Amitofo se genade, goedheid en hoop

''n Sorgsentrum buite Okahandja word op Boeddhistiese beginsels bedryf en bied aan wees- en weerlose kinders die unieke geleentheid om wêreldburgers te word.
Tanja Bause
Tanja Bause - Die Amitofo Sorgsentrum (ACC) is sowat 15 kilometer buite Okahandja op die pad na Hochfeld geleë. Die sentrum bied aan wees- en weerlose kinders ''n tweede kans op opvoeding en geleerdheid terwyl hulle ''n gesonde maaltyd, ''n dak oor hul kop, klere en baie liefde ontvang.

Amitofo beteken in Chinees genade, hoop, goedheid en liefde. Amitofo is in harmonie met enige kultuur of godsdiens.

Die storie van Amitofo het 23 jaar gelede met die Boeddhistiese monnik Hui-Li se reise in Afrika begin. Hui-Li was bekommerd oor die stygende aantal wesies weens die HIV/vigspandemie en het ''n belofte gemaak om ''n sorgsentrum in elke Afrikaland te bou. Die eerste sentrum is in 2004 in Malawi opgerig en bied aan die kinders nie net ''n veilige tuiste nie, maar ook gehalte onderrig. Ná Malawi het nog sentrums in Lesotho en Swaziland gevolg.

Die Amitofo Sorgsentrum buite Okahandja het die afgelope twee jaar verrys en in Julie vanjaar is die eerste 19 kinders tussen die ouderdomme van vyf tot sewe jaar opgeneem.

“Ruth was die eerste kind wat ons hier ingeneem het, sy het by die vullisstortingsterrein by Okahandja gebly. Toe ons haar gaan haal het, was sy egter nie daar nie, maar ons het vir haar gewag. Sy het vertel sy het ''n koeldrankbottel gaan verkoop en het teruggekeer met ''n paar sente in die een hand en ''n paar lekkers in die ander. Ruth is vyf jaar oud, kinders van hierdie ouderdom moenie bottels op ''n ashoop vir geld bymekaar maak nie, hulle hoort in die skool,” het die sentrum se maatskaplike werker, me. Martha Gaingos, gesê.

Soggens gaan die kinders wat hier tuisgaan, skool en word dieselfde leerplan as in Namibiese staatskole gevolg. Wanneer die skool sluit, is dit tyd vir middagete, terwyl ook tyd gemaak word om ''n middagslapie in te kry.

Namiddae ontvang die kinders onderrig in Asiatiese kultuur wat die leer van Mandaryn, liedjies in Chinees en ook Kung Fu insluit. Om 17:00 keer die kinders na hul kamers terug, stort en bring tyd in die tempel deur. Na aandete word televisie gekyk en gespeel totdat dit slaaptyd is.

“Elke groep van agt kinders het ''n huismoeder wat hul huistaal praat. Dit is vir ons baie belangrik dat die kinders nie hul moedertaal of hul eie kultuur vergeet nie. Met die huismoeder praat die kinders net in hul moedertaal. Huiswerk en dit wat hulle die dag geleer het, word in hul huistaal met die huismoeders bespreek. Ook word gesing en gedans volgens die kinders se kultuur. Sodoende wil ons verseker die kinders behou hul eie tradisies en kultuur,” het me. Chen Min-Hu, die direkteur, gesê.

Huidig het Amitofo ''n Damara- sowel as ''n Oshiwambo-sprekende huismoeder, omdat dit die huistaal van die kinders is wat hier gehuisves word. Soos die aantal kinders toeneem en ander huistale bygevoeg word, sal huismoeders ook vir hulle aangestel word.

Elke kwartaal word ''n spesiale familiedag by die sorgsentrum gehou waartydens ouers en voogde kom kuier en die kinders die geleentheid kry om te wys wat hulle deur die kwartaal geleer en baasgeraak het. Amitofo is nie gebind aan skoolkwartale nie en sluit dus nooit. Kinders wat gedurende vakansies nie ''n heenkome het nie, kan dus by die sentrum bly.

Huidig is fase twee van die sorgsentrum reeds voltooi. Dit sluit drie aparte eenhede waar 98 kinders in elk gehuisves kan word en ''n TV- en speelkamer, waskamer, eetsaal en ''n binnehof met ''n speelarea in. ''n Gebou wat tydelike klaskamers insluit en verblyf vir personeel bied, is ook tydens dié fase voltooi.

Tydens die eerste fase is die sportsaal en pakhuis gebou. Volgende jaar word fase drie aangepak waartydens die skool en verblyfgeriewe vir die onderwysers gebou sal word.

Die kinders wat nou by die sorgsentrum gehuisves word, gaan volgende jaar graad 0 toe. Die klaskamers word dan gebou soos die kinders na die volgende graad vorder.

“Ons skool groei saam met die kinders totdat ons die klaskamers vir graad 12 het wanneer die kinders wat nou by ons begin het, hul laaste skooljaar begin,” het Chen vertel. Toekomsplanne is ook om opleiding in vaardighede soos onder meer akkerbou aan die kinders te kan bied.

“Ons dink dit sal goed wees as ons die kinders nie net met ''n graad 12-kwalifikasie uit die skool laat gaan nie, maar dat ons hulle ook met vaardighede vir hul lewe toerus,” het sy gesê.

Die kinders wat wél verder wil gaan studeer, sal die geleentheid kry om met die hulp van borge by enige universiteit te gaan studeer. Omdat die kinders dan Mandaryn magtig is, sal hulle selfs by universiteite in China en Taiwan kan gaan aanklop.

''n Groep van die kinders bring volgende jaar besoek aan Asië om aan borge van die sentrum meer van hul tradisies en kultuur te gaan vertel en wys.

Vir baie van dié kinders sal dit die eerste keer wees dat hulle hul tuisdorp verlaat.

“Ons leer die kinders om vir alles dankbaar te wees. ''n Voorbeeld is hulle word geleer om in die eetsaal eers vir Boeddha dankie te sê vir die kos en dan ook ná ''n maaltyd omdat dit goed was. Ons wil hê die kinders moet internasionale burgers word en daarvoor het hulle dissipline en maniere nodig. Hulle sal die kans kry om oorsee te kan gaan en dan moet hulle maniere hê,” het die Boeddhistiese monnik Shifu gesê.

Die sorgsentrum spog ook met ''n Boeddhis­tiese tempel waarin die kinders elke dag ''n wyle kan vertoef. Hulle kan ook net in die tempel gaan sit as hulle stilte soek of wil mediteer. Sondae besoek ''n pastoor egter die sentrum om die kinders van die Bybel te leer.

“Ons is nie teen enige geloof gekant nie en die kinders kan elke Sondag Sondag­skool toe gaan,” het Chen gesê.

In die oggende voor skool en ook in die namiddag neem die kinders aan Kung Fu-lesse deel.

“Toe die stigter in Afrika was, het hy besluit die kinders kan en moet nie net voor die televisie sit nie, hulle moet aan oefeninge deelneem. Die oefening maak hulle sterk en dus het ons by ons sentrums baie min sieklike kinders. Ons sien egter ook dat nie almal in Kung Fu belang stel nie. As ons ''n onderwyser kan kry wat hulle sokker kan leer, sal ons baie bly wees,” het monnik Shifu gesê.

Volgens haar was die taal aan die begin vir die kinders baie vreemd, maar het hulle vinnig begin om dit aan te leer.

“Dit is nie maklik om Mandaryn te leer nie, omdat die kinders nog nooit voorheen aan die taal blootgestel was nie. Ek het in die tempel gedreunsing terwyl hulle daar gesit het. Dit was nie lank nie en hulle het vir my gesê watter liedjie ek moet sing en van watter liedjie hulle hou. Na ''n paar weke het ek klein stemmetjies gehoor wat begin saamsing het.”

Die kinders kry by die sentrum net vegetariese maaltye van die groente wat in die tuin gekweek word.

“Ons Boeddhiste respekteer alle lewe, dus ons maak nie dood vir kos nie. Al ons disse is dus vegetaries. Ons het twee Namibiese kokke wat ons leer om smaakvolle, vegetariese disse te maak,” het Chen gesê.

Huidig is daar 16 Namibiërs en 10 Asiatiese vrywilligers wat by die sorgsentrum werk. Die aantal Namibiese werkers sal toeneem sodra die sentrum ten volle operasioneel is en 300 kinders het.

Die dakke van die verskillende geboue is rooi, blou of groen geverf. Die blou dakke van die kinders se verblyf simboliseer hoop, vryheid en onafhanklikheid. Die rooi dakke van die administratiewe geboue simboliseer passie en die groen dakke van die skool staan vir onderwys.

“Blou is die hoop, vryheid en onafhanklikheid wat ons vir die kinders en hulle toekoms kan gee. Rooi staan vir die passie wat die onderwysers, oppassers en vrywilligers vir die kinders en hulle onderwys het. Groen simboliseer sade, kinders is soos ''n saad wat geplant word en wat dan tot sy volle potensiaal groei,” het Chen gesê.

Die sentrum sorg nie net vir wesies en weerlose kinders nie, maar ondersteun ook ''n sopkombuis in die Havana informele nedersetting in Windhoek. Onlangs het hulle ook rolstoele aan die ouetehuis op Okahandja oorhandig.

Die volgende Amitofo Sorgsentrum word in Botswana gebou, terwyl nog een vir Malawi beplan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!