Amerikaanse ambassadeur groet
Amerikaanse ambassadeur groet

Amerikaanse ambassadeur groet

Dani Booysen
Die Verenigde State se ambassadeur na Namibië, me. Lisa Johnson (FOTO), het Sondag na Washington teruggekeer ná 'n termyn van net meer as drie jaar.

Die afskeid was op 4 Julie, die Amerikaanse onafhanklikheidsdag.

Haar opvolger moet nog aangewys word. Tot dan sal die ambassade se nuwe saakgelastigde, me. Jessica Long, in die amp waarneem.

In haar vaarwelboodskap het Johnson die skep van nuwe handels­geleenthede uitgesonder, spesifiek wat die uitvoer van beesvleis, bier en houtskool betref. Beleggings in die jeug en entrepreneurskap was volgens haar saam met omgewingsbewaring ander belangrike prioriteite.

Die VSA se bydrae om MIV/vigs in Namibië hok te slaan, is volgens Johnson een van die groot suksesverhale van die verhouding tussen die twee lande.

“Ek wil julle verseker dat die VSA se lang, geskiedkundige verbintenis tot Namibië ver in die toekoms in sal voortduur,” sê die ambassadeur in haar afskeidsboodskap.

Sy het 'n beroep op almal gedoen om hulself so gou moontlik teen Covid-19 te laat immuniseer.

Johnson het benadruk dat inenting die veilige en doeltreffende manier is om die pandemie onder beheer te bring en sterftes te voorkom. Amerika sal Namibië aanhou ondersteun in die stryd, het sy verseker.

Sy het haar meegevoel uitgespreek met almal wat naasbestaandes aan Covid-19 afgestaan het. “Hierdie tyd is moeilik vir ons almal,” lui haar boodskap. Volgens Johnson breek haar hart oor die lewensverlies in Namibië en die res van die wêreld.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer