Angolese generaal dalk eiendom kwyt

'n Miljoenêr en generaal in die Angolese weermag kan nie sy rykdom, wat 'n kontantbedrag van N$200 miljoen en 'n huis in 'n luukse woonbuurt in Windhoek insluit, verklaar nie.
Jemima Beukes
Mathias Haufiku en Jemima Beukes – Pedro Lussati, 'n miljoenêr en generaal in die Angolese weermag wat eiendom in Windhoek besit, is een van die hoogge­plaaste amptenare teen wie die vervolgingsgesag in dié buurland 'n klag van onder meer geldwassery aanhangig gemaak het.

Amptelike dokumente van die Namibiese aktekantoor dui aan dat Lussati, nou 43 jaar oud, op 28 Mei 2010 eiendom van 1 000 m2 in die ­Suiderhof-woonbuurt by 'n sekere me. Elia Marisa de Sousa vir N$1,2 miljoen gekoop het. Hy was toe 32 jaar oud.

Dit is onduidelik of die Angolese owerhede in dié eiendom in Windhoek belangstel in 'n poging om Lussati se verdagte rykdom terug te neem.

Verlede week het die kantoor van die Angolese prokureur-generaal (PG) aangekondig beslag is gelê op US$10 miljoen, 700 000 euro, 800 miljoen kwanza, 45 luukse woonstelle in Luanda, vyf woonstelle in Lissabon en 15 luukse voertuie.

Die Angolese owerhede het 'n sterk vermoede Lussati het nie sy rykdom bekom deur alleen te werk nie en dat die bedrae nie ooreenstem met sy verklaarde inkomste nie.

'KOFFERS VOL GELD'

Lussati, die finansiële hoof van die orkes in die kantoor van veiligheid in die Angolese presidensie, is verlede week in hegtenis geneem toe hy probeer het om die land met etlike miljoene te verlaat.

Verlede week het Novo Jornal, 'n Angolese nuusblad, berig dat Lussati in hegtenis geneem is met twee tasse met US$10 miljoen (ongeveer N$137 miljoen) en vier miljoen euro (sowat N$68 miljoen) binne-in.

Hy kon glo nie verduidelik hoekom hy dit in sy besit gehad het nie en het na bewering probeer om geld uit die land te neem.

Die kantoor van die Angolese PG het die aanhouding van Angolese offisiere in verband met die presidensie se veiligheidskantoor aangekondig.

Voor Lussati se inhegtenisname, het die kantoor van die PG aangekondig die saak word tans ondersoek. Verskeie offisiere van verskillende range in die Angolese presidentskap – Lussati ingesluit – word glo by die saak betrek en is onder verdenking van onder meer verduistering en kriminele verbintenisse.

Afrika-leiers en hul makkers word al jare daarvan beskuldig dat hulle persoonlike rykdom opgebou het deur verduistering, geldwassery en die misbruik van openbare fondse.

- Bykomende verslaggewing deur Novo Jornal

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!