Angola skuld redery miljoene
Angola skuld redery miljoene

Angola skuld redery miljoene

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer in Dublin - Air Namibia is een van die rederye wat ernstig deur die valutakrisis in Angola geraak word aangesien die buurland se sentrale bank nie oor genoeg buitelandse reserwes beskik om dié redery se inkomste oor te betaal nie.
Adv. Mandi Ellaine Samson, waarnemende besturende direkteur van Air Namibia, het by die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) se jaarvergadering in Dublin, Ierland, aan Republikein gesê Angola skuld die nasionale redery miljoene Namibiese dollar aangesien Air Namibia weier om die betaling in kwanza te ontvang.
Luanda in Angola was tot onlangs een van Air Namibia se gewildste roetes aangesien Angolese Namibië druk besoek het vir besigheid, inkopies en selfs om mediese dienste te ontvang.
Samson sê passasiersgetalle op dié roete het egter afgeneem aangesien baie Angolese se besteebare inkomste deur die ekonomiese krisis geraak word. Dié krisis word deur die lae olieprys aangevuur.
Sy sê aangesien die Angolese regering nie genoeg Amerikaanse dollar in reserwe het nie, het die buurland se regering betalings na buitelandse rekenings bevries en kan die inkomste wat Air Namibia op die Luanda-roete verdien het, nie oorbetaal word nie.
“Hulle kan ons in kwanza betaal, maar ons wil nie dié risiko neem nie,” het sy gesê.
Banco Nacional de Angola (BAN), die sentrale bank in die buurland, skuld die Bank of Namibia (BoN) ook meer as N$5 miljard ná die aanvanklike omskakelingsooreenkoms tussen die twee lande se geldeenhede in Junie verlede jaar tot 'n massa-uitvloei van kapitaal uit Angola gelei het. Ingevolge die oorspronklike ooreenkoms sou die BoN elke 30 dae kwanza na die BNA terugstuur waarvoor die Angolese sentrale bank die plaaslike een in Amerikaanse dollar moes vergoed. Die BNA kon dit egter nie bybring nie en 'n hersiene betalingskedule van een keer per kwartaal is goedgekeur.
Benewens Angola, sukkel lugrederye ook om hul geld uit Nigerië, Soedan, Egipte en Venezuela te kry, het Iata gister bekend gemaak.
Angola is sewe maande agterstallig met die uitbetaling en skuld rederye ‘n gesamentlike US$237 miljoen.
Nigerië is wat lande in Afrika betref die grootste sondaar en skuld lugrederye US$591 miljoen wat reeds sewe maand agterstallig is. Die regering in Venezuela is 16 maande agter met die oorbetaling van ‘n reuse US$3,8 miljard wat rederye op roetes na en van hierdie land verdien het, blyk dit uit inligting wat deur Iata vrygestel is.
“Die rederybedryf is ‘n kompeterende bedryf met baie klein winsmarges. Daarom is die doeltreffende betaling van inkomste wat verdien is, kritiek belangrik. Dit is nie redelik om te verwag rederye moet in lande belê en roetes daarheen bedien indien hulle nie die geld wat hulle daardeur verdien, kan insamel nie,” het Iata se direkteur-generaal en hoof uitvoerende beampte, mnr. Tony Tyler, gesê.
Hy het namens dié regering ‘n dringende beroep op regerings en hulle sentrale banke gedoen om die internasionale ooreenkomste wat hulle verplig om vinnige oorbetalings te doen, te eerbiedig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!