Anglo klou aan De Beers
Anglo klou aan De Beers

Anglo klou aan De Beers

Jo-Mare Duddy Booysen
Anglo American het De Beers as kernbate ná ‘n grootskaalse herstrukturering van die groep behou omdat dié internasionale mynboureus oortuig is ‘n oplewing in die Chinese en Indiese vraag na diamante gaan die kwynende aanbod oorskry.
Anglo American besit tans 85% van De Beers. Op sy beurt besit De Beers weer 50% van Namdeb Holdings, terwyl die res in die hande van die Namibiese regering is. Anglo American Plc is ook op die Namibiese aandelebeurs (NSX) genoteer.
De Beers se markaandeel het van meer as 80% in die tagtigerjare tot sowat ‘n derde daarvan tans getuimel. Dit het die diamantreus se beheer oor aanbod ingeperk en tot prysskommeling gelei. Die groep se uitdagings word vererger deur kompetisie van sintetiese diamante en onsekerheid oor die vraag uit die geledere van die sogenaamde millennium-geslag – verbruikers tussen 18 en 34 jaar.
Ná Anglo US$5,1 miljard vir ‘n belang van 40% in De Beers betaal het, verminder dit sedert 2012 jaarliks die waarde van De Beers as bate in sy boeke.
De Beers bly nietemin die grootste diamantprodusent ter wêreld wat waarde betref, gevolg deur Rusland se Alrosa. Noue bande met lande soos Namibië en Botswana verseker De Beers toegang tot topmyne.
De Beers het vandeesweek ‘n ooreenkoms van tien jaar met Namibië gesluit, ingevolge waarvan onder meer US$430 miljoen se ongeslypte diamante voortaan aan die kliënte van Namibia Diamond Trading Company (NDTC) vir plaaslike slyp en polering beskikbaar gestel sal word. Namibië ontvang meer as 80 Amerikaanse sent uit elke Amerikaanse dollar wat uit die Namdeb-vennootskap tussen De Beers en die regering verdien word.
Paul Gait, ‘n analis van Bernstein Securities, meen Anglo probeer sy beeld poets in die soeke na ‘n koper. De Beers se bande met lande en vennootskappe gaan enige verkoopstransaksie egter vergemoeilik.

‘Oper boeke’
Sedert konsolidering in 2012, openbaar Anglo toenemend meer oor De Beers in sy boeke. Voorheen was inligting in jaarverslae beperk tot ‘n algemene oorsig van De Beers se bedrywighede, terwyl die 2015-verslag meer besonderhede oor die groep se geldsake en vertoning in verskillende lande bevat. Anglo publiseer nou ook die resultate van sy periodieke diamantverkope.
Anglo het verlede maand gesê Namdeb Holdings, die beheermaatskappy van Namdeb en Debmarine Namibia, het in die eerste drie maande van 2016 saam 444 000 karaat diamante gelewer, 10% meer as die laaste kwartaal van 2015. Anglo se 2015-jaarverslag toon Namdeb het verlede jaar ‘n onderliggende ebitda (verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings) van US$147 miljoen behaal. Dit is US$60 miljoen minder as die vorige jaar.
Diamante word nie op ‘n ope beurs verhandel nie en is baie aan verbruikersgiere blootgestel. De Beers bied tradisioneel “pakkies” diamante aan sowat 80 uitgesoekte grootmaat-aankopers (“sightholders”), maar dié verhouding het verlede jaar begin versuur.
Die wêreldvraag na diamantjuwele het in 2014 ‘n piek van US$81 miljard bereik, met produksie wat gevolglik ook die hoogte ingeskiet het. Teen 2015 was die mark meer as versadig, net toe Chinese handelaars soos Chow Tai Fook uitbreiding staak.
Grootmaat-aankopers kon nie ‘n wins maak nie en hulle het geleidelik begin weier om De Beers se pakkies te aanvaar, sê Christopher Gemerchak, redakteur van The Diamond Loupe in Antwerpen, waar hoofsaaklik Joodse en Indiese handelaars in die hartjie van die wêreld se diamantmark saamtrek.

Sintetiese faktor
De Beers verwag gedempte diamantpryse vir 2016, maar produksie sal na verwagting weer in 2017 piek ná twee myne in Kanada aan boord kom.
Diamante is net skaars as jy dié ignoreer wat in ‘n laboratorium gemaak word. Tans word dié stene hoofsaaklik in gereedskap gebruik en verteenwoordig dit tussen 2% en 3% van totale diamantverkope. Die markaandeel van sintetiese diamante is egter besig om te groei.
“Produsente kan ‘n miljoen keer sê dis nie dieselfde ding nie, maar dis nie langer waar nie. Dis ‘n diamant, punt,” sê Chaim Even-Zohar, redakteur van Diamond Intelligence. Hy is van mening sintetiese diamante gaan produsente se mag afwater.
Gareth Mostyn, hoof van De Beers se strategie, het aan Reuters gesê die groep ignoreer nie die kompetisie van sintetiese diamante nie, maar is deeglik van verbruikersvoorkeure bewus.
“As hulle ‘n keuse het tussen ‘n diamante wat drie miljard jaar gelede deur die natuur geskep is en een wat ‘n laboratorium gekweek word, wil verbruikers die egte ding hê,” sê hy.

Miljoene nuwe kopers
Volgens De Beers gaan die inkomste van sowat 75 miljoen Indiese huishoudings binne die volgende dekade tot tussen US$5 000 en US$6 000 styg en sal hulle na verwagting diamante begin koop. Dié verbruikers, asook die jonger millennium-kopers in Amerika, die grootste mark, moet egter oortuig word om te koop.
De Beers het tussen US$150 miljoen en US$200 miljoen per jaar in generiese bemarking belê, waarin die boodskap tuisgebring is dat ‘n diamante vir altyd is en dus die steen van voorkeur vir verlowings is.
“Die diamantsektor kan nie die vraagkurwe vanselfsprekend aanvaar nie,” sê Anish Aggarwal, ‘n vennoot by Gemdax. Met die millennium-geslag, ding diamante met vakansies, nuwe toestelle, handsakke en selfs motors mee, sê hy. – Eie berig en Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!