Anglo bied hulp aan met Eskom
Anglo bied hulp aan met Eskom

Anglo bied hulp aan met Eskom

Elvira Wood – Anglo American sal help waar hy kan om die probleme by Eskom op te los.

Dit is Mark Cutifani, uitvoerende hoof van dié mynmaatskappy, se belofte.

Cutifani het Woensdagaand die media op ’n geselligheid in Illovo, Johannesburg, toegespreek.

“Ons wil nie arrogant voorkom nie en ons stel nie voor dat ons enigiets meer weet as ander nie, maar ons het meer as 70 000 werknemers in die land. Ons het dus baie vaardighede beskikbaar wat ons via nasionale projekte kan gebruik om ’n verskil in gemeenskappe te maak,” sê hy.

Cutifani sê dit geld nie nét vir Eskom nie, maar ook vir ander staatsondernemings.

Cutifani het juis vroeër in November op ’n paneelbespreking op die tweede jaarlikse beleggingskonferensie wat in Sandton, Johannesburg, gehou is, gesê dat daar dringend werk gemaak moet word om Eskom reg te ruk.

“Daar is absoluut geen twyfel daaroor dat Eskom en die beskikbaarheid van elektrisiteit ’n groot rol speel in die besluite wat ons neem nie. Dit is waarskynlik die grootste risiko wat ons moet behartig.”

Hy het toe gesê dit is ’n moeilike taak omdat “jy beduidende herstrukturering moet doen”.

Hier om te bly

Cutifani het herhaaldelik gesê dat Anglo American, wat in verskeie sektore, van steenkool en diamante, tot ystererts en platinum, bedrywig is, geen planne het om uit die land te onttrek nie.

Inteendeel, hy het Suid-Afrika beskryf as “een van die mees opwindende plekke in die wêreld om te wees”.

“Ek het dit al baie keer gesê en ek sal dit weer sê: Die meeste Suid-Afrikaners gee hulself nie die krediet wat hulle verdien in terme van die transformasie wat reeds plaasgevind het nie.”

Hy verwys spesifiek na hoeveel meer mense toegang tot basiese dienste soos lopende water en elektrisiteit het.

“Ongeag wat gesê word, is die transformasie in die land steeds noemenswaardig.

“ ’n Mens moet egter nooit tevrede wees met die stand van sake totdat dit die vlak bereik het waar dit moet wees nie.”

Cutifani het verder Suid-Afrika se demokrasie as “waarskynlik die lawaaierigste demokrasie waarin ek moes leef”, beskryf.

Hy sê as ’n “aandeelhouer ons iets oor die ‘Suid-Afrikaanse probleem’ vra, dan stop ek die gesprek en vra dat die persoon moet definieer wat hierdie ‘probleem’ is.

“Hierdie is die gebied waar ons die beste in die wêreld presteer.”

Ons gaan tans deur ’n beduidende transformasie – een wat ons in elk geval behoort deur te gaan.

Mark Cutifani, Anglo American

Volgens hom verdien Anglo American sowat 50% van sy totale verdienste uit sy bedrywighede in Suid-Afrika.

“Ons marges en opbrengste hier is net so goed as enige ander plek in die wêreld.

“Ongeag die uitdagings, verstaan Suid-Afrika mynwese.

“Hy verstaan die kultuur van mynwese.

“Ons gaan tans deur ’n beduidende transformasie – een wat ons in elk geval behoort deur te gaan.

“Om eerlik te wees – hoewel dit nie glad verloop het nie en dit nie altyd aangenaam is nie – is die vordering na my mening groter as die transformasie in enige ander deel van die wêreld,” sê hy.

Oor Anglo wat hom uit sommige bedrywighede onttrek, sê Cutifani om te groei moet die maatskappy ook “aanbeweeg”.

Hy sê waar die maatskappy uit bedrywighede onttrek, skep dit weer geleenthede vir nuwe maatskappye.

In die geval van beleidsekerheid, sê Cutifani is daar nog vrae oor die mynbouhandves.

“In die algemeen is ons egter positief oor die veranderinge wat tot dusver gemaak is.

“Ons het ons toewyding gegee om steeds in gesprek te bly en kwessies waaroor ons verskil, uit te stryk.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!