Amcu bly 'n doring in mynbase se vlees
Elvira Wood – Die mynwerkersvakbond Amcu sal steeds ’n doring in die vlees van vele mynmaatskappye bly.
Dit kom nadat die departement van arbeid Maandag in ’n verklaring gesê het dat hy sy planne laat vaar het om die vakbond se registrasie te kanselleer.
Daniel Molefe, registrateur van arbeidsverhoudinge, het op 24 April ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer waarvolgens hy dié vakbond se registrasie by die departement van arbeid wou kanselleer.
Molefe het aangevoer dat die vakbond het opgehou om ingevolge sy grondwet te funksioneer; en dit is nie ’n ware vakbond soos in die Wet op Arbeidsverhoudinge omskryf word nie.
Amcu het heftig gereageer en onmiddellik alle aantygings ontken.
Die departement sê Maandag in sy verklaring dat ná afloop van ’n vergadering met Amcu en nadat die vakbond verskeie dokumente ingedien het, is besluit om nie die registrasie te kanselleer nie.
Een van die twispunte tussen die departement en Amcu was dat hy nie sy vyfjaarlikse nasionale kongres in 2018 gehou het nie.
Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het in April op ’n mediakonferensie gesê die vakbond hét die registrateur van arbeidsverhoudinge lankal reeds ingelig dat sy kongres tot Mei vanjaar uitgestel is.
Dit is sedertdien wéér uitgestel.
Dit sal nou van 18 tot 20 September plaasvind.
Platinum
Amcu is juis tans in ’n stryd met platinummyne oor lone gewikkel.
Dié sektor is tans besig om oor lone vir die volgende drie jaar te onderhandel.
Volgens Mathunjwa is Impala Platinum (Implats) en Anglo American Platinum (Amplats) se aanbiedinge “naby genoeg” om mee te werk.
Sibanye-Stillwater se aanbod, aan die ander kant, is deur Amcu verwerp as ’n “skokkende” syfer.
Sibanye-Stillwater het besluit om afsonderlik met vakbonde by die voormalige Lonmin-myne te onderhandel en het ’n verhoging van slegs R300 aangebied. Die groep het onlangs die sukkelende Lonmin gekoop.
Mathunjwa het op 13 Augustus gesê die onderhandelinge het reeds erg versuur en dat die vakbond nie eens gaan staak nie, maar “’n revolusie gaan begin”. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie