Anatomie en patologie: Van toeka tot nou
Die Anatomie Opvoedkundesentrum van die Universiteit van Namibië se mediese skool herberg 'n skatkis van kennis en weefselmonsters wat soms makabere verhale vertel uit 'n tyd toe narkose maar net 'n droom was.
Henriette Lamprecht - John Horwood en Eliza Balsum was ’n verliefde paartjie in Bristol, Engeland, in die 1820’s.
Op ’n dag sien John vir Eliza saam met ’n ander man stap.
Uit woede en jaloesie gooi John vir Eliza met ’n klip wat haar teen die kop tref.
Eliza voel lighoofdig en besoek die Bristol Royal Infirmary-hospitaal om die wond te verbind.
Die dokter aan diens is die chirurg en hoof van die anatomieskool, dr. Richard Smith.
Eliza se wond het infeksie opgedoen, maar Smith sê toe hy vermoed sy het moontlik bloeding op die brein.
Hy oorreed haar om ‘n operasie te ondergaan waartydens hy ‘n gat in haar skedel moet boor om sodoende die drukking op haar brein te verlig.
Dít geskied sonder enige verdowing omdat narkose toe nog net ’n toekomsdroom was.
Eliza sterf egter ‘n paar dae later omdat die infeksie na haar brein versprei het.
John word toe van moord aangekla en in die openbaar gehang.
Dr. Smith getuig Eliza se dood is deur breinbloeding veroorsaak.
John se liggaam word ná sy dood aan die anatomieskool beskikbaar gestel, wat in daai tyd algemene gebruik was.
Dr. Smith dissekteer die liggaam in die openbaar voor 80 voornemende chirurge.
John se familie doen aansoek om sy oorskot te begrawe, maar Smith weier om sy toestemming te gee.
Latere ondersoeke sou egter aan die lig bring die oorsaak van Eliza se dood was nié die klip teen haar kop nie, maar die infeksie wat na haar brein versprei het.
Dié makabere verhaal sou hier geëindig het, was dit nie vir ‘n amateurnavorser van geslagregisters, Mary Halliwel van Bristol, nie.
Halliwel het vasgestel John was haar agter-agter-agter oupa se broer.
Sy kon dus aanspraak maak op sy skelet en het toestemming gekry om hom te begrawe.
Twee eeue later het die universiteit in die openbaar verskoning gevra vir die onreg wat aan John gedoen is.
Meer as 50 familielede en belangstellendes het sy begrafnis bygewoon.
Vandag pryk Eliza se skedeldak, kompleet met die gewraakte boorgaatjie, in die blinknuwe Anatomie Opvoedkundesentrum van die Universiteit van Namibië se mediese skool.
RAAR MAAR WAAR
Eliza en ander se verstommende verhale vertel van ’n tyd waarin siektes bestaan het wat vandag net ’n beskrywing in mediese studente se handboeke is.
Verskeie voorbeelde hiervan is die onderskeie weefselmonsters wat deel van die uitstallings in die nuwe sentrum vorm.
Nog ’n staaltjie is dié van ’n bekende chirurg in Bristol wat tydens ’n amputasie van net twee-en-’n-half minute per "per ongeluk" drie mense se dood veroorsaak het.
Die gebruik was dat vier mans die pasiënt tydens amputasie vashou, omdat geen verdowing beskikbaar was nie.
Die eerste van die chirurg se slagoffers was die pasiënt wie se been geamputeer is. Met die gesaag verloor hy ook ’n testikel. Die assistent wat moes vashou by die amputasielyn, verloor vier vingers. Hy kry infeksie in sy wonde en sterf later.
Nóg een wat met die amputasie moes help, se oorjas kom in die saag se pad.
Daar is geen skade aan sy lyf nie, maar die skok oor wat gebeur het, gee hom net daar ’n dodelike hartaanval.
WAAR HET ALLES BEGIN?
Die Anatomie Opvoedkundesentrum spog met verskillende afdelings wat alle liggaamstelsels dek.
