ANC-topses gaan Ramaphosa rem
Die uitslag van die ANC se presidentsverkiesing voorspel niks goeds vir dié party of die land nie.
Cyril Ramaphosa, die ANC se nuwe president, sal 'n gevangene van sy eie topbestuur wees en dit kan sterk optrede teen korrupsie en staatskaping aan bande lê. Die kanse dat pres. Jacob Zuma nou herroep sal word, is ook baie skraal.
Ace Magashule, sekretaris-generaal, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, is twee lede van die topses wat met die berugte Gupta-familie verbind word.
Magashule se verkiesing was die groot verrassing, sê Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se besigheidskool. Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, en Tim du Plessis, kykNET se nuushoof, stem saam. Volgens Eloff is die topses 'n kompromis tussen die twee faksies in die ANC.
“Ek het 'n rukkie gelede gesê die kompromis-scenario is die slegste moontlike een. En nou het dit gebeur.”
Eloff sê Ramaphosa sal nou die hele tyd in die topses gekonfronteer word met eise om eenheid en versoening binne die ANC te bevorder.
“Dit sal hom aan bande lê. ”
Du Plessis meen Ramaphosa het 'n leë oorwinning behaal. Hy sal nou vir bondgenote in die topses en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) moet gaan soek.
Eloff en Venter glo egter die samestelling van die NUK sal dié van die topses weerspieël.
Die politieke ontleder Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit sê enige iemand wat dink die ANC sal voor die volgende algemene verkiesing in 2019 van pres. Jacob Zuma ontslae raak, sal nou twee keer moet dink.
zuma-kamp
“Die uitslag van die topses-verkiesing wys die Zuma-kamp staan nog baie sterk in die ANC. Zuma sal die uitslag sien as 'n mandaat om tot met die verkiesing van 2019 as president (van die land) aan te bly,” het Croucamp gesê.
Hy verwag die Zuma-kamp sal in die verkiesing van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en die werkkomitee waarskynlik ook sowat die helfte van die lede oplewer.
Prof. Pieter Labuschagne, politieke ontleder by Unisa, meen Ramaphosa se verkiesing is goeie nuus vir Suid-Afrika. Dit het reeds 'n positiewe uitwerking op die waarde van die rand gewys.
Labuschagne meen egter dit is onrusbarend dat David Mabuza tot die pos van adjunkpresident verkies is, omdat “hy juis die negatiewe elemente van staatskaping en grootskaalse korrupsie verteenwoordig”.
Die ideologiese verdeling aan die ander kant van die ANC het in Mabuza steeds 'n sterk verteenwoordiger.
Labuschagne meen onder Ramaphosa se leierskap sal die groot uitdagings van korrupsie en staatskaping hopelik dringend aandag kry.
Labuschagne het terselfdertyd gewaarsku daar moet nie grondverskuiwende beleidsveranderinge oor radikale ekonomiese transformasie onder Ramaphosa verwag word nie.
Radikale transformasie is al van 2007 af ANC-beleid.
Ramaphosa word tot 'n mate deur ANC-beleid beperk.
Venter sê die ANC het die kans verspeel om 'n nuwe rigting in te slaan. Dit kan hom duur te staan kom in 2019 se verkiesing en sal soos manna uit die hemel vir opposisiepartye wees.
Du Plessis sê ondanks die verrassende wending wat die verkiesing geneem het, is daar darem een ligpunt.
“Jacob Zuma is nie meer die leier van die ANC nie. Suid-Afrika is soos een van daai ellelange ertstreine. Die voet is nou van die petrol gehaal en daar is begin om rem te trap. Dit gaan lank vat voordat die trein van korrupsie en staatskaping heeltemal stilstaan, maar ten minste is 'n begin daarmee gemaak.”
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie