Almal moet Iran isoleer, sê Trump
Trump het gesê Amerika verwerp die inmenging van ander lande in sy sake.
Sarel van der Walt - Pres. Donald Trump van die VSA het Dinsdag by die 73ste algemene vergadering van die Verenigde Nasies (VN) in New York soos verwag kaalvuis onder Iran ingeklim, maar Noord-Korea ’n bietjie heuning om die mond gesmeer.
Trump het op ’n reënerige herfsdag gesê Iran se bure het ’n kwaai prys betaal vir Iran se “aggressiewe uitbreidingsplanne”. Dit is waarom die VSA hom aan sy kernooreenkoms met Iran onttrek het.
Die meer as 120 staats- en regeringshoofde het doodstil na die Amerikaanse president gesit en luister. Die vergadersaal was stampvol.
“Ons kan nie toelaat dat Iran die wêreld se magtigste wapens besit en ’n gevaar vir Amerika en Israel inhou nie. Ons vra alle nasies om Iran te isoleer,” het Trump gesê.
Die Amerikaanse president het gesê Amerika het besluit om ekonomiese druk op Iran te plaas om nie sy “bloedige veldtog” voort te sit nie.
Amerika is onder meer in gesprek met lande wat olie uit Iran invoer om dit nie meer te doen nie.
Volgens Trump het Iran sy verdedigingsbegroting die laaste paar jaar met 40% verhoog.
PLUNDER HULPBRONNE
Hy het pres. Hassan Rouhani en sy regering daarvan beskuldig dat hulle die streek se hulpbronne plunder om hulself te verryk. Dit is hoekom Iraniërs ongelukkig is oor wat aangaan.
Trump het Noord-Korea se pres. Kim Jong-oen bedank vir die stappe wat hy doen om vrede in die Koreaanse skiereiland te bewerkstellig, maar gewaarsku baie werk lê nog voor.
Oor Amerika se handelsoorlog met China het Trump gesê hy en die Chinese president Xi Jingpin is goeie vriende, maar Amerika kan nie die Chinese onregverdigheid meer duld nie.
“Ons het die laaste paar jaar toegelaat dat buitelandse goedere vryelik oor ons grense beweeg, terwyl ons nie regverdige toegang in ander lande gekry het nie.
“Terwyl Amerika en baie ander lande die handelsreëls gehoorsaam, is daar lande wat die stelsel misbruik om hul goedere hier by ons te kom stort,” het Trump gesê.
“Daardie dae is verby. Ons sal nie meer sulke misbruik duld nie.
Die Amerikaanse president het baie klem gelê op Amerika se soewereiniteit. “Ek erken alle lande se soewereiniteit. Ons vra net julle moet ons sin erken.”
Trump het gesê Amerika verwerp die inmenging van ander lande in sy sake. “Ons moet soewereiniteit, onafhanklikheid en demokrasie te alle tye beskerm.
Die Amerikaanse president het egter ook die geleentheid gebruik om na die VN self te kap en gesê dié wêreldliggaam se menseregteraad het ’n groot verleentheid geword.
“Ons ambassadeur by die VN (Nikki Haley) het ’n duidelike plan vir hervormimg voorgelê, maar ten spyte van herhaalde waarskuwings, was daar geen optrede nie.
“Dit is die rede waarom ons aan dié raad onttrek het totdat behoorlike hervormings in werking gestel is,” het Trump gesê.
Hy meen die VN het “onbeperkte potensiaal” en kan meer doeltreffend wees.
Wat die Internasionale Strafhof betref, het hy gesê wat Amerika betref het dié instelling geen jurisdiksie meer nie.
Amerika sal ook nie deelneem aan enige konferensie van die VN oor immigrasie nie.
Hy het toegegee die wêreld is ’n beter plek danksy die VN - ’n “mooi konstellasie van nasies wat elk baie uniek is”.
IRAN SE REAKSIE
Enkele ure nadat pres. Donald Trump ’n striemende aanval op Iran gedoen het, het pres. Hassan Rouhani van Iran teruggekap.
Rouhani was in ’n veglustige bui toe hy Dinsdagaand sy boodskap aan ander wêreldleiers gelewer het. Trump het Iran in sy toespraak van aggressie teenoor sy bure beskuldig.
Rouhani het gesê Amerika se sanksies teen sy land is niks anders nie as “ekonomiese terrorisme” en ’n poging om sy regering tot ’n val te bring.
Sonder om Trump by die naam te noem, het die Irannese president gesê sommige wêreldleiers ondermyn wêreldveiligheid deur hul onverantwoordelike optrede en verontagsaming van internasionale waardes en instellings.
Hy was baie krities oor Trump se besluit om Amerika se kernkragooreenkoms, wat in 2015 deur oudpres. Barrack Obama met Iran beding is, te beëindig.
Die Irannese leier sê die Internasionale Atoomenergiekorporasie het in 12 agtereenvolgende ondersoeke bevind Iran kom al sy verpligtinge na.
SWAK VERSKONING
Die Trump-regering val terug op swak verskonings oor waarom hy die ooreenkoms beëindig het.
“Die VN kan nie toelaat dat enige van sy lidlande om persoonlik redes nie sy verpligtinge nakom nie,” het Rouhani gesê.
Die kernkragooreenkoms is deur die veiligheidsraad van die VN goedgekeur.
Rouhani het gesê hy is dankbaar die internasionale gemeenskap het nie Amerika se voorbeeld gevolg nie.
Hy het die Amerikaners genooi om na die onderhandelingstafel terug te keer.
Trump het Iran onder meer ook daarvan beskuldig dat hy die grootste finansierder van internasionale terrorisme is.
Hieroor het Rouhani gesê as slagoffer van terrorisme “in die verlede en in die hede” was Iran nog altyd teen terrorisme gekant en dit sal so bly.
“Iran probeer nie om ’n ryk land te word nie. Hy is dit al honderde jare lank.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie