Amerika se BBP vir 2016 is olie op Trump-vuur
Amerika se BBP vir 2016 is olie op Trump-vuur

Amerika se BBP vir 2016 is olie op Trump-vuur

Groei vir dié ekonomiese reus in 2016 was 'n skrale 1,6%.
Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler - Die Amerikaanse ekonomie sal van rat moet verwissel indien pres. Donald Trump se teiken van 4% groei gehaal gaan word.

In die laaste kwartaal van 2016 het die wêreld se grootste ekonomie met slegs 1,9% gegroei, vergeleke met die derde kwartaal se 3,5%.

Vir die volle 2016 het die Amerikaanse ekonomie met 1,6% gegroei, vergeleke met die 2,6% van 2015.

The Wall Street Journal beskryf dit as die traagste groei sedert die einde van die Tweede Wêreld­oorlog in 1945.

Die syfers, wat deur die land se buro vir ekonomiese ontleding uitgereik is, is die eerste van drie berekeninge wat die VSA vir ekonomiese groei uitreik. Dit word weer op 28 Februarie aangepas soos wat nog inligting bekend word, maar die eerste syfers is gewoonlik baie naby aan in die kol. Dit is ook in pas met ontleders se voorspellings.

Volgens die buro het persoonlike verbruiksbesteding, wat die grootste deel van die bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig, in die vierde kwartaal stewig gegroei. Daar was ook positiewe bydraes van vaste investering en besteding deur deelstate en plaaslike regerings.

Die syfers is afgerem deur swak uitvoersyfers en besteding deur die federale­ regering.

Invoer – wat van die BBP afgetrek word – het ook gestyg.

Volgens The Wall Street Journal sal die trae groei olie op die Republikeine se vuur wees. Saam met Trump sal hulle aanvoer die syfers regverdig drastiese hervorming van belasting, handel en regulering.

Kevin Brady, 'n Republikeinse lid van die huis van verteenwoordigers, het in 'n verklaring sy teleurstelling met die syfers uitgespreek.

“Gelukkig het ons 'n nuwe president wat Republikeine in die huis se verbintenis tot die herlewing van die ekonomie en die verbetering van die lewe van alle Amerikaners deel.”

Trump het die afgelope week weer onderneem om 'n muur tussen die VSA en Meksiko te bou en om Meksikaanse­ invoer swaar te belas. Hy dreig ook om Amerika te onttrek aan groot streekhandelsooreenkomste. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer