Almal móét Plunderwoestyn lees

Die bekende Namibiese skrywer prof. Piet van Rooyen meen dit is Christiaan Bakkes se beste skryfwerk tot dusver.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - "Dit was die moeilikste en belangrikste boek wat ek nog geskryf het," sê die bekende skrywer en bekroonde safarigids Christiaan Bakkes oor sy nuutste boek Plunderwoestyn wat in die hartjie van Namibië se renosterslagveld afspeel.

Christiaan het as skrywer bekendheid verwerf met sy avontuurboeke van Stoffel Matthysen wat sy arm in 1994 tydens 'n onderonsie met 'n krokodil in die Krugerwildtuin verloor het. Hy is die seun van Cas en Margaret Bakkes en die broer van C. Johan Bakkes. Die skrywersbloed loop dik in die familie met sy ma en Johan wat albei bekend in Suid-Afrikaanse skrywerskringe is.

Plunderwoestyn word beskryf as 'n stroperstorie, 'n reisgids en 'n liefdesverhaal.

Dit is inderdaad al drie, maar baie meer as dit. Dit is 'n boek wat ek nie kon neersit nie en binne twee dae kafgedraf het. Ek sou dit in 'n dag kon deurlees, maar ek moes gereeld 'n blaaskans vat om eers te kalmeer nadat ek kort-kort briesend was.

Briesend, nee woedend, want vir die afgelope byna 'n dekade wat ek terug in Namibië is, stry ek saam met Bakkes en sy beeldskone Veertjie, soos hy sy vrou in die boek noem, die stryd van bewaring as omgewingsjoernalis.

Net soos Bakkes, het ek het ook die skok van renosterstropery aan my eie bas gevoel en my boude lamgesit op hofbanke tydens verhore van renostersmokkelaars. Ek het ook dreigemente van 'n Chinese renostersmokkelaar gekry. Net soos Bakkes, het ek ook die verraad ervaar dat jy later nie meer weet wie om te vertrou nie.

Om Plunderwoestyn te lees, voel soos 'n renoster wat op jou afstorm en jou te pletter trap. Die boek se trefkrag is aardskuddend.

Ek het Bakkes in 2009 by die Namibië Toerisme Ekspo ontmoet toe ek ook pas uit Taiwan terug is met nog sterre in my oë oor hoe fantasties Namibië se omgewingsbewaring en toerismebedryf is. Ek geniet sy en sy vriende in bewarings- en toerismekringe se interessante en vrolike gesprekke oor toerisme en die skeepswrakke langs die kus.

Dit was knap voor renoster- en olifantstropery in Namibië en die plundery van ander wild en natuurlike hulpbronne in alle erns posgevat het.

VEERTJIE

Met Veertjie as omgewingsaktivis het ek vele telefoniese onderhoude oor omgewingskwessies gevoer. Veertjie, wat van Italiaanse-Indiaanse afkoms is, het gereël dat ek voor die Avontuurberaad in 2013 'n onderhoud kan voer met Ben Sherman, verteenwoordiger van die Wêreld Inheemse Toerisme-alliansie, wat Noord-Amerikaanse Indiaankultuur in toerisme bevorder. Dié Oglala Sioux met sy grys poniestert en sagte oë was een van die mense wat my die meeste met sy wysheid beïndruk het.

Uiteindelik ontmoet ek Veertjie in lewende lywe by die Avontuurberraad op Swakopmund. Sy en Bakkes was toe nog nie 'n paartjie nie.

In Augustus 2014 woon ek die eerste 'n renosterstropery-vergadering op Wêreldsend in die Kunenestreek by en loop die twee vreeslik verlief daar raak. Hul liefdesverhaal in Plunderwoestyn lees soos 'n sprokie en ek kan getuig van hul diep liefde vir mekaar.

Ek verkyk my aan Veertjie se mooi bisonhangertjie om haar nek en sy vertel my hoe die bisons in Amerika uitgeroei is om die Indiane aan hongersnood te laat sterf.

"Al wat die Amerikaners moes doen om die verswakte Indiane te onderwerp, was om die Amerikaanse buffel of bison van die prêries uit te wis. Dit het hulle binne 'n dekade reggekry," haal Bakkes vir Veertjie in Plunderwoestyn aan.

Ek knoop 'n hegte band met Veertjie aan, want ons albei het 'n hartstog vir natuurbewaring en die regte van minderheidsgroepe.

By Wêreldsend luister ek om die vuur na die gruwelstories van Bakkes oor wat in die Noordweste aangaan.

In Januarie 2015 loop ek tydens my vakansie die twee aan te draf in die pad op die hitte van die middaguur by 'n lodge naby die Etosha Nasionale Park raak waar hulle sê hulle wegkruip. Ons sit in die swembad en Bakkes vertel my van nóg gruwels oor renosterstropery en ongerymdhede in natuurbewaringskringe.

