u2018Almal moet nou inspringu2019 om Vaalrivier te red
u2018Almal moet nou inspringu2019 om Vaalrivier te red

‘Almal moet nou inspring’ om Vaalrivier te red

Sarel van der Walt - Daar is geen ander keuse nie – ’n verenigde verantwoordelikheid is nou nodig om die erg besoedelde Vaalrivier te red.

Jacob Khawe, ANC-burgemeester van die Emfuleni-munisipaliteit in die Vaaldriehoek, het Dinsdag op ’n mediakonferensie by die Gautengse wetgewer in Johannesburg gesê dié munisipaliteit is daartoe verbind om die Vaalrivier, wat op sy suidelike voorstoep verbyvloei en water aan groot dele van Gauteng verskaf, te help red.

Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sal van Sondag af in die Vaaldriehoek by die Vaalrivier ontplooi word om die krisis met besoedeling om te draai.

Die SANW het R200 miljoen van die nasionale tesourie daarvoor ontvang.

Weermaglede sal onder meer sleutelpunte bewaak en ’n koördinerende rol speel wanneer die 46 pompstasies langs die rivier in dié gebied herstel word.

Khawe het gesê hy sal vandeesweek met Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en amptenare van haar departement vergader oor wat eerste aandag moet kry.

“Die weermag kom nie met wapens nie. Hy kom hierheen met gereedskap om ons te help,” het die burgemeester gesê.

ROLSPELERS MOET SAAMWERK

Die weermag sal help om pompstasies wat buite werking is, asook drie watersuiweringsaanlegte wat tans nie operasioneel is nie, te herstel, sê Khawe.

“Vir ons is dit belangrik dat die pompstasie in Vereeniging so gou moontlik herstel word ter wille van die inwoners, die nywerhede en sakeondernemings in die omgewing.”

Hy sê dit is belangrik dat gemeenskappe en sakelui die soldate met ope arms ontvang en met hulle saamwerk.

“Die soldate sal met munisipale amptenare, plaaslike ondernemings en alle rolspelers in Emfuleni saamwerk. “Dit is ook belangrik dat ander munisipaliteite en metro’s in die omgewing (soos Johannesburg, Ekurhuleni en Midvaal) medeverantwoordelikheid neem.

“Daar is riviere en spuite in hul omgewing wat die Vaalrivier voed en wat in hul omgewing besoedel word.

“Ons moet kollektief optree om die probleem op te los,” het Khawe gesê.

Volgens hom het Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, reeds aangebied om drie ingenieurs na Vereeniging en Vanderbijlpark te stuur om te help.

Emfuleni het ook ’n samewerkingsooreenkoms onderteken met die Oos-Rand Watersuiweringsvereniging (Erwat) wat spesialiseer in die suiwering van rioolwater.

Die munisipaliteit wil hê Erwat moet die moontlikheid ondersoek om huishoudelike afvalwater te suiwer en te behandel vir gebruik deur fabrieke en nywerhede. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!