Alles of niks in revolusie teen rugby se gemaksone
Sowat twee weke lê voor, voordat die uitslag van Wêreldrugby se elektroniese verkiesing van sy voorsitter vir die volgende vier jaar op 12 Mei aangekondig word.
Die algemene verwagting is dat die jeugdiger kandidaat Agustín Pichot (45), huidige visevoorsitter en gewese kaptein van Argentinië, vanweë sy omvattende bemarkingsveldtog 'n sterk kans staan om die man in die saal, Bill Beaumont (68) van Engeland, uit die kussings te lig.
Oor die uitgesproke Argentyn se sienswyse dat die sport wêreldwyd 'n nuwe benadering van modernisering vereis, is daar waarskynlik eensgesindheid. Selfs in Beaumont se era het hy hom in beginsel hiertoe verbind, maar in werklikheid het baie min aan die bestaande strukture verander.
Indien Pichot verkies word om oor te neem, sal hy die eerste voorsitter van Wêreldrugby word wat van 'n land buite die Europese Sesnasies afkomstig is. Dit op sigself kan lede uit die Suidelike Halfrond oortuig om hulle agter hom te skaar en die noodsaaklike proses van vernuwing van die sport aan te help.
Die “geheime”, elektroniese stemming het die afgelope Maandag geopen en duur tot môre. Die kultuur van konkelwerk agter die skerms – soos tydens die klugspul toe die 2023 Wêreldbeker aan Frankryk ten koste van Suid-Afrika toegeken is – is een van die aspekte van administrasie waaraan Pichot veel meer deursigtigheid wil toevoeg.
Beaumont se aangewese (en onbestrede) keuse as visevoorsitter is die Fransman Bernard Laporte, wat juis 'n omstrede rol gespeel het om die oorwegend Franssprekende Afrika-lande te oortuig om hul stemme vir die 2023-toekenning vir sy tuisland uit te bring.
'n Lelike openbare verleentheid vir die Beaumont-kamp die afgelope dae was toe die Fidji-rugbyunie onder druk geswig het en 'n U-draai moes maak deur sy benoeming van die berugte Francis Kean as kandidaat vir Wêreldrugby se invloedryke uitvoerende komitee te onttrek.
Kean was in 2006 die hoof van die nasionale vloot, toe hy by die onthaal van 'n troue 'n man doodgeslaan en -geskop het wat hom glo beledig het. Hy is van moord aangekla, maar te danke aan sy politieke konneksies het hy daarin geslaag om die klag tot strafbare manslag te laat versag, waarop hy skuldig gepleit het.
Heel gerieflik is Kean se regsaak aangehelp toe 'n student wat as getuie sou optree, boonop vermoor is. Hoewel hy 18 maande tronkstraf opgelê is, is hy ná net een week vrygelaat.
Terwyl die wêreld tans in die greep van die coronavirus en gepaardgaande inperkings verkeer, is die uiters kwesbare stand van rugby as 'n sport op klub- en provinsiale vlak na vore gebring.
Die “ou skool” tradisie dat die ryker rugbylande die kitaar slaan en dat die res maar net daarby moet inval, word deur Pichot uitgedaag. Hiermee saam ook die historiese weerstand teen enige versnelling in die pas van verandering, of betekenisvolle uitbreiding.
“Wat Wêreldrugby se individuele lidlande moet besef, is dat ek nie probeer om hulle op gelyke voet te plaas nie. Dit is nie die storie van Robin Hood, wat van die rykes wegvat om aan die armes te gee nie. Ons moet streef na 'n beter samelewing en die minder gegoede nasies het hulp nodig,” het Pichot onlangs verduidelik.
Dit is veelseggend van die bestaande struktuur dat die gevestigde rugbylande elk oor drie stemme beskik, terwyl die res met een of twee tevrede moet wees. Moet dus nie verwag dat hierdie groep kalkoene noodwendig vir Kersfees gaan stem nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie