'Angelina ontspanne met fotosessie'
Marlice van Vuuren gesels oor haar vriendin se fotosessie vir die glanstydskrif Harper's Bazaar by Kanaan.
Francoise Steynberg - Die drie jagluiperdjies het omtrént baljaar tydens die Harper's Bazaar-fotosessie van die bekende aktrise en filantroop, Angelina Jolie, op Kanaan.
"Die jagluiperds, Shiloh, Odyssey en Wonder, wou net in die duine baljaar en jag. Ek moes hulle met vleis teruglok vir die foto's," het Marlice van Vuuren van die N/a'an ku sê-stigting en aanbieder van die gewilde natuurprogram Groen: Namibië, verlede week aan Republikein vertel.
"Ek gaan stap elke dag met hulle op N/a'an ku sê en hulle vang omtrent elke tweede dag iets. Toe hulle op Kanaan in die oop ruimtes kom, wou hulle net jag."
Twee van die jagluiperds wat in Mei twee jaar oud geword het, is deur Jolie se Namibies-gebore dogter, Shiloh Jolie-Pitt, vernoem en die ander een is na haar vernoem.
Die luiperds en die San was glansmodelle tydens die fotosessie vir die internasionale glanstydskrif Harper's Bazaar se spesiale gedenkuitgawe om hul 150ste bestaansjaar te vier.
Marlice vertel die fotosessie is binne een dag op Kanaan afgehandel, maar Colette Massier van N/a'an ku sê moes vooraf reël dat die vraghouer vol ontwepersklere, skoene en bykomstighede van miljoene dollar by die lughawe se doeane verklaar word en na Kanaan met 'n vragmotor vervoer word.
BEKENDE MODEHUISE
Die ontwepersklere sluit ontwerpe van internasionale modehuise van onder meer Dior, Versace, Ralph Lauren, Alberta Ferretti en Gabriela Hearst in.
Volgens Marlice het Jolie self haar klere en juwele gekies en was sy self in beheer van die hele fotosessie. Die haarkapper Adam Campbell, van Wella Professionals, en grimeerkunstenaar Toni G., van smdcosmetics, is van oorsee af ingevlieg en 'n Namibiër, Thamia Hougaardt, het die klerekas behartig.
"Die grondspan en die San van Tsumkwe (agt volwassenes en twaalf kinders) het na Kanaan gery en Angelina en Harper's Bazaar se fotograaf, Alexi Lubomirski, het gevlieg," sê Marlice.
Die San was ook deel van die fotosesse en Marlice sê hulle het Jolie al by 'n vorige geleentheid ontmoet en was bly om haar weer te sien.
"Die San het lekker met haar gesels en die duine geniet. Angelina se ses kinders het sonder 'n kinderoppasser die hele tyd buite gespeel. Shiloh en my oudste seun, Zacheo, het lekker saamgespeel en was saans só vuil."
Marlice vertel hulle het die namiddag voor die fotosessie vier plekke gaan kies, naamlik die groot kameeldoringboom, dooie bome by die lodge en een by die tafel.
'n Toe wildbesigtigingsvoertuig is vir Jolie as kleedkamer ingerig en die kameras het vroegoggend begin kiek.
"Angelina was so gemaklik en natuurlik voor die kamera. Jy kon sien sy het dit baie geniet," vertel Marlice.
Oor die balrok van Versace waarmee Jolie onder die boom gekiek is, het sy gesê “dit is so swaar soos 'n gordyn".
KONINGIN SE BOOMPROJEK
Ná die fotosesse het Jolie 'n kokerboom by Kanaan geplant vir koningin Elizabeth van Brittanje se Queen's Commonwealth Canopy-projek vir Statebondlande wat deur die Jolie-Pitt-stigting in Namibië gevestig is. Een van die doelwitte van die projek is om bewustheid oor inheemse bome te vestig met Buckingham-paleis wat Namibië, Papoea-Nieu-Guinee en Brittanje gekies het. Inheemse bome word by die kwekerye op Neuras en Kanaan geplant en word met herwinde water natgelei.
Die fotosessie het tydens Jolie en haar ses kinders se besoek einde Junie aan Namibië plaasgevind toe sy en Shiloh die Shiloh Wildlewe-toevlugsoord van N/a'an ku sê geopen het. Jolie het ook 'n brief in Harper's Bazaar gepubliseer waarin sy Namibiese bewaring lof toeswaai en op die bewaring van jagluiperds en menseregte vir minderheidsgroepe soos die San fokus.
Harper's Bazaar se spesiale gedenkuitgawe vir November sal op 24 Oktober op die winkelrakke wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie