Amerika, Rusland u2018na aan vredeu2019 in Siriu00eb
Amerika, Rusland u2018na aan vredeu2019 in Siriu00eb

Amerika, Rusland ‘na aan vrede’ in Sirië

Probeer ooreenkoms in komende dae te finaliseer
Francoise Steynberg
Amerika en Rusland is “na” aan ’n ooreenkoms wat die burgeroorlog in Sirië tot ’n einde kan bring. Albei dié lande sê hulle wil probeer om dié ooreenkoms in die komende dae te finaliseer.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het laat Vrydagaand gesê onderhandelings met sy Russiese eweknie, Sergei Lawrof, in Genève, Switserland, het “klaarheid oor die pad vorentoe” bereik, maar hulle het min besonderhede verskaf van hoe hulle beplan om ’n kortstondige skietstilstand, wat in Februarie ingestel is, te hernu en humanitêre hulpverlening te verbeter.
“Ons wil nie net ’n ooreenkoms aangaan vir die onthalwe van ’n ooreenkoms nie,” sê Kerry. “Ons wil iets daarstel wat doeltreffend is en wat die mense van Sirië dien, iets wat die streek stabieler en veiliger maak. Dis wat ons hier in Genève om ’n tafel byeenbring op soek na ’n politieke skikking.”
Pres. Basjar al-Assad se toekoms was nie deel van die bespreking nie. Pleks daarvan het samesprekings gefokus op ’n doeltreffende en langdurige oplossing om die geweld tot ’n einde te bring – iets wat die weg sal baan vir onderhandelings oor ’n politieke oorgang.
“As die oorblywende besonderhede gefinaliseer kan word, glo ons ons kan die twee grootste struikelblokke tot ’n wapenstilstand aanpak, naamlik die vergrype van die regime en die groeiende invloed van die Noesra-front,” sê Kerry.
Verlede maand het die Noesra-front, een van die sterkste opposisiegroepe, weggebreek van Al-Kaïda en sy naam verander na die Jabhat Fath al-Sjam, wat beteken die front vir die bevryding van Sirië (al-Sjam).

ONOPGELOSTE ­PROBLEME
Die joernalis, James Bays, van Al Jazeera, berig uit Genève dat verskeie onopgeloste probleme steeds oorbly. “Die doelwit van die onderhandelinge was om ’n finale samewerkingsooreenkoms te kry oor die geveg teen Isis (die sogenaamde ‘Islamitiese Staat’); om ’n 48 uur lange skietstilstand te verseker om die lyding van die mense van Aleppo te verlig; én om die politieke proses weer aan die gang te kry.
“Daar is 12 uur lank gepraat, maar hulle het misluk in dié doelwit.”
In die komende dae sal Amerikaanse en Russiese tegniese spanne, bestaande uit militêre en intelligensiekenners, besluit met watter opposisiegroepe hulle kan saamwerk, berig Reuters.
Vrydag se samesprekings kom op ’n tyd dat opposisiegroepe feitlik heeltemal onttrek het aan die Daraja-buurt van Damaskus en dit in wese ná ’n uitmergelende vier jaar lange beleg aan die regering oorgegee het.
Kerry voer aan die Siriese regime het die oor­gawe van Daraja afgedwing in oortreding van die skietstilstand van Februarie, maar Lawrof sê dié plaaslike ooreenkoms is ’n “voorbeeld wat elders in die land nagevolg moet word”.
Lawrof sê ’n ander gebied wat onder beleg is, “stel ook belang” in ’n plaaslike skikking met “hulp van die Russiese Federasie”. Hy wou nie sê watter gebied ter sprake is nie.

KOMMER OOR VEILIGHEID
Inwoners en rebelle het intussen begin om Daraja te verlaat. Sommige burgerlikes is al sedert 2012 daar vasgekeer en die Verenigde Nasies (VN) en die Rooikruis het ernstige kommer oor dié mense se veiligheid uitgespreek.
Charmain Mohamed van die Noorweegse Vlugtelingehulpraad sê hoewel die skietstaking in die dorp ’n positiewe stap is, is haar span “bekommerd oor die beskerming wat burgerlikes nou ontvang” en dat enige ontruiming van die gebied vrywillig moet wees.
Die opposisie in Sirië is erg krities oor die ontruiming en sê die interna­sionale gemeenskap het die mense van Daraja in die steek gelaat.
“Daraja het nie gekapituleer nie,” sê George Sabra van die opposisie se onderhandelingspan by die vredesamesprekings. “Dit was eerder die interna­sionale gemeenskap wat gekapituleer het en die mense van Daraja in die steek gelaat het.”
Sommige opposisiegroepe noem die ooreenkoms ’n reusagtige terugslag, omdat Soenniete nou uit hul huise gedwing word en die land verder langs sektariese foutlyne verdeel word.
“Dis deel van die regering se gedragspatroon om Soenniete uit gemeen­skappe te dwing waar hulle beheer gehad het en dekades lank al woon. In 2015 is ’n soortgelyke ooreenkoms aangegaan in Zabadani aan die buitewyke van die hoofstad,” sê Al Jazeera se Hasjem Ahelbarra.
Die Siriese burgeroorlog het sy wortels in ’n betreklik vreedsame protesbeweging teen Al-Assad in Maart 2011, maar dit het blitsvinnig oorgekook in ’n volskaalse oorlog. Vroeër vanjaar het die VN se spesiale gesant, Staffan de Mistura, bereken minstens 40 000 sterftes het weens dié konflik in die afgelope vyf jaar voorgekom.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!