Amptenare trap vas oor verhogings
Onderwysers en staatsbeamptes se vakbonde weier om in te stem tot geen verhogings.
Augetto Graig – Die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) en die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) dring aan dat onderhandeling oor salarisverhoging vir staatsamptenare en onderwysers vir die 2021-2022 boekjaar steeds voortduur.
Dit weerspreek onlangse uitlatings deur minister Ipumbu Shiimi van finansies dat daar ingestem is tot geen verhogings vir die betrokke tydperk.
Napwu se hoofsekretaris, mnr. Petrus Nevonga, het gister by hul hoofkantoor in Windhoek gesê Shiimi het gedurende die hersieningstoespraak van sy halftermynbegroting dié verkeerde indrukking geskep.
“Die inligting wat hy in die parlement oorgedra het, is misleidend, ongegrond en sonder enige waarheid omdat die onderhandelingsproses steeds voortduur. Die vakbonde verwerp ten sterkste minister Shiimi se stelling dat die vakbonde en staatsamptenare instem met die regering se beroep om die gordels stywer te trek.”
Toe Shiimi vakbonde en staatsbeamptes bedank het vir hul bereidwilligheid om gedurende die komende maande sonder verhogings deur te kom, het hy die wanindruk geskep dat die twee vakbonde toestem tot die regering se voorstel, sê die vakbondleier. In teendeel moet onderhandeling tussen die regering en die betrokke vakbonde op komiteevlak nog op 29 November voortgaan, sê hy.
Deur eksklusiewe onderhandelreg ooreenkomste word uitsprake oor onderhandelinge beperk tot die onderhandelingskomitee, om self sy besluite aan te kondig, sê Nevongo. Hy brei uit dat die vakbonde op 25 Februarie amptelik hul eise ingedien het: 10% verhoging in salarisse, 25% verhoging van huiskoopsubsidies, 9% meer behuisingstoelaag, 10% meer vir vervoer vir staatsbeamptes laer as bestuursvlak, en N$7 per kilometer (op vanaf N$5) as die petroltarief.
Op 19 Mei het die regering laat weet dat geen salarisverhoging toegestaan kan word nie, weens die staat finansies wat reeds onder druk is om bestaande uitgawes te dek, asook minder inkomste weens die inkrimping van die ekonomie.
“Nieteenstaande hierdie teenaanbod deur die regering, beteken dit nie die partye het ’n ooreenkoms in terme van die onderhandeling bereik nie,” dring Nevonga aan. “Die minister van finansies is nie ’n lid van die onderhandelingskomitee nie. Hy is ook nie deur die komitee ’n mandaat gegee om oor salarisonderhandeling namens die komitee te kommunikeer nie.”
Nantu se sekretaris-generaal me. Loide Shaanika, wat ook die vakbond se verklaring onderteken het, het lede en die publiek aangeraai om geduldig te wees tot ná die einde van die maandvergadering, waarna oor die pad vorentoe gekommunikeer sal word. Nevonga het uitgebrei dat die onderhandelinge positief of negatief kan eindig, met ’n ooreenkoms of daarsonder.
“As ’n dooiepunt bereik word, sal ons dit aan belanghebbers aankondig,” het hy gesê.
Professor Omu Kakujaha-Matundu, senior dosent by Unam, sê: “Die manne probeer geraas maak, juis omdat daar nuwe spelers is en omdat Swapo besig is om steun te verloor. Filiaalvakbonde van Swapo kan nie die regering te ver druk nie,” sê hy.
“My eie mening is dat ons versigtig moet wees om melk uit ’n klip te probeer tap. Die regering se finansies is in ’n swak toestand en mens kan sê die eise is ’n bietjie onregverdig. Vir my is dit beter om ’n halwe brood te hê, eerder as glad geen brood nie,” sê hy.
“As die vakbonde hul lede probeer tevrede stel en hulle plaas druk op die regering om in te gee, kan die regering met strenger besparingsmaatreëls begin, dienstelewering aan lae-inkomste gemeenskappe besnoei of werkers begin afdank. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sou druk op die regering plaas en baie werksverliese kan tot onmin lei,” waarsku hy.
“Die ekonomie sal eendag herstel en ek sou sê die beste is om voort te gaan met die onderhandeling, maar nie om verhogings af te dwing nie.”
Die arbeidskenner mnr. Herbert Jauch stem saam dat die vakbonde opdraande sal moet oorbrug om enige verhoging te kry.
“Die regering het reeds met die IMF ooreengestem oor wat hulle noem ‘loonbeperking,’ wat beteken die totale salarisrekening mag nie groei nie. Dit was ’n vereiste vir die spesiale Covid-lening, maar selfs voor dit het die regering reeds gesê die loonrekening is te groot en het soms opgehou om vakatures te vul. Ons sien by staatsondernemings dat die regering onwaarskynlik sal ingee.”
Jauch sê dis ’n risiko vir die vakbonde om geen ooreenkoms met die regering te aanvaar nie. “Dit sal tot ’n geskil lei en hulle sal na hul lede moet terugkeer om oor ’n staking te stem. Ons het egter gesien met NBC wat bloot aangedring het daar is nie geld nie.
“Iets soortgelyks kan in die openbare sektor gebeur, maar Namibiese vakbonde het nie staakfondse nie, so selfs ’n wettige staking beteken geen salaris nie. Dis onvolhoubaar. ’n Yslike staking sou kon werk, as dit die hele land sou verlam, maar in die huidige klimaat is werknemers reeds bang om sonder inkomste klaar te kom. Realisties moet hulle maar so ver as moontlik onderhandel,” sê hy.
– [email protected]
FOTO
Napwu se hoofsekretaris mnr. Petrus Nevonga met Nantu se sekretaris-generaal me. Loide Shaanika. Foto Augetto Graig

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie