Anglo American is 100 jaar oud

Die Gekonsolideerde Diamantmyne van Suidwes-Afrika, wat later Namdeb sou word, is in 1921 gestig.
Elvira Wood



Anglo American het Maandag 100 jaar oud geword.

Die mynmaatskappy is in 1917 deur Ernest Oppenheimer, die oupa van Nicky Oppenheimer en die tweede rykste man in Afrika, gestig.

Anglo American se markwaarde beloop tans R306 miljard.

Die maatskappy het beleggers die afgelope jaar goed beloon met 'n totale opbrengs (dividende ingesluit) van 45,15%, maar is nog so 21% laer as sy vyfjaar- hoogste sluitingstydprys van R291,01 in Julie 2014.

Die maatskappy het die afgelope eeu verskeie mylpale behaal:

1921: Die Gekonsolideerde ­Diamantmyne van Suidwes-Afrika word gestig. Dit word later Namdeb.

1922: African Explosives and Chemical Industries (AECI) word gestig.

1926: Die maatskappy begin goud aan die Oos-Rand ontgin en word die grootste aandeelhouer in De Beers.

1927: Anglo American belê £1 miljoen in die N'kana-kopermyn in Zambië.

1928: Sluit vennootskap met Hans Merensky, wat Suid-Afrika se grootste platinumrif ontdek het. Die maatskappy word later Anglo American ­Platinum.

1934: Die Diamond Trading Company – wat tot vandag De Beers se dia­mante sorteer, waardeer en bemark – word gestig.

1938: Die fondasies vir die maatskappy se hoofkantoor in Johannesburg se middestad word gegooi.

1945: Die maatskappy begin steenkool ontgin.

1947: De Beers se slagspreuk “'n Diamant is vir altyd” word vir die eerste keer gebruik.

1950: Die maatskappy se bedrywighede in die Vrystaat lei tot die stigting van die dorp Welkom.

1961: Anglo American belê in die Hudson Bay Mining and Smelting Company in Kanada. Dis sy eerste belegging buite Suider-Afrika.

1964: De Beers neem die Rockeater – sy eerste skip wat diamante van die seebodem kan ontgin – in gebruik.

1965: Die Finch-diamantmyn in die Noord-Kaap begin met bedrywighede.

1967: Die papiervervaardiger Mondi word gestig.

1969: Debswana word in Botswana gestig.

1973: Die maatskappy maak sy eerste kantoor in Suid-Amerika in Rio de Janeiro, Brasilië, oop.

1992: Die Venetia-diamantmyn in Limpopo begin met bedrywighede.

1995: Namdeb word gestig.

1999: Anglo American noteeer in Londen.

2003: Die maatskappy verkry 'n belang in Kumba Resources.

2007: Mondi word van Anglo ontbondel.

2008: De Beers belê in twee Kanadese diamantmyne, Snap Lake en Victor. Dit is die eerste keer dat hy diamantmyne op 'n ander vasteland as Afrika bedryf.

2009: Verkoop sy belang in AngloGold Ashanti.

2013: Verkoop nou al sy diamante vanuit ­Gaborone, Botswana, en nie meer vanuit Londen, Brittanje, nie.

2016: Kondig herstrukturering aan en beplan om van sowat 60% van bates ontslae te raak en nagenoeg 85 000 werkers af te lê. Die maatskappy het sedertdien van sy planne uitgestel nadat hy teen einde 2016 reeds meer as die helfte van sy skuld kon afbetaal sonder om van al die bates ontslae te raak.



Onseker toekoms

Die toekoms van die mynmaatskappy wat in 1917 deur Ernest Oppenheimer gestig is, is onseker nadat Anil Agarwal, die Indiese mynmagnaat, verlede week die grootste aandeelhouer in dié maatskappy geword het.

Agarwal se Volcan Investments besit tans 'n 12,5%-belang in die maatskappy. Hy beplan egter om nog £1,5 miljard (sowat R27 miljard) te spandeer om sy belang tot 20% te vergroot.

Hoewel Agarwal voet by stuk hou dit is net 'n “persoonlike” belegging, sê Paul Gait, 'n ontleder by Stanford C. Bernstein in Londen, “dit is 'n betreklik duur persoonlike belegging.”

“Dit voel vir my asof hy homself vir een of ander herstrukturering ná die ANC-verkiesing posisioneer.” 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!