Amerika se rentekoers: Hoe raak dit jou?
Indien daar meer en/of groter rentekoersdalings kom, beteken dit die kanse op 'n resessie raak groter.
Christo Luüs, Sakesiening
Ons sal dié week weet hoe groot die rentekoersdaling in Amerika gaan wees. Ontleders is 100% oortuig daar sal 'n daling wees – die vraag is net met hoeveel.
Sowat driekwart van markontleders verwag 25 basispunte (0,25 persentasiepunt); die res meen die Federale Reserweraad (Fed) kan koerse met 50 basispunte sny.
Amerika se federale fondskoers – die ekwivalent van ons repokoers – het in Desember 2008 laas gedaal (tot net 0,25%) te midde van een van die ergste resessies in die moderne era.
Sedert Desember 2015 is rentekoerse in Amerika geleidelik verhoog met 25 basispunte per keer, totdat dit in Desember verlede jaar op 2,5% te staan gekom het.
Fed-amptenare het die afgelope ruk telkens gesê dit het tyd geword dat Amerika sy monetêre beleid verslap in die lig van verswakkende internasionale groei, lae inflasie en risiko's voortspruitend uit internasionale handelsbetrekkinge.
Pres. Donald Trump wil waarskynlik 'n daling van 50 basispunte sien, maar die meeste van die tien lede van die Fed se opemarkkomitee wat oor rentekoerse besluit, is waarskynlik nie te geneë om rentekoerse te vroeg met te veel te sny nie. Baie sal egter afhang van die bekendmaking van die eerste skatting van Amerika se ekonomiese groeisyfer vir die tweede kwartaal.
Soos gewoonlik sal Amerikaanse aandeelpryse oor kort termyn voordeel trek uit rentekoersdalings. Maar indien daar meer en/of groter rentekoersdalings kom, beteken dit net een ding: die Amerikaanse ekonomie begin sukkel en die kanse op 'n resessie raak groter. Dit sal verdienstegroei begin knou, waardasies opjaag en uiteindelik aandeelpryse en opbrengste negatief beïnvloed.
Junie was 'n uitstekende maand vir Amerikaanse aandeelpryse en 'n aantal ander wêreldmarkte.
Die Dow Jones het vir die eerste keer tot bo 27 000 punte gestyg terwyl die S&P 500 die vlak van 3 000 punte begin toets het. Die opbrengs op die S&P 500 was in Junie 7%, wat die totale opbrengs vir beleggers gedurende die eerste helfte van 2019 op sowat 18% te staan gebring het.
Wêreldwyd het aandelemarkte sowat US$8 000 miljard in nuwe beleggings gelok in die eerste ses maande van die jaar. Dit het die MSCI-wêreldindeks met bykans 15% opgestoot.
Europese aandelepryse het gemiddeld met 13% gestyg en die Chinese mark was sowat 20% hoër.
Die vooruitsigte vir markte is egter besig om meer negatief te draai.
Die daling in die groeivooruitsigte vir Amerika, Europa, China en ander ekonomieë skep al hoe meer onsekerheid. Die algemene siening is dus dat Amerika se aandele-bulmark momentum sal verloor in die tweede helfte van 2019.
Amerikaanse maatskappye wat meer as 50% van hul verkope in Amerika genereer, sal waarskynlik 'n gemiddelde verdiensteopbrengs van slegs 1,5% in die tweede kwartaal aanteken.
Maatskappye wat meer as die helfte van hul verkope buite Amerika genereer, se verdienstegroei kan met tot 10% daal. Die S&P 500 se algehele verdienstegroei in die tweede kwartaal het dalk reeds met sowat 2,5% afgeneem.
In teenstelling met die goeie vertoning op buitelandse aandelemarkte, het Suid-Afrikaanse aandele die afgelope ses maande maar weer 'n droewige tydperk beleef. Die JSE se indeks van alle aandele het in dié tyd met 2,4% op 'n jaargrondslag gedaal. Die dividendopbrengskoers het 3,4% beloop, wat die algehele opbrengs op 1% te staan gebring het. Dit het natuurlik nie eens inflasie van meer as 4% geklop nie.
Hierdie swak prestasie op ons plaaslike mark – wat nou al sowat vyf jaar duur – kan hoofsaaklik toegeskryf word aan swak ekonomiese groei; korporatiewe wanbestuur wat enkele groot maatskappye se ondergang beteken het, sowel as politieke onsekerheid en risiko's – aangebring deur korrupsie, staatskaping, leierskapgevegte en populistiese retoriek. Van die102 effektetrusts en beursverhandelde fondse wat geklassifiseer kan word as algemene aandelefondse, het net 20 inflasie oor die afgelope vyf jaar geklop.
Hierdie syfers vir aandele as bateklas en indekse wat honderde maatskappy kan beslaan, beteken nie daar is geen geleenthede vir goeie opbrengste nie. Dit sal net moeiliker wees om daardie geleenthede uit te snuffel.
En soos altyd bly die basiese reëls vir die beleggingspel maar dieselfde: Moenie paniekerig raak nie, en diversifiseer tussen bateklasse, sektore en geografiese gebiede.
• Luüs, 'n ekonoom van EcoQuant, is 'n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie