• Tuisblad
  • Sake
  • Amazon se aandeelprys val ná Trump se twiets

Amazon se aandeelprys val ná Trump se twiets

Amazon.com se aandeelprys kan slae kry ná Pres. Donald Trump oor Paasnaweek weer via Twitter dié internetreus se sakemodel gekritiseer het.

Saterdag het Trump vir die tweede keer in drie dae onder Amazon ingeklim en gesê die groep “moet nou werklike koste en belasting betaal.”

Die president het ook daarop aanspraak gemaak dat die VSA se posdiens (USPS) “gemiddeld US$1,50 verloor vir elke pakkie wat hy vir Amazon aflewer” en bygevoeg dat Amazon nou sy “poskantoor-slenter” moet laat vaar.

Trump het nie die bron van sy inligting bekend gemaak nie.

Amazon het teruggekap dat die poskantoor, wat jare lank reeds onder finansiële probleme gebuk gaan, meer geld uit sy (Amazon se) pakkies maak omdat die maatskappy die meeste van die verwerking self doen.

Amazon het Woensdag US$53 miljard se markwaarde verloor ná ’n berig deur Axios dat die president ’n “obsessie” het daarmee om die maatskappy te reguleer.

Amazon se stigter en uitvoerende hoof, Jeff Bezos, is ook die eienaar van die Washington Post.

Die verlies het egter Donderdag op ’n verkorte handelsdag weer verklein selfs nadat Trump getwiet het dat Amazon die USPS as sy “afleweringsbode” gebruik.

Die aandeel het verlede week met 3,2% gedaal, maar teen Donderdag net 1,1% laer op US$1 447,34 gesluit, wat die maatskappy se markkapitalisasie op US$700,7 miljard te staan bring.

’n Woordvoerder vir die Wit Huis, Lindsay Walters, het Donderdag gesê hoewel die president ontevrede met Amazon is, en veral met omstandighede waaronder derdeparty-verkopers op die webtuiste nie verkoopsbelasting invorder nie, word daar geen administratiewe stappe “vir die huidige” teen die internetreus beplan nie.

Tog het ’n Trump-raadgewer, Brad Parscale, wat Trump se presidensiële veldtog vir 2020 bestuur, Vrydag in ’n reeks twiets daarop gesinspeel dat die administrasie kan optree om posgeld vir Amazon se pakkies te verhoog.

Washington Post

Hy het ook gesê hy twyfel of die Washington Post “ooit die waarheid oor Amazon se regeringsubsidie sal berig.”

Amazon.com en die Washington Post is op gereelde grondslag in Trump se spervuur.

In Julie het die president gewonder of die koerant as ’n wapen vir ’n belangegroep gebruik word om die Amerikaanse kongres daarvan te weerhou om ondersoek na Amazon se sakepraktyke te doen.

Saterdag het Trump weer hierdie sentiment uitgespreek toe hy die Washington Post as “fopnuus” bestempel het en gesê het die koerant behoort as ’n steunwerwer te registreer omdat dit as sodanig gebruik word.

Amazon gebruik die USPS daagliks op die sogenaamde “laaste myl” van die aflewering by sowat 150 miljoen wonings en sakepersele.

Die internetgroep het ’n netwerk van meer as 20 sorteersentrums waar sy pakkies volgens poskodes gesorteer word, op palette opgestapel word en dan by poskantore afgelewer word wat die finale aflewering doen.

Omdat die ooreenkoms tussen Amazon en die USPS vertroulik is, is daar nie volle besonderhede oor die koste beskikbaar nie.

David Vernon, ’n ontleder by Bernstein Research, het in 2015 bereken dat tot 40% van Amazon se volume in die vorige jaar deur die USPS gehanteer is.

Hy het toe bereken dat Amazon die posdiens US$2 per pakkie (R23,66) betaal, wat sowat die helfte is van wat die maatskappye United Parcel Service en FedEx betaal.

’n Skielike styging in posgeld sal Amazon omtrent US$2,6 miljard per jaar kos, volgens ’n verslag wat in April 2017 deur Citigroup vrygestel is.

Citigroup het ook gesê die “ware” koste om pakkies af te lewer is omtrent 50% hoër as die tariewe wat USPS tans vra, en dit lê waarskynlik agter die beskuldigings deur Trump dat Amazon deur die poskantoor “gesubsidieer” word.

Die nasionale posdiens se verlies het egter minder te doen met Amazon as met sy verpligtinge teenoor die gesondheidsektor en al minder briewe wat gepos word. Die USPS se seëls is reeds van die goedkoopste ter wêreld in ’n poging om die neiging te probeer omkeer.

Amazon sê in sy verklaring die poswese se regulatoriese kommissie het deurlopend bevind Amazon se kontrakte met die USPS is winsgewend.” – Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!