Alternatiewe boutegnologie word bestudeer
Alternatiewe boutegnologie word bestudeer

Alternatiewe boutegnologie word bestudeer

Namibiese innovasie lok buitelandse aandag ondanks plaaslike struikelblokke.
Augetto Graig
Augetto Graig - ’n Namibiese boutegnologie-innovasiemaatskappy, Kavango Block Brick (KBB), is die gasheer vir meestersgraadstudente van Suid- Afrika wat ingenieurswese studeer.

Die studente gaan die maatskappy se innoverende tegnologie navors wat op rasionele ontwerp gebaseer is.

Mnr. Heinrich Schroeder, KBB se stigter, sê die ontwerp het oor die jare ontwikkel en sluit nou ook ’n konsep- Afrika-bouvereniging, verskillende bouplanne, en ’n Rhino-sementmengsel vir die vervaardiging van allerhande messelblokke in.

Die tegnologie gaan oor die hervorming van konstruksie in Namibië en poog om laekostebehuising, werkskepping en vaardighede terselfdertyd te bevorder.

Schroeder stel kleiner bouspanne as aparte besighede voor om plaaslik die vraag na die konstruksie van huise onder die loep te neem.

Een sleutelpunt van die tegnologie is die stigting van ’n nasionale bouregulasieraad met bouinspekteurs.

Deur die toepassing van sy tegnologie kan Namibiërs huise bekostig teen ’n terugbetaling van N$1 per dag per vierkante meter, sê hy.

Met sewe patente op sy naam in Suid-Afrika geregistreer, het Schroeder se tegnologie sedert die aanvanklike KBB 140- en 220-messelblokke in 2006 tot die nuutste AK Super Block in 2018 uitgebrei.

Hy vervaardig en toets elemente van sy tegnologie by die Habitat-navorsingsentrum in Windhoek.

Ondanks hoë internasionale pryse vir sy tegnologie kon Schroeder nie sy tegnologie op grootmaat in Namibië bemark nie.

’n N$10 miljoen-lening wat hy in 2011 by die Development Bank of Namibia (DBN) gekry het, was nie genoeg om sy vervaardigingsaanleg van die grond te kry nie, en in 2017 het die hoërhof beslis Schroeder en sy KBB-beleggers moet sowat N$8,5 miljoen terugbetaal.

Ondanks ’n hangende appèlsaak teen die besluit, het die balju op 7 November vanjaar beslag op messelwerkblokmasjiene en vorms by die maatskappy se fabriek in die noordelike nywerheidsgebied in Windhoek gelê.

Volgens Schroeder het die DBN se benadering ’n moontlike vennootskap met Italy Made, ’n Italiaanse vervaardiger, en ’n moontlike skikking laas jaar laat misluk.

Hy sê sy konsep (dummy)-masjien is gebruik om sy ontwerpe te verbeter, en die masjien kan nie sonder sy patent vir enige ander maatskappy van waarde wees nie.

Schroeder het ’n klag van diefstal teen die balju aanhangig gemaak. Hy dring daarop aan dat die masjien aan hom teruggegee word.

Schroeder het die Windhoek-munisipaliteit (CoW) genader om deel te neem aan hul beplande konstruksie vir laekostebehuising deur die gebruik van alternatiewe boutegnologie en -materiaal.

Die oorspronklike uitnodiging wat in Mei uitgestuur is, se spertyd het verstryk. Die CoW het hom ingelig ’n nuwe tender sal vroeg in die nuwe jaar uitgestuur word.

Me. Ndapandula Kawalu, een van studente, is besig met haar meestersgraad in strukturele ingenieurswese. Sy sê haar navorsing gaan oor om ’n oplossing vir Namibië se vraag na laekostebehuising te kry.

Me. Martha Hailono se navorsing gaan oor dorpsbeplanning en siviele ingenieurswese.

Die studente gaan intussen met hul navorsing voort tot einde Februarie 2020.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer