Amputasie kry haar nie onder
Minder as 'n jaar ná 'n ernstige motorfietsongeluk is sy terug in die saal.
Tanja Bause – “Ek is gemaak om 'n motorfiets te ry. Tien maande en twaalf dae nadat ek my been in 'n motorfietsongeluk verloor het, was ek terug op 'n motorfiets wat ek self gery het,” vertel Jeaninne van Jaarsveld (36).
Jeaninne is op Keetmanshoop gebore en het op 'n plaas naby Grünau grootgeword.
“Vandat ek kan onthou, het ek 'n groot liefde vir motorfietse gehad. Ek dink ek het vanaf my sesde verjaardag tydskrifte oor motorfietse begin koop. Op die plaas het ek motorfiets gery en later het ek saam met ander mense gery, maar ek het nie my eie een gehad nie.”
Op 27 jaar het sy haar eerste motorfiets gekoop en haar passie begin uitleef. In 2017 het sy haar eerste Harley Davidson gewen en haar liefde vir die motorfietsmark het begin.
In Januarie 2020 het sy en 35 ander vroue in die Woman Riders World Relay (WRWR) deelgeneem.
“Ons het sowat 3 500 km Suid-Afrika toe en terug gery. Hiervoor het ek 'n Harley CVO Ultra gekoop en haar Bibi genoem. Ek en Bibi het oral gery en die WRWR was beslis vir my tot nou toe die hoogtepunt.”
Alles het verander toe sy vir haar 36ste verjaardag saam met haar lewensmaat en twee vriende besluit het om met hul motorfietse Swakopmund toe te ry.
“Sowat vier kilometer voor Arandis het ek 'n 'speed wobble' gekry en ek het probeer om dit onder beheer te kry en dit uit te ry. Ek het egter besef ek kry dit nie reg nie en ek gaan die pad verlaat.
“Langs die pad het ek 'n telefoonpaal voor my gesien en geweet ek moet by hom verby, omdat motorfietse, telefoonpale en bome nie 'n goeie kombinasie is nie. Ek het 'n hoop klippe net agter die paal getref en dit was die laaste wat ek kan onthou.”
Haar baadjie het aan die motorfiets verstrengel geraak en sy en die motorfiets het talle kere bolmakiesie geslaan. Die motorfiets het verskeie kere op haar been geval en dit afgeruk.
“Ek het wakker geword met talle mense wat om my gestaan en gesê het ek het baie seer gekry en moet net stil lê.
“By die hospitaal het ek gehoor iemand praat van amputasie. Die ongeluk was op 'n Saterdag en ek het laat die Maandag wakker geword en agtergekom my regterbeen is net bokant die knie geamputeer. Ek dink in my onderbewussyn het ek toe reeds vrede gemaak met die feit dat ek my been verloor het.”
Sy het onder meer al haar ribbes, sleutelbeen, linkerbeen en beide haar polse gebreek.
“Die been was nie die probleem nie; 'n veel groter frustrasie was my twee hande wat in gips was. Ek kon hulle glad nie gebruik nie en dit was baie frustrerend.”
Twee weke later is sy uit die hospitaal ontslaan en het by SpesCare vir rehabilitasie aangemeld.
“Ek was vir twee maande in rehabilitasie, omdat ek weens die skade aan my liggaam van voor af moes leer loop, sit en selfs omdraai in die bed. Goed wat mense as vanselfsprekend aanvaar, moes ek weer leer.”
Sy het die twee maande van rehabilitasie voltooi en is terug Windhoek toe.
“Ek wou weer motorfiets ry – en tien maande en 12 dae ná die ongeluk het ek presies dit gedoen.
“Ons het 'n BMW 1200 GS gekoop en het op Mariental 'n syspan laat aanbou. Ons het afgery soontoe om dit te gaan haal en ek het op die fiets geklim en in Mariental rondgery. Vanaf Mariental tot Windhoek het ek in die syspan gesit en my lewensmaat het bestuur.
“Ons volgende toer was Gobabis toe en ek het soontoe in die syspan gesit, maar die terugpad het ek gery en van toe af ry ek en sy sit langsaan. Ek het in elk geval net my linkerbeen nodig vir die ratte en my regterhand vir die brieke en ek het beide.”
Sy sê die grootste les uit haar ongeluk is dat jy twee keuses het.
“Jy kan in 'n hoek gaan sit en jouself jammer kry. Jy kan vra hoekom ek, wat gaan ek nou doen, is my lewe verby? Of jy kan jouself nie as gestremd sien nie, maar eerder as anders bekwaam. Jy kan die geleenthede wat jou kant toe kom, gryp en gebruik.”
Sy werk met arbeidsterapeute en praat met ander geamputeerdes. Sy gee advies, 'n begripvolle skouer of luister net.
“Moet so iets nie as die einde sien nie, maar as 'n nuwe begin. Die feit is jou lewe gaan verander, maar dis nie verby nie. Jou kaarte is uitgedeel en jy kan dit nie verander nie. Jy moet dit vat en die beste daarvan maak en ander help.
“Jy is nie die eerste een met wie dit gebeur nie en jy sal ook nie die laaste een wees nie. Daar is mense wat jou ondersteuning of net 'n hand, 'n oor of 'n skouer nodig het. Jy is klaar daar deur en het nou die geleentheid om 'n verskil in iemand anders se lewe te maak.”
DIVERGENTS
Ná die WRWR-toer het die vroue Divergents gestig.
Dit was aanvanklik gestig as bloot 'n groep vir motorfietsryers wat saam wil ry. Na Jeaninne se ongeluk en in die Covid-19-pandemie het die groep besluit hulle wil méér wees en doen en tans is hulle besig om as 'n niewinsgewende organisasie te registreer.
“Met Divergents probeer ons 'n verskil in elke lewende dingetjie se lewe te maak, maak nie saak of dit mens of dier is nie.”
Sy sê dit is soms moeilik omdat mense ongevoelig en harteloos is.
“Nou die dag het ek saam met 'n vriend by 'n plek in Windhoek gaan eet en soos baie mense daar het ek ook 'n kortbroek aangehad. 'n Ma wat met haar kind by 'n tafel oorkant gesit het, het omgedraai en na my been gekyk en gesê: “Kan jy asseblief in die toekoms 'n langbroek aantrek sodat ons nie dit hoef te sien nie?”
“Sy het geen benul waardeur ek is nie, wat dit gekos het dat ek op 'n kunsmatige been kan loop nie; wat dit gekos het om te wees waar ek nou is nie.”
Selfs deur die ondeurdagte kommentaar van oningeligtes laat sy haar nie onderkry nie.
“Die duiwel wil my nie hê nie en die Here is nog nie klaar met my nie, so ek gaan die lewe uitry.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie