• Tuisblad
  • Sake
  • Amerikaners dreig om Agoa-sweep weer te klap
Amerikaners dreig om Agoa-sweep weer te klap
Amerikaners dreig om Agoa-sweep weer te klap

Amerikaners dreig om Agoa-sweep weer te klap

Belastingvrye uitvoere dalk weer in gedrang
Jo-Mare Duddy Booysen
Vida Booysen - Suid-Afrika se belastingvrye uitvoer na die VSA kan wéér in die gedrag kom weens hofsake deur Suid-Afri­kaanse pluimvee- en varkprodusente wat sekere perke op die invoer van vark en hoender uit Amerika wil plaas.

“Indien die Suid-Afrikaanse organisasies die hofsake wen, kan en behóórt dit nog ’n hersiening van Suid-Afrika se voordele kragtens Agoa (die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede vir Afrika) te veroorsaak,” waarsku Jim Sumner, uitvoerende hoof van die Amerikaanse raad vir die uitvoer van pluimvee en eiers (USAPEEC).

Hy het in Atlanta met Suid-Afrikaanse joernaliste gepraat wat die land as gaste van die organisasie besoek het.

Die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (Sappo) het verlede maand ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring om die invoer van sekere varkvleis uit Amerika onder die Agoa-ooreenkoms ter syde te stel.

Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging ook reeds ’n hofaansoek ingedien het waarin hy aanvoer dat die opheffing van gesondheidsregulasies Suid-Afrikaanse verbruikers aan salmonella blootstel.

Sappo

Sappo vra op sy beurt die hof vir die “hersiening en tersydestelling” van die ooreenkoms om varkblad vanuit Amerika in te voer ingevolge die ooreenkoms wat in Januarie tussen dié land en Suid-Afrika­ gesluit is.

Suid-Afrika geniet tans groot handelsvoordele kragtens die nuwe Agoa-ooreenkoms, wat in Januarie vanjaar gefinaliseer is. Maar dit het lang en taai onderhandelinge geverg om dié voordele ter waarde van sowat R70 miljard per jaar tot 2025 te verseker.

Amerika het vasgeskop om die opheffing van teenstortingstariewe op beesvleis, hoender en vark te beding.

Die heffing van ’n bykomende tarief het dit onmoontlik gemaak vir die Amerikaners om hoenderstukke hierheen uit te voer terwyl Europa, wat ook hierheen hoender uitvoer, nie daaraan onderworpe was nie.

Toe dit lyk asof die plaaslike pluimveebedryf gesondheidsregulasies wou inspan om die invoer uit Amerika te dwarsboom, het dié land vinnig die Agoa-stok ingespan om ’n sogenaamde “out of cycle review” op te dwing. Die doel van dié meganisme wat by die nuwe Agoa-ooreenkoms gevoeg is, is juis om te keer dat lande wat voordele kragtens Agoa geniet, enige blokkasie van Amerikaanse uitvoer na hul lande kan instel.

Waardeketting

In Washington het Kurt Schultz, ’n senior direkteur van die VSA se raad vir graanuitvoer, ook gewaarsku indien Suid-Afrika wil aanhou om sy plaaslike graanbedryf te beskerm teen invoer, sal ander Suid-Afrikaanse landbousektore in die slag bly. Hy sê dat proteksionisme op lange duur nie betaal nie.

“Jy moet na die hele waardeketting kyk. As 70% van die produksiekoste van Suid-Afrikaanse hoender uit voer bestaan, en as jou plaaslike mielieprys duurder is as die internasionale markprys, dan werk die stelsel duidelik nie.

“So lank as wat die plaaslike pluimveebedryf beskerming teen internasionale invoer geniet het, het dit gewerk, maar toe die mark oopgestel is, het jou plaaslike bedryf begin swaarkry.”

Hy gee egter toe dat die rolspelers wat die meeste baat by vrye markte, dié maatskappye is wat groot genoeg is om skaalvoordele te bewerkstellig.

“Jy is geneig om konsolidasie van die lewendehawebedryf op lang termyn te sien, maar as jy na die VSA kyk, bestaan die familieplase steeds, daar is net nie so baie van hulle soos wat daar jare gelede was nie.”- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!