Amazing Glaze - Sarie Maritz stal uit

Jacqueline Louw
Die keramiekkunstenaar Sarie Maritz hou in November weer ’n uitstalling van haar nuutste werk.
Dié besonderse vrou is meer as net ’n kunstenaar wat haar tyd ligjare vooruit was: Sy is ’n gesinsmens, akademikus, kunskenner, boekeliefhebber, uitmuntende fotograaf en ’n legende in die pottebakkerswêreld.
Dit is ’n sonnige lenteoggend toe ek deur die welige tuin na Sarie se huis stap vir ons onderhoud. Haar leefkamer is knus met die warmte van hout en mooi pottebakkerswerk. Oor ? koppie tee ontvou die storie van ’n veeldimensionele vrou wat van jongs af skeppend was.


Jeug
Sarie is in Rustenburg in die destydse Transvaal gebore en het daar grootgeword.
Haar pa was eers ? biologieonderwyser en later ? boer en haar ma het Engels- en Latyn-onderrig gegee. Die familie is ’n kunssinnige dinastie: Haar pa het skilderye versamel, haar grootouers aan beide kante het werke van Pierneef besit, ? tante het geskilder en haar kinders is ook almal skeppende mense.
As kind het sy vakansies op die familieplaas deurgebring waar sy en haar suster met klei gespeel, voorwerpe gemaak en in die vuur gebak het. ? Geliefkoosde speletjie was om patrone in die sagte klei van ? leë dam te maak. So het haar liefde vir klei as medium begin, maar sy het nie toe al gedink dat sy ? pottebakker sou word nie. Op 12 het haar pa vir haar ? Kodak-kamera as geskenk gegee wat haar ook oneindige plesier verskaf het. Sarie se ouers het geglo hul kinders moes verder studeer, maar het hulle nie aangemoedig om onderwysers of verpleegsters te word nie. Uiteindelik het die natuurkind met die slim kop argitektuur gekies.


? Moderne vrou
As jong vrou en ma het Sarie klas in argitektuur aan die universiteite van Pretoria en Port Elizabeth gegee.
Ten spyte van haar bedrywige lewe het sy ? kursus in pottebakkery voltooi en die res is geskiedenis. Die pottebakkerskuns is ? komplekse kunsvorm met vele onvoorspelbare elemente. Sy gesels ondernemend en met gesag oor die “alchemie” van keramiekkuns en vergelyk die proses met die speel van ? musiekinstrument. Haar strewe is om “die beste note” voort te bring met die medium en instrumente tot haar beskikking. Ek kan nie help om haar te sien as ’n aardse godin wat betowerende werke skep nie. Ek het haar 'n paar vrae moes vra.


Hoe beïnvloed jou opleiding as argitek jou keramiekkuns?
Argitekte word geleer om gebou-ontwerp as probleemoplossing aan te pak.
? Mens leer navorsing doen oor menslike, tegniese en historiese voorbeelde. Jy gaan analities te werk en die driedimensionele oplossing van ’n gebou in die omgewing waarin hy opgerig word en moet pas is die einddoel. Jy leer om rasioneel en sistematies te werk. Maar die kreatiewe brein moet ook deurentyd betrokke wees. Al daardie aspekte het my beïnvloed.
Keramiek is meer “hands on”, meer onmiddellik. Dis minder intellektueel, en jy doen alles self in teenstelling met argitektuur waar ? hele span betrokke is.


Wanneer het jy met pottebakkerswerk begin?
Ek is van kleins af aangemoedig om te teken en te verf en het kuns as sewende vak in matriek geneem.
In my opleiding as argitek is ek geleer om tegnies te teken, in perspektief te teken - jou brein word ingespan. Later, toe ek getroud is en al ’n jong ma was van twee, het ek die rol van huisvrou en moeder, ek moet erken, ontmoedigend gevind. Te veel eise, doeke, kos, die ma staan amper dag en nag op aandag. My suster was destyds 'n lektrise by die Technikon se kunsdepartement en het my genooi om by pottebakkersklasse vir kunsstudente aan te sluit. Dit was my eerste ontmoeting daarmee.
Klei is ’n wonderlike gevoelsmateriaal. Jy vorm, laat dit droog, bak dit, glasuur dit, bak dit weer, en so waarlik, die transformasie! Dit is towerkuns - ’n proses, maar jy is intens bewus van die gevoel van die klei tussen jou vingers en die manier waarop dit elke druk en vingermerk ontvang.


Begin die kreatiewe proses met ’n sekere beeld in jou verbeelding of kry jy inspirasie soos jy vorder met ’n werk?
Sommige mense begin met ’n duidelike voorafkonsep.
Ek nie. Die proses lei my tot verdere inspirasie. En mens verfyn jou kuns oor die jare.


Wat inspireer jou?
Daar is so baie.
Die tyd voor sonop, net na die eerste reëns, kameeldorings soos skimme uit die mis voor die duine. ’n Spinnerak se glinster waar dit tussen drie grashalms span. In die nat swart boombas van stompe van oer oue kameeldoringbome wat afgekap is om plek te maak vir landerye, sien ek patrone soos gestolde, gefolterde lawa. ’n Brawe groen rankertjie wat boontoe beur uit die dooie gras.
Ek neem ook foto’s en kyk daarna op die rekenaar. Dit is een van die dinge wat my inspireer. Dis indirek. En dit kom ook uit die werk self, ek moet net opdaag, soos Woody Allen sê, “Eighty percent of success is showing up.” In my geval kom tagtig persent van my inspirasie uit die werk self. Natuurlik werk alles wat in die brein is bewustelik en onbewustelik saam om iets voort te bring.


Wat is die tegnieke wat jy graag gebruik, wat is die uitdagings wat jy teëkom en wat is die vaardighede wat dit verg?
Dit neem lank om ’n gevoel vir die kwaliteite van die klei te ontwikkel.
Vaardigheid om ? pot op die wiel te draai kom net na baie oefening. Dis iets soos fietsry, of om die viool te speel (ja, ek durf dit vergelyk). Balans en aanvoeling vir hoe veel of hoe min kontrole om toe te pas, is belangrik. Om met die hand te werk is eenvoudiger, want dis stadiger. In Windhoek se kurkdroë klimaat is dit essensieel om die voggehalte van ? stuk waaraan mens oor tyd gaan werk, volkome te kan beheer.
'n Mens moet die werke toedraai soos groente en ek het ’n ou yskas sonder verkoeling, maar lugdig, wat die werk klam hou vir ’n ruk.
Glasuur is ? uitdaging - die samestelling en byvoorbeeld die aanwending daarvan sodat dit eweredig is. 'n Mens moet kennis hê van grondstowwe.
Dis nogal ’n uitdaging om in Namibië te werk. Daar is nie winkels waar 'n mens gou jou klei, glasuurmateriale, pigmente of instrumente kan gaan koop nie. Alles moet bestel word, dit neem tyd, vervoerkoste maak alles nog duurder as elders en dan is daar ook invoerbelasting. Verder is dit nie maklik om elders in die wêreld uit te stal nie, keramiek is swaar en groot en breekbaar.


Waarna streef jy as kunstenaar?
Elke stuk wat uit my hande gaan, moet my tevrede stel.
Ek moet voel dis reg, dis ’n “stuk”. Dit is my hoogste ideaal, maar helaas, ek moet dikwels die minder bevredigendes ook aanvaar.


Is kleur 'n belangrike deel van jou werk? Hoe sien jy die interaksie tussen kleur en ander elemente van keramiekkuns?
Pers en pienk bougainvilleas, lila jakarandas, goue silwereike: Stukkies juweelkleur in die grys stadslandskap, dis wonderlik, dit gee my ’n hou in die maag, die ”gut feeling”.
Ek hou baie van kleur. Ek hou van bont. Ek hou van patroon. Al die elemente van ontwerp is egter betrokke wanneer mens werk.
Die klassieke meesters in die skilderkuns en argitektuur het dit al meer as tweeduisend jaar gelede geformuleer. Die ruimte wat die vorm omsluit, is ewe belangrik as die oppervlak wat daaromheen strek. ’n Soort spanning, ’n gestrektheid is wenslik. Dink hoe mooi is die mollige arm van ’n baba. So ’n gevoel moet die wand van die kruik vir jou gee. Daar’s meer aspekte ten opsigte van byvoorbeeld saamgestelde vorms, byvoorveeld ’n teepot, wat oorweeg moet word in die skeppingsproses. Wat moet domineer, die tuit, die handvatsel, of dalk die knop op die deksel?
Verhoudings is belangrik. Ek kan baie lank hieroor uitwei. ’n Enorme bak lyk dalk verspot met ’n piepklein voetjie, maar elegant op ’n hoë een. Tekstuur speel ’n rol. Die klei kan fyn wees soos porselein of grof soos baksteenklei. Mens kan sand of gemaalde potskerwe bybrei. Daar is oneindige moontlikhede in amper elke stadium waardeur die klei gaan vanaf die vars tot die droë artikel.
Klei het die eienskap om elke impressie wat daarop gemaak word, te behou. Dink aan al die maniere waarop dit gemanipuleer kan word met impressies. Jy kan ’n baba se voetspoor daarin verewig! Wanneer die klei klaar gevorm is en verstyf het tot ’n leerharde stadium kan dit gekerf of gekrap word. Op die leerharde stadium kan 'n mens kleurvol of stemmig verf. Ek dink vorm, ruimte, kleur, patroon, die spel van lig en skadu om tekstuur te toon, al die elemente, drie en twee dimensioneel, is ter sprake. Maar in teëls, byvoorbeeld, is klei tweedimensioneel.


Keramiekkuns is een van die mees komplekse kunsvorms, dit het elemente van beeldhouwerk, skilder, grafiese ontwerp en dit moet soms ook gebruikersvriendelik wees. Hoekom is keramiekkunstenaars nie meer prominent op die kontemporêre kunstoneel nie?
Dit begin al by die klassifikasies wat al in die goue eeu, 500 v.C., in Griekeland begin het tussen wat beskou is as die liberale kunste, geskik vir die aristokrasie, soos retoriek, wat onder meer poësie en drama insluit.
Die pottebakkers wat die amfora en kruike gemaak het, was gewone werkers, waarskynlik slawe. Maar die kunstenaar wat dit versier het met tonele uit die lewe, was hoër geag. Die Romeine het baie van die Griekse kultuur herontdek en oorgeneem en so is dieselfde beskouing in die Renaissance voortgesit. Daardie filosofiese benaderings is aan die wortel van ons Westerse kultuur en leef steeds voort.
Status word ook bepaal deur tradisie. In Indië is die landelike pottebakkers waarskynlik nog van die laagste van die sewe klasse. In Amerika is daar egter ’n sterk beweging ten opsigte van die keramiekkuns. Dis ’n gerekende vak aan universiteite en skole, mense word goed opgelei, daar is dus ook werksgeleenthede vir lektore en onderwysers. Omdat die vak en beroep ernstig opgeneem word, is daar baie mense wat dit beoefen, wat publiseer, wat navorsing doen, wat uitstal, deelneem aan die groot pottebakkersmarkte waar hulle stalletjies het en hulle ware vertoon word, van die nederigste en bekostigbaarste tot die versamelaarstukke teen hoë pryse.
Navorsing en publikasies bestaan. Daar is verskaffers van klei ‘bodies’ geskik vir elke doel, van toerusting en apparaat, van grondmateriale, pigmente, klaarvoorbereide glasure, oonde en wiele. Die bedryf is tradisioneel in die verre en nabye Ooste en in Europa. En die huidige geslag mense het al die historiese kennis tot hul beskikking.
In Namibia is geen kuns van hoë aansien nie. Miskien sal die visuele en die plastiese kunste in die toekoms, wanneer ons nasie groter volwassenheid bereik het, weer sy regmatige plek in opvoeding en in die samelewing vind. Daar is versamelaars en dus ’n mark vir die produkte van die keramiekkunstenaar en pottebakker.


Jy is 'n bekende keramiekkunstenaar en 'n inspirasie vir baie jong kunstenaars. Wie is die kunstenaars wat jou beïnvloed en geïnspireer het aan die begin van jou loopbaan?
Bernard Leach se A Potter’s Book en Marietjie van der Merwe en Hylton Nel as ek nou daaroor dink.
Marietjie en Hylton se totale toewyding, hul dieper lewensbeskouings en hul integriteit het my oë verder oopgemaak vir die wêreld van keramiek en die vlammetjie aangeblaas.
Werkskole aangebied deur meesters in die vak oor die hele wêreld, gereël deur die verenigings van pottebakkers in Suid-Afrika en Namibië, het my kennis verbreed. ’n Toer na Japan, gereël deur Maarten Zaalberg, was ? besonderse hoogtepunt en het my bewus gemaak van die status wat keramiek in Japan geniet. In Japan is daar oral uitstallings, selfs in afdelingswinkels. Daar is kunsgalerye soos wat jy slegs in ons nasionale galery of die Omba-galery vind. Dit is glad nie soos in ? winkel nie en die mense kom kyk. Hulle stelsel van eer verleen aan die bewaarders van kosbare tradisies is wonderlik.


Watter raad sal jy aan jong kunstenaars gee? Hoekom sou ? mens keramiekkuns as ? medium oorweeg vir die uitdrukking van idees?
As jy gelukkig genoeg is om daaromtrent te kan leer, as dit jou begeester, doen dit.
Ondersoek dit ten minste. Klei is ’n plastiese, vormlose materiaal. Dit is nie klip of hout of die plat skilderdoek nie. Dit is ’n materiaal wat eers lewe as die kunstenaar en die klei mekaar verstaan. En die oond, daardie smeltkroes, gaan ook eise stel. Doen alles en kies dan die ding wat jou vreugde gee.


Wat is jou gunsteling aspek van pottebakkery?
Die proses van vorm gee en dekoreer vind ek ’n blywende plesier.
En natuurlik die oond oopmaak, die finale toets, wanneer daardie ding wat twee maande gelede nie eens in ’n droom bestaan het nie, omgetower verskyn, Aspoestertjie uitgedos in haar baltabberd (soms eerder ’n Godzilla, of ’n Brolloks).


Is daar enige doelwitte wat jy vir jou lewe en/of jou loopbaan het?
Ja. Om ’n vol lewe te lei.
Daar’s meer omtrent die lewe as mens se werk (sê die asosiale “workaholic”). Ek sal liewer praat oor doelwitte as hulle bereik is. Nie nou nie.


Wat is die belangrikste ding in jou lewe?
Om jouself te ken en om dinge objektief te beskou.
Onbevangendheid gee vrede.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!