Verskeie organe en weefselmonsters word in glas- en perspekshouers geberg, terwyl ou mediese instrumente uit Ierland, Finland, Nederland, Engeland en Suid-Afrika ook deel van die uitstalling is.
In ’n hoek pryk ’n staal operasietafel, kompleet met al die instrumente bedoel om van vroue in kraam tot ingewikkelde nekoperasies te behartig.
Dié vonds is per toeval by ‘n openbare veiling van Windhoek se sentrale hospitaal in ’n houtkis ontdek.
Die operasietafel was in waspaper verseël en nog nooit oopgemaak nie.
Danksy ’n suksesvolle bod van N$230 op die veiling, is dit vandag ook in die anatomiesentrum.
Die tafel en instrumente dateer uit die Eerste Wêreldoorlog. Duitsland het dit Namibië toe gestuur vir veldoperasies op beseerde soldate.
Aan die stuur van die sentrum staan prof. Jan Smit, hoof van die departement anatomie by die mediese skool.
Hy is ook grootliks verantwoordelik vir die stigting van die sentrum.
Die sentrum is daar "om te wys waar als begin het”, vertel hy.
“Museums maak toe, want daar is nie meer spasie om alles te bêre nie, en dit het eenvoudig te duur geword om te onderhou. Maar hierdie orgaan- en weefselmonsters is onvervangbaar.”
’n Deel van die sentrum se versameling kom van die Royal Victoria-hospitaal in Belfast.
Toe dié hospitaal se patalogiemuseum in 2007 toemaak is die versameling na die Instituut vir Anatomiese Wetenskappe in Engeland gestuur, en die Bristol-universiteit het aangebied om dit te bewaar.
MONSTERS VAN ONSKATBARE WAARDE
“Die doel van die instituut is om soveel monsters moontlik te bewaar omdat dit van onskatbare waarde is. Glas- en perspekshouers met monsters word in kratte gestoor en op koel plekke gehou,” sê Smit.
Meer as 15 000 weefselmonsters is al so deur die instituut "gered".
Die sentrum wil graag nuwe en bestaande mediese skole help om monsters te kry om mediese studente se leerervaring te verbreed.
“Van die monsters is meer as 200 jaar oud en verwys na siektetoestande wat in Europa bestaan het in daai tyd.”
’n Voorbeeld hiervan is ingewandskoors, wat vandag nie meer bestaan nie.
“Studente weet nie hoe dit lyk nie. Ons weefselmonster is uit die vroeë 19de eeu toe dit op groot skaal in die Liverpool-omgewing voorgekom het,” sê Smit.
Hoewel ‘n groot deel van die uitstalling patalogie, oftewel "siek" weefsel, verteenwoordig, streef die sentrum daarna om gesonde weefsel ook te vertoon sodat ’n vergelyking getref kan word.
'WEEFSELBIBLIOTEEK'
Rekord word baie noukeurig gehou van waar elke weefselmonster is.
“Volgens die katalogusnommer kan jy navolg wie die skenker was en waar dit vandaan kom. Dit word gedoen onder die Owerheid vir Menslike Weefsel (HTA) in Brittanje, wat die regmatige eienaars bly. Ons is net medeverbruikers en daarom moet ons aan hulle verslag doen oor alles wat met die weefsel gebeur.”
Smit sê hy sou graag wou sien dat dosente die sentrum soos ‘n biblioteek benut en weefselmonsters kan "uitneem" om in lesings as voorbeelde te gebruik.
Sowat 700 weefselmonsters moet egter nog gerestoureer en gekategoriseer word.
“Die inligting is baie belangrik. Studente moet dit in die toekoms as gevallestudies kan gebruik. Hulle behoort die beskrywing van die voorbeeld te hê wat onder meer die abnormaliteit en prognose verduidelik, mediese behandeling voorstel en die lewensverwagting kan skat.”
JOU EERSTE 'PASIëNT'
In die disseksiesaal het die mediese studente toegang tot volledige liggame.
“Dit is jou eerste 'pasiënt', jy kan onder meer bepaal hoe oud die persoon was, wat sy voedingstatus is en of daar enige operasieletsels is.”
In die disseksiesaal word elke liggaam met respek behandel.
“Ek sê altyd vir studente dit kon jou oupa of ouma, of enige ander familielid, gewees het,” sê Smit.
Die oudste persoon wat Smit al dissekteer het, was 106 jaar oud. Hy vertel van die dame wat op sy disseksietafel beland het.
“Sy was ‘n regte ‘lady’ wat pragtig versorg was. Haar hare was gedoen en haar vinger- en toonnaels geverf. Ek het soveel respek en omgee vir haar gevoel, ek was amper te bang om haar te dissekteer.”
Van die instrumente wat uitgestal word, dateer uit die laat 1800’s. Dit sluit ’n reeks disseksiehandleidings van Cunningham in wat aan Smit se skoonpa behoort het. Hy het in 1937 medies aan die Oxford-universiteit in Engeland gestudeer.
Smit het twee jaar gelede die pos as anatomie-professor by SOM aanvaar en uit Belfast in Noord-Ierland Namibië toe getrek.
VERSAMELINGS 'GERED'
Volgens Smit het verskeie universiteite in Europa al op hul anatomiemuseums besnoei.
“Met die koms van strenger regulasies oor menslike weefsel in Engeland, het dit bykans onmoontlik geword om die versamelings te vervang as dit eers tot niet gemaak is.”
Smit was in hierdie tyd reeds op die beheerliggaam van die Instituut van Anatomiese Wetenskappe in Engeland wat op hoogte was van enige verwikkelinge in die anatomiebedryf.
Die instituut het onder meer probeer om die versamelings te red deur dit te verpak en by verskeie universiteite te stoor.
Die doel was om die versamelings beskikbaar te stel vir nuwe en opkomende mediese skole.
“Ek het onmiddelik die geleentheid raakgesien en deur die beheerliggaam van die instituut aansoek gedoen."
In Januarie 2015 het Smit ernstig begin geld soek om sy droom van ‘n anatomiesentrum ‘n werklikheid te maak.
In totaal is net meer as N$560 000 ingesamel.
Die Instituut vir Anatomiese Wetenskappe in Brittanje het ‘n versameling aan Smit beloof wat bestaan het uit 1 067 verskillende weefselmonsters en anatomie én patologie verteenwoordig.
Dit is voorlopig by die Bristol-universiteit in die suide van Engeland gehuisves.
Die harde werk sou toe eers begin, met beide universiteite se toestemming wat vir die oorplasing van die versameling verkry moes word.
Smit en sy tegnikus in Windhoek het in Augustus 2015 Bristol toe gevlieg om die verpakking te behartig en om toe te sien dat die besending per skip na Namibië vervoer word.
Die 53 plastiekhouers met 1 067 weefselmonsters is in ’n skeepshouer verpak, en die boot het die Bristol-hawe eers op 26 September verlaat.
Op 21 November 2015 is die droom van ’n anatomiesentrum uiteindelik bewaarheid toe die skeepshouer met sy kosbare vrag by die mediese skool in Windhoek afgelaai is.
“Al 1 067 weefselmonsters het veilig hier aangekom, maar nou het die groot restourasiewerk voorgelê,” sê Smit.
Op 4 November verlede jaar was genoeg van die weefselmonsters herstel om met die amptelike opening van die sentrum voort te gaan.
“Dit is voorwaar ‘n verdere mylpaal om kwaliteitonderrig aan studente te bied.
“Ons wil graag vennootskappe met ander universiteite en inrigtings opbou en ook met die Namibiese Instituut van Patologie wat ons geriewe uiters behulpsaam sal vind.”
Nog ‘n droom is om soveel skole moontlik, veral graad 11- en 12-leerlinge, asook instellings te kry om toere deur die department en sentrum te onderneem.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie