Amerika wink vir Ansua
Amerika wink vir Ansua

Amerika wink vir Ansua

Gerine Hoff
Al is die skok van ’n kankerdiagnose nog vars in haar geheue, sê Ansua Hammerslaght (foto) sy is weer besig om haar voete te vind en wink ’n kompetisie waar die vrou wat van binne en buite mooi is, haar land nog ’n keer internasionaal kan verteenwoordig.
Ansua is geen vreemdeling by skoonheidskompetisies nie en sy spog met ’n rits toekennings en titels, maar dit is haar werk onder diegene wat minder bevoorreg is, wat haar in Namibiërs se harte laat kruip het. Die afgelope paar maande was egter vir Ansua van die moeilikste wat sy nóg in haar lewe beleef het.
“Ek het een Maandagoggend by die werk aangekom en skielik verskriklike pyn in my maag gevoel. Ek het gedink ek is net honger en iets probeer eet. Deur die loop van die dag het dit net erger geword en teen 14:00 toe sak ek in mekaar. Ek is direk dokter toe en ek moes redelik baie toetse laat doen,” sê sy. Die uitdrukkings op die dokters se gesigte het boekdele gespreek, en ná ’n CT-skandering het die bevestiging gekom: Ansua het kanker in haar maagkliere en haar milt en lewer is ook aangetas.
“Op daardie oomblik het dit gevoel my lewe is verby. Ek kon net aan my seuntjie dink. Wat sou van hom word?” Sy is binne dae geopereer en het daarna met chemoterapie begin.
Nou het ’n paar maande verloop en Ansua sê sy is weer besig om haar voete te vind.
“Ek vat dit dag vir dag en probeer positief bly. Dit is moeilik om jou lewe sommer so te hervat ná ’n dokter vir jou gesê het jy is besig om dood te gaan.”
Haar familie en vriende het haar egter deur die afgelope paar maande gedra.
“My ouers en my gesin, eintlik die hele familie, ondersteun my geweldig. My siekte het ons almal laat besef die lewe is kort en dat ons nie verby mekaar mag leef nie. Ek het ook daagliks op my Facebook-blad boodskappe van aanmoediging gekry en dit beteken vir my baie. Ook by die werk het almal hul bes gedoen om my weer tuis te laat voel.”
Behalwe dat sy terug is by die werk, het sy nou ook die kans om Namibië by die Mrs. Universal-kompetisie in Reno, Nevada te verteenwoordig.
“Die kompetisie is vir vroue wat liefdadigheidswerk in hul gemeenskap doen en wat ’n mooi beeld van hul onderskeie lande oordra,” sê Ansua, wat reeds ’n geruime tyd haar groothartigheid uitleef. Só het sy onlangs 25 panne se brood by die Katutura ouetehuis en Hope Village afgelewer, en komberse aan straatkinders uitgedeel. “Die brood is deur my vriende Rosa en Tommy geborg. Hulle help my baie,” sê Ansua.
Intussen werk sy ook aan ’n boek oor haar lewe, haar ondervindings, en alles wat sy deurgemaak het.
En dan wink Amerika.
Om daar te kom, doen sy weer ’n beroep op Nami­biërs om hul harte en beursies vir haar oop te maak. Sy benodig ’n vliegtuigkaartjie en daggeld, asook geld om vir ’n Amerikaanse visa aansoek te doen.
“Die kompetisie is van 23 tot 29 Julie in Reno. Ek moet reeds die 20ste van hier af vlieg. Ek sal vreeslik dankbaar wees vir enigiemand wat kan en wil help,” sê sy. Sy kan by [email protected] gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!