Alles op die regte tyd
Yolanda Nel
Ons het ’n ruk terug besluit dit is tyd om huiseienaars te word. Met 'n stapel papiere nader ons 'n bank en so begin die langste tyd in my lewe. Langer as 'n Covid-lockdown.
Ná amper 'n jaar se gekyk, het ons uiteindelik op 'n huis besluit wat (van) ons (my) boksies tiek en in ons begroting val.
Familie en vriende spot en sê ek het meer lysies gehad waaraan die huis moet voldoen as vir die knaap destyds.
Maar soos dit maar gaan met lysies in die algemeen, kan jy nie die perfekte man of huis kry nie en is ’n kompromie die volgende stap.
Dan skaaf en skuur ek maar aan wat regtig nodig is.
Net soos met mansoek, is huissoek presies dieselfde. As jy weet, dan weet jy.
Die knaap het vroeg besluit ek kan die huis kies. Al vereiste wat hy het - 'n braaiplek. Dit, terwyl ek seker maak daar is genoeg slaapkamers en badkamers vir die aantal mense in die huis.
Huis in en huis uit, het meeste huise net nie soos mý huis gevoel nie. Mooi huise, groot huise en huise wat tot teen die muur gebou word.
Ek was oop vir baie dinge, maar een item op my lysie was ononderhandelbaar en dit was erf spasie vir die kinders om rond te hardloop.
Die soektog was 'n kopseer tot daardie een dag in Junie. Die huis tiek sommige boksies en ander glad nie, maar hier kan my kinders rondhardloop, modderkoekies bak en met hulle skopfietsies jaag – tot die buurman se spyt. Hier kan die knaap elke naweek braai en kan ek weer gasvrou speel met 'n splinternuwe stoof. Ons gaan in die miniatuurswembad baljaar en naweke 'n krismisbed maak.
Dis in hierdie huis waar my kinders hul knieë nerfaf gaan val en waar hulle gaan leer van die tandemuis en Kersvader. Hoewel klein, is daar sowaar 'n kaggel in die huis, maar ek twyfel of die vet oom daar sal inpas.
In hierdie huis sál daar in die kombuis gedans en die klavier gespeel word. Ek hou daarvan; die knaap het sy braai en tot die ouers reken hierdie is die regte huis.
Dit voel reg.
Ons teken papiere en hoewel ons nou katjie van die baan moet wees, begin die frustrasie en sewe tipes hel. Dan is dit nie reg nie, dan soek iemand iets wat hulle reeds het en die grootste hoofpyn van my lewe begin. Ek het nog nóóit so baie handtekeninge geteken nie; ek voel skoon famous. Uiteindelik, ná maande se heen en weer, is die huis ons s’n.
Die sleuteloorhandiging is vinnig. Bloot ’n "baie geluk met jou eerste huis”.
En daar staan ons toe, in 'n leë huis wat brand dat iemand weer 'n stempel op hom afdruk.
T speel sommer met die intrapslag in die kaggel en vee sy swart hande teen die muur af. Die eerste aand in ons nuwe huis skyn die maanlig deur die kamervenster, want daar was nog net nie tyd of energie om gordyne op te hang nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie