Ambagsmanne baat by opleiding

Mariana Balt
Die Cheetah Conservation Fund (CCF) het onlangs by die sentrum buite Otjiwarongo aan 'n groep van 20 Namibiese ambagsmanne uit die Groter Waterberg-omgewing opleiding verskaf. Hulle was afkomstig uit vyf bewaringsgebiede rondom die Waterberg Platopark, naamlik Ozonahi, African Wild Dog, Otjituuo, Okamatapati (bekend as Hereroland) en die Waterberg-bewaringsgebied. Opleiding is deur die Peace Jewellery Collection, wat spesialiseer in die vervaardiging van juwele uit halfedelstene en leerwerk, gegee.
Oor 'n tydperk van drie dae het die ambagsmanne geleer om hul kunswerke te maak, te verpak, te etiketteer en te bemark. Die groep het uit mans en vroue bestaan wat reeds by die vervaardiging van sulke kunswerk betrokke is.
Die stigter van Peace Collection, Ricky /Xhaxab, was beïndruk met die spoed waarmee die groep dit onder die knie gekry het en geleer het om saam te werk. “Ek hoop dat hulle voortaan saam sal werk om hul produkte onder die naam van die Groter Waterberg-omgewing te bemark.
Die opleiding sou ook help om die gemeenskappe van 'n beter inkomste te voorsien. “Sulke opleiding is belangrik vir die CCF aangesien vooruitstrewende gemeenskappe 'n noodsaaklike faktor vir die behoud van die jagluiperd is,” glo dr. Laurie Marker, stigter en uitvoerende direkteur van die CCF.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer