Amerika en Iran verf hul in hoek vas
Sowat ’n vyfde van die wêreld se olieverbruik word deur die Straat van Hormoes, die toegangspoort tussen die Persiese Golf en die Indiese Oseaan, vervoer.
Leopold Scholtz - Die wêreld beweeg al hoe nader aan ’n militêre botsing tussen Amerika en Iran.
Amerika se minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het Iran die afgelope week daarvan beskuldig dat hy agter die aanvalle op vier olietenkskepe in die Persiese Golf sit, maar Iran het dit ontken.
Pompeo se redenasie was dat die aanvalle so goed georganiseer en met sulke gevorderde wapens uitgevoer is dat slegs ’n staat dit kon doen.
Amerika het ook ’n vae video uitgereik waarop gesien kan word hoe ’n klein bootjie vermoedelik ’n onontplofte seemyn aan die kant van ’n tenkskip verwyder, maar dit was nie duidelik waar die bootjie vandaan kom nie.
Dit het die politieke temperatuur nader aan kookpunt gestoot.
Die Japanse premier, Sjinzo Abe, was verlede week in Teheran om die Iranse regime te oorreed om die rusie af te skaal, maar die Iranse opperleier, ajatolla Ali Chamenei, het hom onverrigter sake weggestuur.
“Ek beskou Trump as mens nie waardig om mee boodskappe te wissel nie. Ons sal nie met Amerika onderhandel nie,” het Chamenei se verklaring gelui.
Iran beweer ook die aanvalle is uitgevoer deur derde partye wat ’n oorlog tussen Amerika en Iran probeer uitlok.
Pres. Donald Trump het onlangs ’n vliegdekskip en B-52-bomwerpers na die Persiese Golf gestuur as dreigement teen Iran. The New York Times het ook berig oor Pentagon-planne om 120 000 troepe na die gebied te stuur. Trump het dit ontken.
Daar word gegis dat dié berig deel is van sielkundige oorlogvoering om Teheran verder onder druk te plaas.
Ontleders vra egter waarom Iran die spanning deur die aanvalle op tenkskepe sou laat verskerp. Daar word gegis dat dit die land se manier is om terug te slaan teen die wurggreep van internasionale sanksies.
Die skade kan egter groot wees. Die Straat van Hormoes, die toegangspoort tussen die Persiese Golf en die Indiese Oseaan, is op sy smalste 39 km breed en kan maklik versper word, selfs deur die swak Iranse vloot wat bloot ’n paar seemyne daar hoef te saai.
Sowat ’n vyfde van die wêreld se olieverbruik word deur die Straat van Hormoes vervoer. Die ekonomieë van Irak, Koeweit en die Verenigde Arabiese Emirate, asook in ’n mindere mate Saoedi-Arabië, hang regstreeks af van die vrye verkeer deur die Hormoes-straat.
As dié seeweg versper sou word, kan dit die olieprys die hoogte laat inskiet. Die prys het juis Vrydagoggend al met 2% gestyg.
Trump se probleem is dat hy nie veel kan doen nie. Iran is militêr vele male sterker as Irak, en ’n Amerikaanse grondaanval op hom kan yslike verliese meebring, iets wat Trump – luidens peilings al klaar ongewild onder kiesers – groot politieke skade kan berokken.
Die alternatief is swaar lugaanvalle. Maar dít kan die Iranse bewindhebbers juis oor die randjie stoot om die Straat van Hormoes in werklikheid te sluit.
Dit lyk toenemend of sowel die Amerikaanse as die Iranse regering hulself in ’n hoek toeverf waaruit hulle moeilik sal kan ontsnap. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie