Andreas styg uit bo sy omstandighede
Henriette Lamprecht
“Ek het my trane en lyding in my krag verander. Ek het vir myself gesê ek moet hard werk om almal te red.”
Agt jaar ná sy ma uit hul nedersetting verjaag en van heksery beskuldig is, het Andreas Haingura ten spyte van erge swaarkry, gebrek aan finansiële ondersteuning en stigma as die kind van ’n “heks”, sy tweede jaar as verpleegstudent aan die Universiteit van Namibië (Unam) met lof geslaag.
Buiten dat sy droom om vir sy ma te kan sorg besig is om te realiseer, is Andreas ook ’n groot kampvegter vir mense soos sy ma wat aan demensie ly en wat dikwels in hul kultuur van toordery beskuldig word.
Vandag woon sy ma, Frankhilde, en haar gesin weer in Siya waar sy jare vantevore ’n groot mahangu-landery, bokke en ’n cuca-winkel gehad het voordat sy verjaag is. Volgens Andreas is dit alles of vernietig of verkoop om ’n toordokter te betaal wat moes besluit of sy ma ’n heks is of nie.
“In ’n oogwink was alles wat ons gehad het, net weg.”
Die hele 2013 was Andreas “op wag” om sy ma te beskerm en kon sy susters ook nie skool toe gaan nie.
Sy ma word in 2014 met ’n baksteen aangerand wat haar skedel kraak. Enkele dae nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, verlaat sy noodgedwonge Siya waar sy gebore is en grootgeword het.
Andreas was deurentyd vasbeslote om sy skoolloopbaan te voltooi en het naweke in ’n steengroef begin werk waar hy klippe kleiner gekap en verkoop het om huise mee te bou. Met dié geld kon hy sy koshuis- en eksamenfooie betaal, homself onderhou en ook geld vir sy ma stuur.
“Ek het geweet dit sal eendag beter gaan, want daar is ’n Lewende God.”
In 2018 skryf Andreas by Unam in om sy Engelse punte te verbeter om later as voltydse student by die universiteit in te val. Saam met Berrie Holtzhausen van Alzheimers Dementia Namibia begin hy hom bewyer om die lot van demensielyers te verbeter en voltooi ’n aanlyn kursus aan die Universiteit van Tasmanië wat op demensie fokus. Hy word twee keer weens sy swak graad 12-punte by Unam afgekeur – eers in onderwys en toe in verpleging.
Berrie besluit om ’n “absoluut gebroke” Andreas te help om sy droom te verwesenlik en gaan sien die dekaan wat hy tydens een van sy bewusmakingsveldtogte ontmoet het.
Berrie het haar vertel van Andreas wat alleen met ’n halwe sak mahangu agtergebly het ná sy gesin moes vlug. Die daaglikse klippe wat hy ná skoolure en naweke moes breek en verkoop om homself deur skool te sit, asook sy kursus in Engels om sy droom te kan verwesenlik om verder te studeer.
Andreas begin in 2020 met sy BA-graad in verpleging by Unam. In Mei 2020 keer sy ouers terug na Siya vanwaar hulle sewe jaar gelede gevlug en in ondenkbare armoede geleef het en as slawe op die lande van bure gewerk het vir ’n paar blikbekers mahangu per dag.
Andreas bou hul eerste hut, koop twee osse om die landerye mee te ploeg en sorg dat sy ma ’n kraan by die hut het.
“Ons werk saam as ’n span om te ploeg en beoefen so ubuntu en skep vrede in die gemeenskap,” vertel Andreas.
Hy slaag sy eerste en tweede jaar met lof en stig in Augustus vanjaar die Dementia Friendly Free Society.
Die vereniging wat hy begin het om bewustheid oor demensie te skep, is vir hom ’n groot eer, sê Andreas.
“Ek werk onverpoos dat my ma veilig is en ’n normale lewe kan lei met al haar regte. ’n Persoon wat ’n siekte het, is steeds ’n mens en steeds gelyk aan ander.” – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie