Ambassade steun gesondheidswerkers
Ambassade steun gesondheidswerkers

Ambassade steun gesondheidswerkers

Sewe streke gedek
Die Amerikaanse ambassade in Namibië ondersteun 24 nuwe tydelike gesondheidswerkers by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in die stryd teen Covid-19.

Die tydelike werkers wat in Oktober in diens geneem is, is vir drie maande aangestel en werk in sewe streke om die oordrag van Covid-19 in die land te verminder.

Hoewel dit wil voorkom asof die aantal gevalle in talle streke van die land afneem, is die ministerie waaksaam vir enige uitbrekings, vinnige verspreiding in gemeenskappe en ’n tweede vlaag van oordrag.

Die finansiering deur die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming, ondersteun twee databestuurders, twee openbare gesondheidsbeamptes, sewe opsporingsbeamptes, sewe administratiewe beamptes en ses ingeskrewe verpleegsters.

Die personeel is ontplooi as deel van die ministerie se streekspanne in Khomas, Erongo, Zambezi, Kavango, Omaheke, ||Kharas en Ohangwena. Die databestuurders en openbare gesondheidsbeamptes sal in die nooddienssentrum help met die monitering en koördinering van die nasionale reaksie tot Covid-19.

Die opsporingsbeamptes is direk betrokke by die opspoor van kontakte en die identifisering van groepe gevalle wanneer en waar dit voorkom. Dit sal die ministerie in staat stel om die “persoon, plek en tyd” van uitbrekings te bepaal wat noodsaaklik in openbare gesondheid is. Dit sal ook die regering in staat stel om te voorspel waar verdere uitbrekings kan voorkom en die nodige stappe neem om dit te verhoed.

Die administratiewe beamptes sal diens verrig in die opspoor van kontakte en ook die bestuur van rekords om te verseker inligting oor die uitbreking word op streek- en nasionale vlak ontvang.

Die ingeskrewe verpleegsters is op hul beurt verantwoordelik vir die toets en versorging van Covid-19-positiewe pasiënte wat in regeringsgeriewe geïsoleer word. Hulle is ook verantwoordelik vir die voorkoming en beheer van infeksie onder gesondheidswerkers.

“Die ambassade se toegewyde ondersteuning in die reaksie tot Covid-19 kan ’n betekenisvolle verskil maak. Ons leef reeds vir byna agt maande saam met die virus en gesondheidspersoneel is oorlaai om noodsaaklike dienste te verrig. Die nuwe, bykomende personeel sal kapasiteit in ’n kritieke tyd verhoog om die suksesse wat reeds behaal is in die vermindering van oordrag te handhaaf,” sê me. Lisa Johnson, die Amerikaanse ambassadeur.

“Die finansiering om die 24 tydelike personeel aan te stel, is deel van ’n skenking van N$100 miljoen in die stryd teen Covid-19 wat in April deur die Amerikaanse ambassade aangekondig is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer