Amerika koop Metje-erwe vir byna N$200 miljoen

Konstruksie aan die nuwe Amerikaanse ambassade begin glo volgende jaar en sal in 2023 voltooi wees.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die Amerikaanse regering het sowat ses hektaar grond in Klein Windhoek aangeskaf om hul nuwe ambassade-kompleks te bou.

Die koopbedrag was byna N$200 miljoen.

Die landgoed het aan die bekende Metje-­familie behoort.

Volgens oordragsdokumente van die transaksie wat Republikein by die aktekantoor bekom het, is die twee erwe verlede jaar vir US$13,5 miljoen (N$198,99 miljoen teen die huidige wisselkoers) aan die Amerikaanse regering verkoop.

Erf nommer 353 van 5,104 hektaar is op die hoek van Metjestraat en Nelson Mandela-rylaan geleë. Die aanliggende­ erf (nommer 127) beslaan 756 vierkante meter.

Die erwe het aan drie erfgename van die bekende Metje-familie behoort. Metje & Ziegler is een van die oudste besighede in Namibië.

Volgens 'n media-assistent in die openbare skakelafdeling van die Amerikaanse ambassade, mnr. Jacques du Toit, gaan die nuwe ambassade Amerika se ultramoderne middelpunt vir diplomatieke betrekkinge, programme en openbare betrokkenheid wees.

“Die uitgebreide konsulêre kantoor sal dienste aan Namibiërs en Amerikaners verbeter. Om na die VSA te reis, sal nou makliker wees en 'n inligtingshulpbronsentrum sal Namibiërs verwelkom wat meer oor Amerika wil leer,” sê Du Toit.

Hy sê die nuwe ambassade-­kompleks sal vir die eerste keer alle Amerikaanse departemente en agentskappe­ ­byeenbring, soos die departement van buitelandse sake, die sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC), die president se noodplan vir MIV/vigs-verligting (Pepfar), die agent­skap vir internasionale ontwikkeling (USAid) en die departement van verdediging (DOD).



ONTWERP

Volgens Du Toit sal konstrukie in die helfte van volgende jaar begin en teen die einde van 2023 voltooi wees.

“Die nuwe ambassade is ontwerp om aan die hoogste standaarde van volhoubaarheid en energieverbruik te voldoen. Dit sal 'n kombinasie van Amerikaanse en Namibiese ontwerp-elemente hê,” sê hy.

“Die terrein sal die Windhoek-­omgewing se inheemse plantegroei weerspieël. Beskermde plantspesies sal op die perseel verskuif of aan die Botaniese Vereniging van Namibië geskenk word.”

Die gebou sal energie op die terrein deur middel van 'n sonkragpaneelstelsel opwek, waterverbruik verminder en soveel moontlik water na die plaas­like stelsel terugvoer vir hergebruik in Windhoek.

Oor waarom 'n Amerikaanse argitekfirma vir die nuwe ambassade se ontwerp gebruik word, het Du Toit geantwoord: “Soos alle nuwe Amerikaanse ambassades oorsee word die Amerikaanse ambassade in Namibië deur 'n Amerikaanse firma ontwerp en grootliks deur plaaslike kontrakteurs gebou.”

Volgens Du Toit het sowat 100 Namibiese kontrakteurs op 23 Julie 'n vergadering by die ambassade bygewoon.

“Die bouwerk sal miljoene dollars tot die plaaslike ekonomie bydra en tydens die piekkonstruksietyd werksgeleenthede aan honderde Namibiërs verskaf,” sê hy.

Die Amerikaanse ambassadeur, me. Lisa Johnson, sê “die nuwe ambassade­ sal dien as 'n platform van die Verenigde­ State om saam te werk, voorspoedig te wees en op die lang duur saam met Namibië te groei”.

Mnr. Hermann Metje, wat op 3 November 1906 in Lüderitz aangekom het, was die Namibiese Metje-familie se stamvader.

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!