ANC kan aan regering voorskryf oor poste – Zuma
Gister was die oudstaatshoof van Suid-Afrika se derde dag van dramatiese getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping
Llewellyn Prince en Christiaan du Plessis
Die ANC het as regerende party die reg om aan die regering voor te skryf watter lojale kaders as senior bestuurders en direksielede van staatsentiteite (SOE’s), sowel as hoofde van regeringsdepartemente aangestel moet word, het oudpres. Jacob Zuma Woensdag voor die Zondo-kommissie gesê. Dit was die oudstaatshoof se derde dag van dramatiese getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Parktown, Johannesburg.
“Geen party ter wêreld sal verkiesings wen en daarna van sy eie ondersteuners vergeet en ander mense (in topposisies) aanstel . . . wat die ANC-regering se werk kan saboteer en maak dat jy die volgende verkiesings verloor nie,” het Zuma Woensdagoggend op die derde dag van sy langverwagte getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gesê.
Adv. Paul Pretorius, getuienisleier, het hom hieroor uitgevra nadat Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, vroeër in haar getuienis voor die kommissie onder meer getuig het dat faksiebelange ná die ANC se Polokwane-verkiesingskonferensie in 2007 hoogty gevier het en as deel van hul netwerke van patronaatskap het hulle finaal besluit oor wie in sekere posisies aangestel moes word.
Hogan meen dít het uiteindelik ’n negatiewe effek op die bestuur van SOE’s gehad.
Zuma is op die Polokwane-konferensie vir sy eerste termyn as ANC-president verkies. Zuma het gesê dít is Hogan se mening.
Ons moes lojale mense aanstel wat geglo het in ANC-beleid en wat dit in die regering en SOE’s moet implementeer.
“Dit is nie waar dat mense ná Polokwane net hul eie faksies versterk het nie. Kamerade van opponerende faksies is ook in sulke posisies aangestel.”
Zuma het gesê sy probleem met Hogan se getuienis is dat sy oor gebeure binne die ANC uitwei.
“Dit is nie akkuraat nie. Die ANC se ontplooiingskomitee – wat kandidate vir topposisies in SOE’s en regeringsdepartemente aanbeveel het – het lede van verskillende faksies gehad.
“Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en nasionale werkkomitee) het die ontplooiingskomitee aangestel en daarom kan ons nie sê dat dit net uit een faksie bestaan het nie.”
Volgens Zuma kon die ANC egter nie onbekende mense in topposisies aanstel nie.
“Ons moes lojale mense aanstel wat geglo het in ANC-beleid en wat dit in die regering en SOE’s moet implementeer.
“Die bedoeling was egter nie om jou vriende in sulke poste aan te stel nie. Die ontplooiingskomitee sou bespreek watter tipe mense hy wou hê en sou dan aanbevelings doen. Dit het nie gegaan oor watter vriende om aan te stel nie.”
Volgens Zuma is daar egter ook na aangewese persone se ervaring, vermoëns en geskiktheid gekyk voordat hulle aanbeveel is.
“Daarom kon ’n mens nie ’n regering hê wat op faksies gegrond is nie. Dit is egter haar (Hogan se) mening,” het Zuma gesê.
“Wêreldwyd wanneer politieke partye verkiesings wen, plaas hulle hul eie gewillige en lojale mense in die regering om hul beleid uit te voer. Lojaliteit is egter nie die enigste vereiste nie,” het Zuma gesê.
TWEEDE DAG VAN GETUIENIS
Tydens die vorige dag van getuienis voor die Zondo-kommissie het Zuma gesê die Gupta-familie het niks te doen gehad met die aanstelling van ministers of enigiets anders wat in sy administrasie aangegaan het nie.
Zuma het ook nie opdrag gegee dat Themba Maseko as direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS) afgedank of geskuif word omdat hy nie met die Guptas wou saamwerk nie en het ook nie enige van die goed gedoen waarvan die oud-ANC-LP Vytjie Mentor hom beskuldig nie. Trouens, hy kon haar destyds nie eens onthou nie.
Dit was die kern van die oudstaatshoof se tweede dag van getuienis voor die Zondo-kommissie.
Hy het sy getuienis begin met ’n aankondiging dat hy en sy kinders die vorige aand met die dood gedreig is.
Adv. Paul Pretorius SC, die getuienisleier, het Zuma gevra oor beweringe wat Maseko en Mentor in hul getuienis gemaak het.
Pretorius wou weet of Zuma wyle minister Collins Chabane destyds opdrag gegee het om Maseko uit sy pos te verwyder omdat hy na bewering nie met die Guptas wou saamwerk om staatsgeld aan hul mediabedrywighede te bestee nie.
Zuma het gesê hy weet niks daarvan nie. “In daardie stadium is direkteurs-generaal rondgeskuif. Ek weet nie enigiets van daardie opdrag nie.”
Pretorius het verwys na Mentor se getuienis dat sy afgedank is omdat sy geweier het om Zuma tydens ’n ampsbesoek aan China in 2010 te ontmoet waar die Guptas ook ’n prominente rol gespeel het.
Zuma het gesê hy was op verskeie ampsbesoeke in China en onthou nie die spesifieke besoek waarvan Mentor praat nie.
Hy het ook ontken dat die Guptas ’n prominente rol op so ampsbesoek kon gespeel het.
Mentor het ook beweer dat Ajay Gupta by ’n ander geleentheid vir haar ’n ministerspos in ruil vir kommersiële gunste aan sy familie by hul huis in Saxonwold, Johannesburg, aangebied het waar Zuma ook teenwoordig was.
Ajay het toe glo ook van ’n komende kabinetskommeling geweet. Zuma het gesê Ajay was nie ’n lid van die regering nie. “Hy moes nie daarvan geweet het nie.”
Hy het ook ontken dat Ajay ooit oor die aanstelling van ministers met hom gepraat het.
Zuma het ook ontken dat hy op dieselfde dag as Mentor by die Guptas se huis in Saxonwold was en het gesê hy weet niks van ’n gesprek tussen haar en Ajay nie. Zuma het Maandag getuig dat daar niks verkeerd was met sy verhouding met die Guptas nie. Zuma se advokaat, Thabani Masuku, wou in ’n stadium tydens die ondervraging oor Maseko weet waarom Zuma “gekruisondervra en nie soos ander ministers voor hom deur die kommissie as net nog ’n getuie behandel word nie”.
Masuku het gesê Zuma is nie voorberei vir kruisverhoor nie.
Pretorius het geantwoord hy gee Zuma bloot die geleentheid om te reageer op al die feitelike inligting oor Maseko.
“Dit sal onregverdig wees om Zuma nie die geleentheid te gee om daarop te antwoord nie.”
Zondo en die regspanne het tydens die eerste verdaging ooreengekom oor die manier van ondervraging sodat Zondo nie nodig gehad het om ’n reëling daaroor te maak nie.
Zuma het Maandag groot drama veroorsaak toe hy getuig het hoe hy die slagoffer was van ’n komplot wat oor byna drie dekades gestrek het om van hom ontslae te raak, dat spioene die ANC geïnfiltreer het en dat daar verskeie sluipmoordpogings, onder meer met buitelandse selfmoordbomaanvallers, op sy lewe was.
Dinsdag het hy weer ’n bom gelos toe hy gesê het sy persoonlike assistent is Maandagaand deur iemand gebel wat gedreig het om hom en sy kinders dood te maak.
Volgens Zuma is daar ook dreigemente teen sy regsverteenwoordiger, adv. Muzi Sikhakhane, gemaak.
“Ek het ’n kind verloor; die dreigement is reeds geïmplementeer. Ek sal later daaroor uitwei, maar vir nou wil ek net op rekord plaas dat my lewe en dié van my kinders in gevaar is.”
Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het opdrag gegee dat die betrokke wetstoepassingsagentskappe verseker dat alle doodsdreigemente teen Zuma, sy familie en sy regsverteenwoordiger deeglik ondersoek word.
Die sitting duur voort. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie