Alweendo: Duitsland is ons gemene vyand
Alweendo: Duitsland is ons gemene vyand

Alweendo: Duitsland is ons gemene vyand

Die minister van myne en energie is ontsteld oor die wyse waarop die volksmoorddebat tot dusver verloop het.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – Die stryd vir herstellende gereg­tigheid vir die volksmoord wat op Namibiese grond gepleeg is, behoort nie landsgenote teen mekaar te laat draai nie, maar behoort hulle eerder te verenig terwyl hulle hul gemeenskaplike vyand – Duitsland – konfronteer.

Dié pleidooi het Dinsdag in die Nasionale Vergadering (NV) weerklink toe mnr. Tom Alweendo, die minister van myne en energie, sy insette gelewer het rakende die debat oor Duitsland en Namibië se gesamentlike verklaring oor volksmoord.

Alweendo is ontsteld oor die wyse waarop die debat tot dusver verloop het.

“Die debat het soveel onenigheid gesaai, en het soms in 'n moddergooiery ontaard. Ons noem mekaar name. Ons verwys na mekaar as marionette en omkoopbaar. Sou ons op hierdie pad voortgaan, is ek bevrees die nalatenskap wat deur die verdeel en heers-filosofie gelaat is – die verdeling van ons teen hulle – sal aanhou floreer,” het hy gewaarsku.

Die Swapo-wetgewer sê die land het al tevore moeilike gesprekke gehad en sal dit op die pad vorentoe steeds hê.

“Kom ons maak gebruik van hierdie geleentheid om sterk alliansies buite ons stamgrense te smee. Kom ons gebruik hierdie hartseer werklikheid om te verenig en ons strewe na nasieskap te versterk,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê dis teleurstellend dat Namibiërs met verskillende politieke sienings en van verskillende stamme dit goeddink om mekaar te beledig en te verneder terwyl hul gemeenskaplike vyand eintlik Duitsland is.

“Dis onvermydelik dat ons verskillende standpunte sal hê, soos oor hoe om voort te gaan. Maar net omdat ons hieroor verskil, kan ons – as lede van hierdie verhewe huis – nie debatteer asof ons vyande is nie; ons is nie die antagoniste hier nie. Ons gemeen­skaplike teenstander is Duitsland. Dis Duitsland wat moet boet,” het hy onomwonde verklaar.

Oor die pad vorentoe het Alweendo gesê die ooreenkoms wat tussen die Namibiese en Duitse regerings bereik is, kan nie in geheel verwerp word nie, aangesien drie kernpunte bereik is: “Die Duitse regering het aanvaar dít wat in 1904 gebeur het, was inderdaad volksmoord; hulle het ingestem om om verskoning te vra, asook om skadevergoeding te betaal.”

Alweendo sê egter die N$18 miljard wat oor 30 jaar betaalbaar is, is “jammerlik onbeduidend en kan nie gelykgestel word aan die daad van volksmoord wat gepleeg is nie”.

“Nie net is die bedrag nie in ooreenstemming met die dade wat gepleeg is nie, maar dit moet ook oor 'n buitensporige lang tydperk van 30 jaar uitbetaal word – sonder om die tydwaarde van geld in ag te neem. Ons reken Duitsland kan meer bied. Ons dink Duitsland het ons in hierdie opsig met minagting behandel.”

Die debat oor volksmoord duur in die NV voort, met die Huis wat oën­skynlik volgens partygrense verdeel is. Die meerderheid Swapo-parlementslede dring daarop aan dat die ooreenkoms deurgevoer word, terwyl die meerderheid in die opposisiebanke dit heeltemal verwerp het.

Tradisionele leiers van die betrokke gemeenskappe het die ooreenkoms ook verwerp.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!