• Tuisblad
  • Sake
  • Als oor Christo Wiese se R59 mjd.-eis teen Steinhoff
Als oor Christo Wiese se R59 mjd.-eis teen Steinhoff
Als oor Christo Wiese se R59 mjd.-eis teen Steinhoff

Als oor Christo Wiese se R59 mjd.-eis teen Steinhoff

Thibault voer aan Steinhoff en sy verteenwoordigers, waaronder Markus Jooste, het geweet die maatskappy se boeke en jaarstate bevat wesenlike vals inligting.
Nellie Brand-Jonker – Die voorheen Suid-Afrikaans genoteerde Steinhoff-maatskappy se finansiële state vir die boekjaar tot einde Junie 2014 het wesenlike vals inligting bevat, voer die sakeman Christo Wiese se maatskappy Thibault Square Investments in hofstukke aan.

Wiese was voorsitter van die Steinhoff-direksie en die grootste aandeelhouer totdat die skandaal oor finansiële ongerymdhede in die maatskappy in Desember 2017 op die lappe gekom het.

Thibault voer in ’n dagvaarding vir ’n eis van R59 miljard in die hooggeregshof in Kaapstad aan Steinhoff en sy verteenwoordigers, waaronder Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, het in 2014 geweet die maatskappy se boeke en sy gepubliseerde finansiële jaarstate vir 2014 bevat wesenlike vals inligting “omdat die bates en inkomste van sommige van sy Europese filiale wesenlik oordryf is en/of die laste wesenlik onderbeklemtoon is”.

Die internasionale Steinhoff-maatskappy het reeds sy geouditeerde finansiële jaarstate vir 2016 en 2015 teruggetrek terwyl die jaarstate vir 2017 nog nie uitgereik is nie.

Thibault het in November 2014 ’n subskripsie-ooreenkoms met die voorheen Suid-Afrikaans genoteerde Steinhoff International Holdings aangegaan om 609,1 miljoen aandele teen R34,7 miljoen te koop. ’n Subskripsie-ooreenkoms verwys daarna dat ’n maatskappy ooreenkom om ’n sekere getal aandele teen ’n bepaalde bedrag aan ’n intekenaar uit te reik.

As deel van dié transaksie het Steinhoff ook Pepkor van Wiese en ander partye bekom. Wiese was in daardie stadium die beherende aandeelhouer van Pepkor en direksievoorsitter.

Thibault voer aan Steinhoff het te alle tye tydens die onderhandeling, voltooiing en inwerkingstelling van die ooreenkoms geweet sy jaarstate bevat wesenlike vals inligting.

‘Aandele was waardeloos’

“Steinhoff, wat deur Jooste verteenwoordig is, het geweet die openbaarmaking van die vals inligting sou ’n wesenlike nadelige uitwerking op sy aandeelprys hê, wat daartoe sou lei dat Thibault nie die ooreenkoms sou sluit nie.”

Thibault voer aan dié wanvoorstellings en verswyging was bedrieglik. Daarom is hy daarop geregtig om uit die ooreenkoms te tree en die geld wat hy betaal het van die maatskappy te verhaal.

Thibault bied aan om die aandele aan Steinhoff terug te gee, maar sê dit was “ten tyde van die subskripsie en te alle tye daarna waardeloos”.

Alternatiewelik voer Thibault aan hy het skade gely weens bedrog en dat hy dus skadevergoeding van R34,7 miljard kan eis.

Só is krediteure glo bedrieg

Thibault het ook ’n eis ingedien teen Steinhoff International Holdings NV, wat in Nederland opgerig is.

In September 2015 het die Suid-Afrikaanse en die internasionale Steinhoff ’n reëlingskema voorgestel aan die aandeelhouers van die Suid-Afrikaans genoteerde Steinhoff.

Hiervolgens sou die Nederlandse maatskappy al die Suid-Afrikaanse maatskappy se aandele in ’n aandeleruiltransaksie kry.

Dit het onder meer ingesluit dat die Suid-Afrikaanse Steinhoff se notering beëindig is en die oorsese een in Duitsland sy hoofnotering met ’n sekondêre notering in Suid-Afrika gekry het. Die Suid-Afrikaanse maatskappy het ’n volfiliaal van die Nederlandse Steinhoff geword.

Thibault voer aan dat die Suid-Afrikaans genoteerde Steinhoff hiermee al sy bates aan die oorsese maatskappy oorgedra het.

Die “impak van die bate-oordrag het neergekom op ’n skenking van al die Suid-Afrikaanse Steinhoff se bates aan die oorsese maatskappy”. Dit het daartoe gelei dat die Suid-Afrikaanse Steinhoff “nie in staat was om enige eise te betaal wat ten tyde van die bate-oordrag bestaan het nie”, waaronder Thibault se eis.

Steinhoff Suid-Afrika, verteenwoordig deur Jooste, “het die bate-oordrag bewerkstellig om sy krediteure te bedrieg deur die bates waarop krediteure kon toeslaan in die oorsese Steinhoff se hande te plaas”, voer Thibault aan.

In die lig hiervan is die oorsese Steinhoff verplig om die bates wat kragtens die bate-oordrag ontvang is terug te gee, voer Thibault aan.

Steinhoff staan die eise teen. Hy ontken nie dat die bates oorgedra is nie, maar ontken die aantyging dat hy krediteure hierdeur wou bedrieg.

Groot belegging vir Amerikaanse matrasse

Titan Premier Investments, nog ’n maatskappy van Wiese, het ook ’n eis teen Steinhoff NV ingedien.

Titan voer aan nadat die Suid-Afrikaanse Steinhoff ’n volfiliaal van Steinhoff NV geword het, is die vals inligting in die oorsese maatskappy se finansiële state ingesluit. Steinhoff NV se finansiële state vir die boekjare 2015 en 2016 is gevolglik met wesenlike wanvoorstellings gepubliseer.

Titan voer aan Steinhoff het in September 2016 van sy eie aandele, wat as tesourie-aandele op die Frankfurtse aandelebeurs genoteer was, in die naam van Sunnyside Investment Partners en Sutherland Investments Partners UK gehou.

Die private Nederlands opgerigte maatskappy Upington Investment Holdings BV (wat uiteindelik deur Wiese se familietrust beheer word) het op 28 September 2016 ’n ooreenkoms met Steinhoff NV gesluit om 162 miljoen aandele teen €818,9 miljoen te koop.

Upington het op dieselfde dag ook ’n ooreenkoms met Sunnyside en Sutherland gesluit om 152 miljoen tesourie-aandele vir €768,3 miljoen te bekom.

Dit is bekend dat dié geld bedoel was as ’n kapitaalinspuiting om Steinhoff in staat te stel om sy skuldverpligtinge na te kom ten tyde van die verkryging van die Amerikaanse Mattress Firm.

Titan voer aan Steinhoff, verteenwoordig deur Jooste, was te alle tye tydens die onderhandeling, afhandeling en die inwerkingstelling van hierdie subskripsie-ooreenkomste bewus van die wanvoorstellings in sy jaarstate.

Steinhoff ontken in sy verweer hy het van sy tesourie-aandele wat in Frankfurt genoteer was via Sunnyside en Sutherland gehou.

Steinhoff voer aan Sunnyside en Sutherland het ’n wesenlike belang in hierdie hofsaak en behoort dus as partye bygevoeg te word.

Titan voer aan Steinhoff NV het doelbewus toegelaat dat die vals inligting in sy gepubliseerde jaarstate van 2015 en 2016 ingesluit is om sy aandeelprys kunsmatig hoog te hou.

Titan voer aan Upington Investments BV het skade van €1,5 miljard gely weens die doelbewuste wesenlike wanvoorstelling in die jaarstate en is daarop geregtig om dié geld terug te eis.

Upington het einde September 2018 sy regte kragtens die eise teen Steinhoff aan Titan verkoop. Die hooggeregshof het einde Oktober ’n bevel uitgereik dat Upington in die eis deur Titan vervang word.

Wat die eise behels

Thibault eis die R34,7 miljard wat hy belê het terug, of alternatiewelik dat skadevergoeding van dié bedrag aan hom betaal word. Hy eis rente van 10,5% per jaar van die datum van die dagvaarding tot die betaling van die eis.

Thibault eis dat Steinhoff NV al die bates wat van die Suid-Afrikaanse Steinhoff aan hom oorgedra is, teruggee.

Titan vra ’n bevel teen Steinhoff NV vir die betaling van €1,5 miljard en rente van 10,25% per jaar van die dag van die dagvaarding tot die dag van die betaling.

Steinhoff voer aan die hooggeregshof in Kaapstad het nie jurisdiksie oor hierdie deel van die eis nie.

Hy vra die hof om al die eise teen hom met koste van die hand te wys.

Steinhoff het op 23 Januarie vanjaar deur die hofproses gevra Thibault en Titan moet binne 20 dae van ontvangs onder eed verklaar watter dokumente en opnames hulle oor hierdie kwessies het.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!