ANC se groot geknoei begin
ANC se groot geknoei begin

ANC se groot geknoei begin

Die ANC hou vandeesweek sy konferensie om nuwe leierskap te verkies, en daar heers chaos in die party.
Jacob Rooi – Enkele dae voor die ANC se leiersverkiesing vier klagtes van bedrog, afdreiging en omkopery van stemgeregtigde afgevaardigdes hoogty binne die party.

Dit blyk ook dat sowel adj.pres. Cyril Ramaphosa as dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tot nog toe weier om gehoor te gee aan pres. Jacob Zuma se versoeke vir ’n “eenheidsplan” om die kloof in die party te probeer oorbrug.

Zuma se voorstel dat die verloorkandidaat om die toppos outomaties adjunkleier word, val ook op dowe ore.

Ramaphosa is deur 1 860 ANC-takke as leier benoem en Dlamini-Zuma deur 1 330.

Sommige takke het egter meer as een afgevaardigde by Nasrec, so, ’n Ramaphosa-oorwinning is geen uitgemaakte saak nie.

In die jongste terugvegpoging van Ramaphosa-ondersteuners hoor die hooggeregshof in Johannesburg vandag – vyf dae voor die konferensie in Johannesburg begin – ’n dringende hofaansoek van sewe Mpumalanga-afgevaardigdes aan oor beweerde bedrog tydens benoemingsvergaderings.

Hofsake dreig ook in Noordwes en die Vrystaat, waar die provinsiale konferensie uitgestel moes word omdat 29 takke hul benoemingsvergaderings moes oorhou.

Dié ontevredenheid het nou uitgekring na 113 takke.

Die Mpumalanga-afgevaardigdes wil die ANC deur die hof dwing om ’n oop stemming vir die leierskap te hou én vra dat die 223 takke in Mpumalanga (en 56 in KwaZulu-Natal) wat “eenheid” op hul benoemingsbriewe geskryf het, verbied word om vir ’n individu te stem.

Mpumalanga het 491 takke en stuur 736 afgevaardigdes na die konferensie. Altesame 117 takke het vir Ramaphosa benoem en 123 vir Dlamini-Zuma.

‘Niemand sal so mal wees om die konferensie te laat misluk nie.’

Caiphus Malomane van Hazyview en sy ses medeaansoekers sê die benoemings vir “eenheid” pleks van ’n kandidaat is strydig met die ANC-grondwet.

“Dit is deel van ’n doelbewuste veldtog om takke te keer om ’n persoon te benoem.”

Volgens hulle is lede van benoemingsvergaderings uitgesluit, kworums is telkens nie gehaal nie en lede is om die bos gelei oor die doel van vergaderings. So is ’n benoemingsvergadering by die Magewu Primary School voorgehou as ’n ANC-vroueligabyeenkoms.

Die aansoekers sê in hul eedsverklarings daar is wyd teen Ramaphosa gediskrimineer:

In een wyk het die verkose ANC-toesighouer gesê mense wat Ramaphosa steun, vernietig die ANC.

Bekende Ramaphosa-ondersteuners is glo van vergaderings uitgesluit.

Van die 37 takke in die Nkomazi-streek wat takvergaderings gehou het, was daar by 28 nie kworums nie.

In sekere wyke is ledetalle glo gemanipuleer om ’n kworum te kry of om meer afgevaardigdes konferensie toe te kan stuur.

Beweringe van die omkopery van afgevaardigdes kom wyd voor, met beloftes van poste en bedrae wat wissel van R30 000 tot R100 000.

Mathews Phosa, oudpremier van Mpumalanga en self ’n presidentskandidaat, steun die hofaansoek en sê die “ANC is in die moeilikheid”.

“Soos die afgevaardigdes vir die konferensie gaan registreer, word hulle oral geskok omdat die registers wat tydens die takvergaderings gebruik is en handtekeninge op lederegisters op bedrieglike wyse verander is.”

Probleme word aangemeld in al die provinsies wat Dlamini-Zuma steun, maar ook in Limpopo en die Oos-Kaap, wat agter Ramaphosa staan.

Raadslede en ander met regeringsposte word glo gedreig dat hulle dit kan verloor.

So is Jane Manganye, adjunkspeaker in die Noordwes-wetgewer en lid van die nasionale uitvoerende komitee (NUK), Woensdag uit haar pos geskop – glo omdat sy Ramaphosa steun.

Obed Thabana, oudsekretaris van die SAKP in Polokwane, het die naweek gesê on­reëlmatighede in Limpopo is wydverspreid.

Dit sluit glo in korrupsie met die oudit van lede, handtekeninge op lederegisters wat op bedrieglike wyse bekom is en “ANC-ontplooides” wat in die plek van takvoorsitters benoemingsvergaderings gelei het.

Ramaphosa het in ’n onderhoud met City Press gesê talle “vreemde goed” gebeur en dat sy afgevaardigdes geldelike aanbiedings kry.

Wat betref die hofsake verskil kenners oor die impak wat dit op die konferensie sou kon hê.

Tefo Raditapole, direkteur by Cheadle, Thompson & Haysom Attorneys, asook prof. Pierre de Vos, grondwetlike kenner aan die Universiteit van Kaapstad, het Donderdag in Business Day geskryf ’n interdik kan teen die konferensie gebring word sou dit blyk dat die afgevaardigdes op onbehoorlike wyse aangewys is.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, sê egter as daar chaos in een provinsie is, dit nie ’n nasionale proses kan stop nie.

Diegene wat hulle vir die verkiesing van Ramaphosa beywer, asook dié agter Dlamini-Zuma het Vrydag gesê hulle is gereed vir die stryd wat voorlê.

Volgens Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, werk die party vir ’n suksesvolle konferensie. “As daar ’n hofgeding kom, sal ons onsself verdedig,” sê hy.

Benewens die verkiesing van die party se topsesleiers, en ’n moontlike besluit dat dié groep vergroot moet word, sal die kongres ook vir die ander 80 lede van die NUK stem.

Wie dié nuwe NUK gaan steun, is deurslaggewend vir Zuma se termyn as president van die land omdat die NUK hom kan herroep.

Dít het destyds met oudpres. Thabo Mbeki gebeur. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!