Amper 20 000 kry tweede spuit
Amper 20 000 kry tweede spuit

Amper 20 000 kry tweede spuit

Namibië kan hopelik binne die volgende twee weke die Sputnik-entstof ontvang.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Opdrag is aan alle immuniseringspunte teen Covid-19 in die land gegee om beide eerste en tweede dosisse van Sinopharm en AstraZeneca toe te dien.

Volgens die hoof van Namibië se taakspan vir die land se in­entingsveldtog teen ­Covid-19, me. Petronella Masabane, ontvang die voorsiening van ­entstowwe aan immuniserings­punte aandag. Dit volg op reaksie van die publiek dat entstowwe nie by sekere punte beskikbaar was nie, net tweede dosisse beskikbaar was en dat sommige punte aan inwoners gesê het hulle ent maksimum 100 mense per dag in.

Volgens Masabane moet enige afwykings van die ­ministeriële opdrag by die nasionale oproepsentrum vir Covid-19 aangemeld word.

“Geen beperking is voorgeskryf nie, maar dit kan moontlik 'n kwessie van kapasiteit op 'n gegewe perseel wees,” het sy gesê.

Sy het beklemtoon “dit is nie wys om mense vir ure te laat staan en wag net om te hoor hulle kan nie gehelp word nie”.

“Dit gaan meer teenstrydighede veroorsaak as wat vooraf gesê word om die volgende dag terug te kom.”

Volgens Masabane kan Namibië hopelik binne die volgende twee weke die Sputnik-entstof ontvang.

“Alle ooreenkomste is deur die prokureur-generaal goedgekeur en ons is besig om te bestel.” Volgens 'n opgedateerde ­uitrol­plan en die jongste ­inligting oor inenting van die ministerie word 40 800 dosisse ­AstraZeneca van Covax einde Julie verwag, ­Sinopharm (150 000 dosisse) einde Junie/Julie, Sputnik wat in die ­ondertekeningsfase is oor die verwagte hoeveelheid dosisse Junie of Julie, terwyl 250 000 dosisse Johnson & Johnson in ­Augustus van die Afrika-unie se Afrika Mediese Voorradeplatform (AMSP) verwag word.

Teen Saterdag het 104 199 mense (6,9%) van die doelwit van 1,5 miljoen inwoners van 18 jaar en ouer – 60% van die bevolking – hul eerste dosis entstof volgens beskikbare data ontvang.

Die drie streke met die beste vertoning is Khomas (12,6% of 36 239 persone uit 'n teikengroep van 286 641), Kavango-Wes (9,6%) en Erongo (9,1%).

Die drie streke waar persentasie­gewys die minste inwoners 'n eerste dosis entstof ontvang het, is Zambezi (2,7%), Oshikoto (3%) en Ohangwena (3,1%).

'n Totaal van 19 865 mense word as volledig ingeënt beskou nadat hulle ook 'n opvolgspuit gekry het. Die syfer verteenwoordig 1,3% van die teiken vir kuddeweerstand om in te skop.

Hier sien die topdrie en swakste drie streke ietwat ander daar uit.

Kavango-Wes staan op 2,1%, Khomas op 2% en Kunene op 1,9%. Onderaan die leer is Oshikoto (0,5%) gevolg deur Zambezi (0,7%), Ohangwena en Omusati (beide 0,6%).

Mense hoef nie hul eerste en tweede inspuitings in dieselfde distrikte of streke te ontvang nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!