In Junie 2016 sien ek weer vir Bakkes en Veertjie, die joernalis "Henk Gerber" van wie Bakkes in Plunderwoestyn skryf, en twee Amerikaanse omgewingsbewustes in Joe's Beerhouse en al waaroor ons gesels is renosterstropery. Bakkes vertel my hy is as ná 30 jaar as bekroonde safarigids in die Kaokoland afgedank.

Dit het gevolg ná die publikasie van sy omstrede artikel "End of the Game" in verskeie internasionale koerante en digitale platforms.

FIKSIE OF NIE-FIKSIE?

Baie van die goed wat Bakkes en sy Veertjie my vertel het, het ek in Plunderwoestyn gelees en alles in die boek het vir my bekend gevoel. Ander lesers sal dalk Plunderwoestyn anders ervaar, maar elke leser gaan beslis 'n mate van skok ervaar.

Bakkes sê die boek is as fiksie geskryf, "maar gebaseer op persoonlike ervaringe en waarnemings". My mening is dat 90% van die boek die reine waarheid is. Ek ken sy karakters in die boek soos "joernalis Henk Gerber, regsverteenwoordiger Wessel Harmse, Hennie Veenstra en die staatsaanklaer Ernest Machengete".

Ek was baie beïndruk met die staatsaanklaer se uitlatings en dit het die bal aan die rol gesit vir dat strenger wetgewing ingetree het met strawwer boetes en tronkstraf vir wildstropers en -smokkelaars.

Ek ken ook jagters met die "brandwynbelope oë" wat "ekostelsels met hul skietbakkies vertrap en wild en wakker wild skiet, soos Bakkes oor die jagters van die skiet-en-verkoop-beleid in Plunderwoestyn skryf.

"Barbare. Bloedmal, geldmal, besope," skryf Bakkes.

"Op Giribesvlaktes staan die vriestrokke geparkeer. Slag en laai op, slag en laai op. Soos 'n monteerband. Industriële jag. Dis bloed en vleis en velle en vlieë oral."

Ek het ook berig oor die swartrenosterjag van die Amerikaner wat verkeerd geloop het soos in Plunderwoestyn: "Niemand sou iets wys geword het as die beroepsjagter nie die die regering voor die hof gedaag het nie. Nadat hy die dragtige renosterkoei geskiet het, is hy nie toegelaat om die bul te skiet waarvoor hy 'n permit gehad het nie. Sy kliënt was nie tevrede nie. Hy het die regering gedagvaar vir kontrakbreuk."

BAKKES REAGEER

Nadat ek Plunderwoestyn gelees het, is een van die vrae wat ek vir Bakkes vra: Persentasiegewys, hoeveel van die boek sou jy beskryf as fiksie teenoor nie-fiksie? Hy het my nie geantwoord nie.

Al kommentaar wat hy wou lewer, is "Plunderwoestyn dra 'n bewaringsboodskap uit in 'n snel veranderende wêreld. Dit is daarop gemik om die menslikheid weer terug te bring in natuurbewaring. Dit is gebaseer op persoonlike ervaringe en waarnemings."

Hy sê die verhaal spreek vanself en die leser moet self besluit.

"Vir my is bewaring 'n saak van etiese moraliteit en respek vir die natuur. Vir te lank in Namibië en elders word bewaringsuksesse in terme van geld, wins en vleis gemeet. Hierdeur word dit blootgestel aan vele wanpraktyke."

Bakkes sê hierdie industrialisering van natuurlike hulpbronne kom teen 'n hoë prys wat habitat, dierelewens en menslike waardes inboet.

"Oral op die planeet word die natuurlike wêreld bedreig deur die hebsug en inhaligheid van die mensdom."

Hy sê die doel van natuurbewaring is om daardie proses te stop of te vertraag.

"Natuurbewaring mag nie medepligtig wees aan die vernietigingsproses nie. Ons laat die toekomstige geslag met 'n verarmde en geplunderde omgewing, waaruit hulle 'n sinvolle bestaan moet maak. Hulle erf ons gemors."

Bakkes sê hulle het vanjaar ver gereis en baie tyd op see bestee.

"In Papoea-Nieu-Guinee, het ons eilande, oerwoude en koraalriwwe verken. Dit was die mees ongeskonde plek wat ek nog gesien het. Die mense lewe vanaf die see en die woud in harmonie. Hulle lag graag."

Hy sê dit is bemoedigend dat die Papoea-Nieu-Guinese so pas swaargewig mynmaatskappye verbied het om hul seebodem te myn. Nieu-Seeland het dieselfde gedoen."

Bakkes meen dit is dus goed om te sien dat Namibië steeds nie die groen lig gegee het vir mariene fosfaatmynery nie. "Kom ons hoop hulle hou op."

Van daar is hulle na Australië en Amerika.

"Ons het ook saam met walvisse en dolfyne in die Indiese Oseaan geduik. Daar is steeds plekke waar die see gesond is. Dit gee mens hoop," sluit Bakkes af.

Ek vra vir Bakkes of hulle ooit gaan terugkom Namibië toe. Sy antwoord is ’n aanhaling van die filosoof en leier van die punk-groep The Clash: "The Future is Unwritten."

Plunderwoestyn is 'n boek wat deur elke Namibiër gelees moet word. Nee, dit is 'n boek wat vertaal moet word en wêreldwyd gelees moet word.

BLOKKIE

RESENSIES

Prof. Piet van Rooyn, Namibiese skrywer

Dis ‘n moerse goeie boek – sy beste tot dusver.

Ek het dit veral goed gevind omdat dit ‘n ernstige werk is wat met ernstige kwessies ten opsigte van natuurbewaring hier in Namibië te doen het.

Sy ander werke is almal baie goed, maar meer van ‘n avontuurverhaal-tipe, sonder dat dit in diepte na etiese kwessies kyk. Hierdie een spreek op die man af. Dit sluit ook baie goed via sy verhouding met “Veertjie” die half-Indiaan, wat die Indiaanse (Rooihuid-) mitologie en etiek ten opsige van heldskap bind met dié van die natuurbewuste mens in Namibië.

Selfs die naam van sy nuwe hondjie Tashunka Witko (Crazy Horse) – nadat sy geliefde “Tier” met ‘n spies doodgesteek is om hom ‘n les te leer - sluit met die Rooihuid-kryger se weerstand teen kommersialisme en Westerse indringing in die ou jagvelde, en vervreemding van die mens van die natuur.

Die boek loop dus wyd internasionaal-gesproke, maar omsluit belangrike temas in ‘n koherente geheel.

Ek is ‘n goeie vriend van Chris en die boek verklaar vir my baie dinge wat hy hier in Namibië nie openlik oor wou praat, of kon praat nie. Dit moet saamgelees word met sy “End of the Game”-artikel, die artikel wat tot sy gedwonge bedanking by sy werkgewer gedien het.

Hy het gestaan vir waarin hy glo, en het so te veel mense hier met die ware feite gekonfronteer, totdat hy selfs vir sy eie werkgewer te “warm” geraak het.

Ons het ‘n Groot Gees verloor deur sy vertrek.

De Wet Theron op Lekkerleesboekrak

Dit is deesdae selde dat ek 'n boek binne 24 uur deurdraf, maar hierdie is een van hulle.

Christiaan Bakkes deel sy persoonlike ervaring van die geleidelike plundering van Namibië se wild- en natuurlewe. Maar nie net deur stropers nie. Ook deur die branna-boertjies. Daardie troppe wit mans wat met 'n geweer in die een hand en 'n brandewyn in die ander met hulle dikwiel-bakkies die vlaktes injaag en skiet wat voorkom op industriële jagtogte. En die oorsese trofeejagters wat wettiglik toegelaat word om beskermde wild te skiet.

Tussenin ontluik daar 'n liefdesverhaal in sy kennismaking met Veertjie, 'n Amerikaanse vrou met Noord-Amerikaanse Indiaanbloed wat hom met eerste oogopslag betower. Sy is net soos hy 'n kampvegter vir die natuur. Sy reise saam met Veertjie na Amerika is net so interessant, en word besprinkel met ook daardie land se geskiedenis, veral dié van die Amerikaanse Indiane.

Maar tussendeur volg skok op skok soos korrupsie in natuurbewaringskringe ontbloot word, blinde oë op die hoogste vlakke wat verby onwettige jag en stroping kyk, en Namibië se rolspelers stelselmatig hulle land se natuurerfenis aan die verwoesting van 'n spul geldgierige maniakke oorlaat. Die wat durf opstaan om die vrot te ontbloot, word afgedreig of uit die weg geruim.

Plunderwoestyn ontbloot beide die slegste en beste kante van die mensdom. Die paar dapper kampvegters wat weier om 'n tree terug te staan vir die groot geldmagte en hulle euwels en die eenvoudige mense wie se protes 'n verskil maak, teenoor die oorgrote meerderheid wat hulleself verryk ten koste van onvervangbare natuurskatte, vriende en kollegas verraai en die wandade doelbewus toesmeer en verdoesel.

Die boek gaan jou briesend maak. Miskien 'n paar trane laat stort. Daar is ook oomblikke van eenvoudige mooi wat jou hart sal vermurwe.

Ek kan Plunderwoestyn vir enigiemand aanbeveel. Die boek behoort niemand onaangeraak te laat nie.

Wilfried Hähner, Eienaar van Hit Radio Namibia

Plunderwoestyn was 'n regte "eye-opener" vir my. Niemand weet eintlik wat in die noordweste van Namibië aangaan en wat met die natuur en die fauna en flora gemaak word.

Ek het baie kere hoendervleis gekry en partykeer het ek hartseer gevoel. Christiaan het die boek in so 'n manier geskryf, dat 'n mens dit maklik kan lees en nie eintlik wil ophou nie.

Dit gebeur selde dat ek 'n boek in minder as twee dae klaarlees.

Dit moet beslis ook in Engels vertaal word om meer mense van die probleme, veral in die Noordweste, bewus te maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A