Amateur en sy afrigter eis glo geld

'n Plaasvervanger is vir DG Wiese vir die hoofgeveg gevind.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 12 Rounds Boksakademie bied in samewerking met Salute Boksakademie vanaf sesuur vanaand 'n amateurbokstoernooi by die Deo Gloria-saal in Schlettweinstraat, Pionierspark, aan.

Die swaargewig DG Wiese sou vanaand in die hoofgeveg teen die groter en meer ervare Paavo Ben (onoorwonne in sewe gevegte) van Omuthiya deur die toue geklim het.

Die Ben-kamp het egter ander planne gehad. Riaan Coetzee van 12 Rounds het vroeg gisteroggend 'n telefoonoproep van Ben se afrigter ontvang wat geld vir sy bokser se geveg geëis het.

“Ons is honger en wil N$6 000 voor die geveg hê, ander boks Ben nie,” het die afrigter glo aan Coetzee gesê.

Nadat Coetzee, die ondervoorsitter van die Khomas boksbeheerraad, vir Ben en sy afrigter die pad terug huistoe beduie het, het hy die voorval dadelik aan sy president, Benjamin Rebang, gerapporteer.

“Ek het vir Damian (Ben se afrigter, van onbekend) gesê daar bestaan nie so iets dat 'n amateurbokser geld vir 'n geveg ontvang nie en ek het die president van die voorval ingelig.

“DG se geveg gaan voort, teen 'n nuwe teenstander van Windhoek. Ons was gelukkig om Faruiko Kako­lolo van die MTC Sunshine Boks­akademie as opponent te kry,” het Coetzee aan Republikein gesê.

Met drie gevegte (een verloor) agter die blad is Kakololo self nie die mees ervare kalant nie, maar beloof om met sy lengte en handspoed 'n styltoets vir Wiese in die hoofgeveg te bied.

“DG (tevore 'n Namibiese rugbyspeler) is 'n gebore vegter en staan vir niks en niemand terug nie. Hierdie sal sy derde geveg wees; die vorige twee het hy beide met uitklophoue beklink.

“Sy laaste geveg Desembermaand was 'n harde een, maar sy teenstander kon nie DG se krag hanteer nie en is met 'n tegniese uitklophou uitgetel. As DG teen Ben kon boks en hom klop, sou hy beslis die nommer een swaargewig in die land gewees het,” vertel Coetzee.

Regstreekse videostroom van die gevegte sal gevolg kan word deur die toep (app) TeeVee Africa op jou slimfoon af te laai.



APTYTWEKKERS

Eerste op die voorprogram boks Immanuel Nghilongwa (Salute) en Naftal Naftal (After School-sentrum) in die ligvlieggewigafdeling (46-49 kg). Beide het 20 gevegte agter die rug en elkeen het drie keer verloor.

'n Nuutjie is twee vroue, Miriam Nghilongwa (Salute) en Iris Rodriques (12 Rounds) wat toeskouers gaan trakteer. Nghilongwa het al drie gevegte met oorwinnings op haar getuigskrif. Rodriques was nog nie in 'n boksgeveg nie, maar het wel in die gemengde gevegskunste (MMA) gepresteer.

“Miriam het goeie voetwerk, terwyl Iris die sterker een met goeie tegniek is,” sê Coetzee.

Gian van Wyk (12 Rounds) takel Glorious Esau (Salute) in die swaargewigafdeling. Beide boksers is 16 jaar oud en klim vir die tweede keer in die kryt. Die manne het al tevore mekaar die styd aangesê waar Esau met punte geseëvier het. Van Wyk sal die saak wil regstel en vanaand beloof om 'n tipiese swaargewiggeveg te wees waar groot houe uitgedeel en gevat word. Esau en Van Wyk is beide lede van die Khomas boksspan.

Die weltergewigte (64-69 kg) Patrick Karsten (12 Rounds, 3 gevegte, 3 wen) en Robert Ndalelwa (MTC Sunshine, debuutgeveg) behoort ook vir 'n aksiebelaaide ontmoeting te sorg.

Gemeet aan Karsten se vorige geveg wat hy Desembermaand by Wanderers gewen het, sal hy weer sy beste met 'n hoë werktempo lewer. Karsten het gewys dat hy 'n hou kan vat en terugkom nadat hy vroeër in die einste geveg met harde houe geskud was.

Die middelgewig Gerrie du Plooy van Rundu het reeds nasionale kleure as 'n amateur verwerf en klim teen ene Mogotsi van die NDF in die kryt. Du Plooy se 12 gevegte en elf seges spreek vanself. Nadat Mogotsi verlede jaar deur Wiese uitgeslaan was, het hy hom by die Salute-span aangesluit. Beide boksers is manne wat die kryt se volle ruimte gebruik en is nie bang om in 'n vuisgeveg betrokke te raak nie.

Die 16-jarige Ben Horn is een van 12 Rounds se talentvolste boksers en het 'n groot toekoms wat op hom in die kryt wag.

“Ben Horn (3 gevegte, 3 gewen) durf die 20-jarige Martin Kwedhi van Salute (2 gewen, 1 verloor) in die lig­swaargewigklas (75-79 kg) aan. Teenstanders sukkel om Ben se krag te hanteer en hy is 'n moeilike kalant om raak te slaan. Ek is half bekommerd omdat hy sy knie beseer het, maar hy dring daarop aan dat die geveg moet voortgaan. Ben en Patrick was oorweeg vir die Khomas boksspan, maar hulle is beide te jonk,” het Coetzee verduidelik.

Riaan Coetzee is die hoofafrigter van 12 Rounds se amateurboksers, terwyl Samuel Kwedhi sy eweknie by Salute is. Saam rig die twee die Khomasspan af wat op 10 Mei by die Namibiese Jeugspele in aksie sal wees.

Kaartjies vir belangrike persone is reeds uitverkoop, maar gewone toegang is teen N$100 by die deure beskikbaar.

“Baie dankie aan Highway Importers, Champion Toffees, Mikel-Jes en 7 Star energiedrankies wat as borge die toernooi moontlik maak,” het Coetzee gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer