Amta, NAB in tamatiestraat
Die Akkerbouraad meen dis sy reg om Amta die deur te wys.
Elvira Hattingh - Die Namibiese Akkerbouraad (NAB) kan Amta nie summier in die pad steek nie.
Volgens die uitvoerende direkteur van landbou, water en bosbou, mnr. Percy Misika, sal die kabinet eers oor so ’n versoek genader moet word.
Dit omdat die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta) ingevolge ’n kabinetsbesluit onder die parlementêre wet en wet op maatskappye gestig is, sê hy, en sekere wetlike prosesse dus gevolg moet word.
Dit volg ná die raad onlangs aangekondig het hy sal van 1 April af self die funksies vervul wat Amta voorheen hanteer het.
Dit sluit in die insameling van statutêre heffings en fooie, die uitreiking van vervoer-, invoer- en uitvoerpermitte, asook die bestuur van die beweging van akkerbou- en tuinbouprodukte by hawens en grensposte.
Volgens ’n kennisgewing deur mnr. Michael Iyambo, die NAB-raadsvoorsitter, is die agentskap se dienste aan die Akkerbouraad amptelik op 20 November 2018 beëindig ná hy in 2014 aangestel is en is daar intussen hieroor beraadslaag.
“Ek was ewe verras deur die aankondiging,” het Misika aan Die Boer gesê.
“Ek wil ’n beroep vir samewerking op die twee organisasies, beide staatsondernemings onder dieselfde ministerie, doen.
“Dit is nie in hul beste belang of dié van die akkerboubedryf of die regering dat hulle hul sake in die media besleg of mekaar hof toe sleep nie.”
Misika meen ook die Akkerbouraad se bewering dat die ministerie ’n ooreenkoms verbreek het toe hy nagelaat het om N$26 miljoen aan hulle terug te betaal, hou nie water nie.
Hy sê die landbouminister word deur die wet gemagtig om inkomste deur heffings na goeddunke vir die bevordering van die plaaslike akkerboubedryf aan te wend.
Misika het verduidelik geld is in 2017 aan Amta oorbetaal sodat hy graan by kleinskaalse boere kon koop.
Die plan was om reserwes in nasionale stoorgeriewe te berg.
Kleinskaalse boere het toe met ’n rekordoes gespog en plaaslike meulens is deur ’n graanaanbod oorval – ook van kommersiële boere.
AMTA SÊ
Amta se besturende direkteur, mnr. Lucas Lungameni, sê hulle weet nie hoe die akkerbouraad dié aankondiging kon maak nie. Hy sê Amta beskou die ooreenkoms tussen hom en die akkerbouraad as onderhewig aan die akkerboubedryfswet.
“Geskoei op dié wet moet die landbouminister die voorwaardes vir die ooreenkoms goedkeur. Dit is geskoei op ’n kabinetsbesluit ingevolge die mandate van beide Amta en die NAB.
“Die Akkerbouraad, wat ’n regeringsinstansie is, nes Amta, kan nie self kies om die ooreenkoms te beëindig nie. Dit sal teen die wet, asook regeringsbeleid indruis,” het Lungameni gesê.
Hy het bygevoeg beheer by grensposte, lisensiëring, asook die invordering van heffings word deur kennisgewings van die regering bepaal, waarin Amta spesifiek genoem word.
“Ons sal voortgaan om die verpligtinge na te kom en verwag nie Amta se werking sal geraak word nie.”
NAB SÊ
Die Akkerbouraad se voorsitter meen die raad beoefen sy wetlike magte soos uiteengesit in die akkerboubedryfswet as hy sy ooreenkoms met Amta beëindig.
Boonop het hy geen ander keuse nie, omdat “die huidige stand van sake die volhoubare implementering van die raad se regulerende funksies in die gedrang bring”.
Iyambo sê volgens wet is die raad verantwoordelik vir behoorlike boekhouding van sy rekening en fooie en heffings wat ingevorder word.
“Dit is die enigste manier hoe die raad behoorlike verantwoording aan die ouditeur-generaal deur die minister kan doen.
“Die huidige toedrag van sake is nie en sal ook nooit volhoubaar wees terwyl heffings op ’n ondoeltreffende wyse ingesamel word nie,” sê Iyambo.
“Die raad het ’n fidusiêre verpligting teenoor die groter akkerbou- en tuinboubedryf, asook alle verbruikers van sy produkte,” sê Iyambo.
Die voorsitter sê boonop is die bestuursraamwerk van die raad al vir te lank in die gedrang.
“Die raad is reeds langer as 12 maande in gesprek met beide Amta en die ministerie van landbou, water en bosbou ná sy besluit van 20 November 2018 om Amta se aanstelling te beëindig.
“Die doel van die gesprekke was om die oordrag van funksies terug na die Akkerbouraad te versnel, maar dit het nie die gewenste resultate gelewer nie,” sê hy. “Vergaderings waarvan die notules afgeteken is en waar ons ooreengekom het, het geen reaksie by beide Amta of die ministerie ontlok nie.”
Hy sê ten spyte daarvan dat die betrokke partye reeds in Junie verlede jaar ooreengekom het dat Amta se funksies weer teen Oktober verlede jaar na die Akkerbouraad oorgedra moes word, is sake deur onnodige vertragings en ’n gebrek aan die nodige reaksie belemmer.
“Die raad het twee briewe aan die landbouminister gestuur, die eerste vir die goedkeuring van die herroeping van Amta as agent en die tweede vir die herroeping en wysiging van die heffingsinvordering van die minister van justisie.
“Die raad het te goeder trou gewag om tot dié stappe oor te gaan. Die ministerie meen egter die raad is nie by magte om dit te doen nie, ondanks die wet,” sê Iyambo.
GEEN WERKSVERLIESE
Iyambo sê voorts geen werksverliese sal gely word nie, mits Amta met die raad skakel om die oordrag van personeel na die raad binne die komende twee weke te bespreek.
“Die Akkerbouraad sal werksaanbiedinge aan Amta se werknemers maak, maar volgens óns vergoedingsbeleid,” sê Iyambo.
Hy sê indien Amta versuim om met hulle te skakel, sal die raad voortgaan om die poste te adverteer en so gou as moontlik te vul om te verseker hul werksaamhede verloop glad om die regulerende raamwerk te implementeer.
VRAE OOR OORBETALING
Iyambo sê Amta en die ministerie het nie die ooreenkoms nagekom ingevolge die N$26 miljoen wat in 2017 aan die agentskap oorbetaal is nie.
Republikein het in 2017 berig die N$26 miljoen was ’n driekwart van die geld wat die raad in 15 jaar in sy reserwefonds opgebou het.
Iyambo sê aanvanklik is ’n versoek vir sowat N$35 miljoen gerig, maar die raad het net bogenoemde bedrag goedgekeur.
Hy sê buiten dat die geld deur die ministerie van landbou, water en bosbou terugbetaal moes word, het die ooreenkoms verder ingesluit dat dié geld slegs vir die aankoop van graan van kleinskaalboere gebruik moes word. Geld wat gemaak word met die herverkoop van die graan moes eenkant gehou word vir toekomstige graanaankope by dié boere.
“Die ministerie sou die totale bedrag aan die Akkerbouraad terugbetaal. Tot duser het Amta nie daarin geslaag om die geld eenkant te hou nie en het die ministerie nie die volle bedrag terugbetaal nie.
“Natuurlik is 2017 ’n goeie drie jaar gelede. Die raad het intussen talle kere met die ministerie in verbinding hieroor getree en ook briewe gerig, maar sonder sukses. Die raad het die minister onlangs weer versoek om hierna te kyk, asook na ander brandende kwessies tussen die raad en Amta.
“Dit sluit die goedkeuring van die 2019-’20-boekjaar se begroting in,” sê Iyambo.
STRATEGIEË
Iyambo sê die Akkerbouraad het ’n weldeurdagte vyfjaar- strategiese plan wat deur die minister goedgekeur is. Dit beskik ook oor ’n jaarplan met duidelike prestasiegebiede vir bestuur.
“Die toepassing hiervan het begin en belangstellendes kan die plan op ons webwerf vind,” sê Iyambo.
Die plan sluit in dat Amta se standaard- en handelsafdelings so gou moontlik na die Akkerbouraad oorgeplaas word.
“Die Akkerbouraad en sy sekretariaat is gereed om teen 1 April te doen wat gedoen moet word om die nodige funksies te verrig, soos uiteengesit in die onlangse openbare kennisgewing,” sê hy.
Iyambo sê daar is geen rede om agente vir die verrigting van dié funksies aan te stel nie.
“Die raad het ’n ontvanklike organisatoriese struktuur om te verseker alle aktiwiteite word doeltreffend en volhoubaar verrig.”
Afgesien van die genoemde funksies moes Amta ook die Namibiese Markaandeelbevorderingsplan (MSP) toepas, plaaslike voedselveiligheid beheer, toesien dat voedselstandaarde nagekom word en dat plase of geriewe geïnspekteer word.
“Die regering het altyd goeie bedoelings as dit kom by die skep van goeie beleide tot voordeel van die groter bevolking. Ongelukkig belemmer individue binne talle ministeries, agentskappe en SME’s dié goeie bedoelinge. Dan bevind ons ons in situasies soos hierdie.
“Die regering word vir die meeste probleme geblameer, maar dikwels is enkele individue verantwoordelik hiervoor,” sê Iyambo.
IN DIE NUUS
Die agentskap het in Julie verlede jaar reeds sy laaste versamelpunte vir vars produkte gesluit toe hy sy kontrak met die Suid-Afrikaanse maatskappy Fysal Fresh Produce beëindig het.
Dit volg ná Amta in 2018 reeds beheer van sy versamelpunte by Ongwediva, Rundu en Windhoek aan Fysal oorgegee het.
Verder het die media berig oor vermeende twyfelagtige grondtransaksies en bestuurders wat sedert 2013 glo oorbetaal word.
Amta is ingevolge ’n kabinetsbesluit gestig as gespesialiseerde agentskap van die ministerie van landbou, water en bosbou om die bemarking en handel van landbouproduksie in die land te bestuur.
Die agentskap se mandaat is om versamelpunte vir vars produkte, asook die land se infrastruktuur vir nasionale strategiese voedselreserwes te bestuur.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie