dak behoorlik laat rys het toe daar met die hernuwing van huweliksbeloftes begin is. Van die manne was deftig uitgevat in pakke en vroue in ewe pragtige rokke. Of dit onlangs gekoop is, of nog gebêre was en afgestof is vir die spesiale geleentheid, sal net die paartjies weet. Maar dit was beslis een van die hoogtepunte op die naweek se program.
Ná die rosekrans-optog is daar met die Kruisweg saamgestap en gebid. Toe volg nog een van die hoogtepunte, naamlik die genesingsdiens met handoplegging en salwing wat met gebed gepaard gegaan het.
Daarna is lofprysing en aanbidding weer gehou, en soos die nuwe dag (Sondag) aangebreek het, het alle kloosterlinge (vaders, susters en broeders) hul beloftes hernu.
Oudergewoonte het die Angelus ’n paar van die jeugdiges gevra wat hulle van die Maria Pelgrimstog dink. Volgens Jacques Coetzee: “Ons moet dit elke jaar hou sodat meer seuns en meisies aansluit en saam met ons in die geloof groei.
“Ek verseker jou dat wonderwerke nog steeds gebeur. Ons het dit oor die twee dae ervaar!”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie