AMTA-vereistes vir kosveiligheid 'n bulletjie
Elvira Hattingh – Die hoë vereistes van die Agro Bemarkings- en Handelsagentskap (AMTA) se beleid vir voedselveiligheid is selfs vir gevestigde tuinbouprodusente ‘n uitdaging, alhoewel hulle verstaan dat die toepassing daarvan nie onderhandelbaar is nie.
Mnr. Christoffel de Waal, ‘n gevestigde tuinbouprodusent op die plaas Bysteek in die Stampriet-omgewing, sê die nuwe beleid, wat onder meer vereis dat produsente ‘n spesifieke infrastruktuur bou asook ‘n plant-, kunsmis-, oes-, arbeids- en gifprogram sal moet handhaaf, is ‘n steil bult om uit te klim.
“Produsente word tyd gegun om dié hoë vereistes te implementeer, maar selfs vir my wat ‘n gevestigde produsent is wat al meer as 30 jaar in die bedryf betrokke is, is dit ‘n groot uitdaging. Vir produsente wat nou begin boer, is hierdie ‘n hoë hekkie om oor te kom.
“Die probleem is dat daar geen halfwegstasie is nie. Die vereistes sal ten volle toegepas moet word en die beleid sal stelselmatig toegepas moet word, anders bestaan die kans dat sekere produsente dalk nie betyds ‘n sertifikaat sal kry nie en dus nie hul produkte sal kan bemark nie,” het hy gesê.
“Ons verstaan dit word toegepas ter wille van die veilige produksie van kos in pas met goeie internasionale landboupraktyke, maar as produsent gaan jy jou som van die koste moet maak en dit kan groentepryse nog meer opjaag.”
De Waal sê verskeie uitdagings bestaan vir tuinbouprodusente en dat die droogte veroorsaak het dat hy minder water tot sy beskikking het en net ses ha patats, in plaas van die gewone sewe of agt ha geplant het. Hy maak die lande met drupperstelsels direk uit die boorgat deur middel van pypleidings nat en gebruik sonkrag.
Hy het vanjaar ook twee ha akkerbone en twee ha mielies as voer vir sy skaap- en beesboerdery geplant.
“Die akkerbone sny ons eenkeer en baal dit, waarna dit weer uitgroei en ons dan die vee daarop kan jaag en hulle dit bewei.”
Harde klimaat
Produsente in hierdie omgewing behoort aan die Kalahari Groenteprodusentevereniging. De Waal sê egter die droë Stampriet-omgewing is ook ‘n uitdaging.
“Die son is ongenaakbaar en ons moet sagteblaarplante kweek. Die gebied se gemiddelde hoë temperatuur tesame met die lae humiditeit, veroorsaak dat jy, selfs onder besproeiing, steeds nie die gewenste mikroklimaat vir optimale produksie kan skep nie,” sê hy.
Volgens hom is ryp in die winter ook ‘n probleem en lei dit daartoe dat hy net ses maande van die jaar in die mark kan wees.
“’n Mens kan heeljaar in die mark wees, mits jy die patats in die grond wil laat oorwinter. As jy dit egter daarna laat uitgroei, is die produk dikwels van ‘n swakker gehalte en graad. Ek probeer altyd die beste gehalte produkte, eerste graad, te bied en is dus net van Maart tot Oktober in die mark.”
Volgens hom weet patatboere nie wat onder die grond aangaan nie.
“‘n Mens is altyd verras as jy begin oes. Daar is óf te min patats, óf daar is baie. Natuurlik doen jy proewe en grawe vooraf hier en daar iets uit, maar jy kry eers die hele prentjie van jou opbrengs as jy begin oes. Jou oes word deur onder meer hitte beïnvloed.”
Afgeleë markte
Christoffel sê tuinbouprodusente op Stampriet ervaar ‘n verdere uitdaging omdat hulle ver van die mark geleë is.
“Ek is 340 km van die mark geleë en jy moet jou produk in die regte graad en in die regte toestand betyds aflewer,” sê hy.
Hy lewer sy patats aan die Fresh Mark, Fresh Produce Market, Stampriet Farmer’s Market asook Pick n Pay.
Onder die markaandeelbevorderingskema vir tuinbouprodukte (MSP-stelsel), wat behels dat plaaslike handelaars, groothandelaars en spyseniers ‘n sekere persentasie vars produkte plaaslik moet koop, word groeiprogramme aan plaaslike produsente voorsien.
“Die MSP-stelsel hou vir ons groot voordele in en help ons om te monitor wat in die mark aangaan. Tog kry handelaars dikwels nie plaaslik genoeg produkte nie en moet ons produsente van ons kant bewys dat daar eintlik genoeg produkte is.”
Volgens hom wil produsente ook ‘n ooreenkoms met handelaars aangaan oor vasgestelde vloerpryse vir hul produkte om beter met ingevoerde produkte te kan meeding.
De Waal sê arbeid is ook soms ‘n probleem, met veral drank en luiheid wat die grootste euwel blyk te wees.
Nog ‘n uitdaging vir die tuinboubedryf, is dat dit nie maklik is vir jong, nuwe boere om dit te betree nie.
“Hoe wil ‘n jong man vandag begin boer? ‘n Plaas van 2 500 ha in die gebied kan moontlik, ná onderhandelinge, vir N$11 miljoen verkoop word.
“Jy kan nie meer vandag ‘n plaas betaal uit dit wat jy daarop produseer nie. Jy kan dit dalk regkry met ‘n ekstreme boerdery soos eksotiese wild of as daar dalk diamante of olie op jou plaas ontdek word. As jy boonop die eksotiese wild moet gaan koop, gaan jy ook nie oorleef nie.”
‘n Famieliepoging
“’n Boerdery is altyd ‘n familiepoging. Ons steun baie op mekaar. As ek ry om my produkte mark toe te vat, moet die lande steeds besproei word, daar moet steeds geoes word en verpak word en een persoon kan nie alleen ‘n groentebedryf hanteer nie,” sê De Waal.
Bysteek is ‘n familieplaas en De Waal is die derde geslag wat daarop boer.
“Die eerste artesiese boorgat in die Kalahari is deur die staat op hierdie plaas geboor, waarna die water sommer uit die gat geloop het. Daarna het die bye hierheen gekom en vandaar het die plaas sy naam gekry.
“Aanvanklik het hulle baie diep geboor om vas te stel waar die sandsteenlaag begin en waar dit eindig. Na die tyd is die gat weer geseël – want jy mag nie deur die sandsteenlaag boor nie. Die water in die akwifer is onder druk en dis belangrik om dit te seël om die waterbron te beskerm,” sê hy.
Sy oupa het met waatlemoen en spanspek begin boer in die gebied wat toe as die “mekka van spanspek en waatlemoen” bekend gestaan het.
“Toe hulle hier aangekom het, was hier absoluut niks nie. Hulle het met ‘n perd drie ure in al die windrigtings gery en ‘n gemsbokhoring ingekap. Dit was die grense van die plaas.”
De Waal en sy vrou Maureen is dit eens: Die lekkerste ding van boerdery, is die gevoel wat jy kry as jy jou vars produkte uit die grond haal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie