Angola, GIPF versterk buitelandse reserwes
Angola, GIPF versterk buitelandse reserwes

Angola, GIPF versterk buitelandse reserwes

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy - Die Banco Nacional de Angola (BNA) het reeds sowat ''n vyfde van sy skuld by die Bank of Namibia (BoN) betaal en moet nog ongeveer N$4,7 miljard vereffen.

Ipumbu Shiimi, president van die BoN, het gister gesê Angola se sentrale bank se uitstaande rekening is sowat US$346,3 miljoen. Nóg ''n betaling word egter vandeesmaand verwag, wat die BNA se totale skulddelging op US$100 miljoen te staan sal bring.

Die oorspronklike skuld van US$426,3 miljoen spruit uit die aanvank­like omskakelingsooreenkoms tussen Namibiese dollar en kwanza in Junie verlede jaar wat tot ''n massa-uitvloei van kapitaal uit Angola gelei het. Ingevolge die oorspronk­like ooreenkoms sou die BoN elke 30 dae kwanza na die BNA terugstuur waarvoor die Angolese sentrale bank die plaas­like een in Amerikaanse dollar moes vergoed. Die BNA kon dit egter nie bybring nie en ''n hersiende betalingskedule van een keer per kwartaal is goedgekeur.

Shiimi sê die BNA is “sterk” verbind tot die terugbetalingsooreenkoms. Dié geld het gehelp om Namibië se buitelandse reserwes ''n hupstoot te gee, sê hy.

Teen die einde van November het buitelandse reserwes N$25 miljard beloop vergeleke met N$22,6 miljard in Oktober. Dit beteken Namibië beskik oor genoeg buitelandse reserwes om vir 3,3 maande se invoere te betaal. In Oktober was dit net genoeg vir 2,9 maande se invoerdekking. Die aanvaarde standaard is drie maande.

Namibië se buitelandse reserwes het ook vanweë ''n bate-­uitruiling van N$5 miljard met die Staatsdienspensioenfonds (GIPF) versterk, sê Shiimi.

Tot dusver is N$8,9 miljard se bate-­uitruilings met die GIPF en Nam­Power gedoen.

Volgens Shiimi het die BoN nog nie bate-­uitruilings met ander instellings “aggressief nagejaag” nie.

Die bank ondersoek egter moontlikhede.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer