Alombeminde Bobby Sissing oorlede

Die Khomasdal-sokkerstadion moes na regte reeds jare gelede na hom vernoem gewees het, glo kenners van die geskiedenis van die plaaslike sport.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Bobby Sissing was 'n man enig in sy soort, wat op verskeie vlakke uit sy pad gegaan het om sokker in Namibië op te hef.

Sy afsterwe op 79-jarige leeftyd in Windhoek ná 'n siekbed van bykans drie maande aan kanker is 'n gevoelige verlies vir die sport in Namibië en ook vir hom persoonlik, sê Republikein se afgetrede sportskrywer Boet Matthews.

As dit nie vir Covid-regulasies was nie, reken hy die begrafnis van die geliefde figuur sou een van die grotes van die jaar gewees het, sê Matthews.

“Die Khomasdal-stadion was 'n grondveld en oom Bobby was die man wat gesorg het dat 'n grasveld geplant word en die omheining en muur rondom opgerig word, voor die klubhuis ook later jare gebou is,” sê hy.

“Die familie en rolspelers in die sokkergemeenskap beywer hulle al vir jare dat die stadion Bobby Sissing se naam moet dra. Ek glo vas dit sal nou so herdoop word – al moes hierdie erkenning eintlik jare gelede al gebeur het toe hy nog met ons was.

“Hy word met reg die vader van sokker in Khomasdal genoem en sy stigting van die Khomasdal-federasie was 'n belangrike stap in ons sokkergeskiedenis.”

Die oudjoernalis vertel dat “oom Bobby” met sy kenmerkende lang hare en kofia hom as 'n 17-jarige sokkerspeler oorreed het om hom in Windhoek te vestig in 'n stadium toe Matthews op pad was om in Portugal by Benfica te gaan proewe speel.

“Van toe af is ek soos 'n eie seun in hul huis behandel. Ek was bevoorreg dat die familie my verlede week ontbied het om te gaan afskeid neem.”

“Oom Bobby is op 29 Mei 1942 in die Kaap gebore, maar toe hy omtrent vyf jaar oud was, het hul gesin na Karasburg verhuis waar hy skoolgegaan het. Hy het in Windhoek sy vrou Anna ontmoet, met wie hy meer as vyftig jaar getroud was.

“Hy was 'n man van vele talente. Hy het jare lank by Windhoeker Maschinenfabrik gewerk en kon van die beste sweiswerk doen wat jy kan kry. Hy was ook vir dekades 'n Swapo-politikus en kampvegter vir sport sonder die skeiding van rasgrense soos destyds.

“Hy was self in sy jong dae 'n goeie sokkerspeler in die vroeë 1970's, maar moes vanweë 'n besering vroeg uittree en het sy aandag op sy familie gevestig.

“Hy het egter altyd graag sokkerspanne op die been gebring, soos Maritz United en later Atlanta Chiefs en Arsenal, en dan het hy goeie spelers uit Suid-Afrika gelok om vir sy spanne te speel wat die plaaslike skares se verbeelding aangegryp het. In Khomasdal het wedstryde tussen sy Maritz United en hul aartsvyande Thistles altyd vir 'n groot opskudding gesorg.

“As 'n afrigter was hy nogal kort van draad en spelers moes in hul spoor trap as hy eers een maal gepraat het.”

Bobby Sissing laat sy vrou Anna agter, asook nege uit die tien kinders wat uit hul huwelik gebore is. Die seuns is Trevor (oorlede), Bobby junior, Wasim, Zane en Wayne, en die dogters Zelda, Baba, Gail en Barney.

Die begrafnis is vir komende Vrydag geskeduleer.

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!